ʼn Terugblik op Operasie Valkyrie

Hitler-Attentat, 20. Juli 1944

Martin Bormann, Hermann Göring, en Bruno Loerzer kyk na die skade aan die konferensiekamer. Foto: Bundesarchiv Bild/En.wikipedia.org

Op 20 Julie 1944, presies 75 jaar gelede, is daar ’n sluipmoordaanval op Adolf Hitler uitgevoer. Pierre Massyn belig hierdie aanslag op die Nazi-diktator se lewe.

Op daardie dag hou Hitler en sy generale die daaglikse operasionele vergadering in sy Wolfschanze – sy geheime hoofkwartier in die Oos-Pruisiese dorp Rastenburg.

Adolf Hitler met sy kunstenaarsoog[1] het die buitengewone vermoë gehad om verstommende detail oor mannekrag, tenks, pantsers, geskut, getalle, fabrikate van oorlogsmateriaal en beskikbaarheid van mannekrag in ’n oogwink te kon onthou.

Duitsland se posisie is benard. Die Rooi Leër is in volle aantog. In Italië moes die Fallschirmjäger (valskermsoldate) – oorwinnaars in die Slag van Kreta – ná ’n verbete stryd in Monte Cassino in Mei noord van die strategiese Gustav-linie retireer. Die een ding wat Hitler teen elke prys wou vermy, was om op twee fronte te veg – soos in die Eerste Wêreldoorlog.

Die gekombineerde magte van Amerika, Brittanje, Kanada en ander lande kom op 6 Junie 1944 op die strande van Normandië aan wal met die grootse armada wat die wêreld nog aanskou het. Die eerste soldate wat voet aan wal sit, is ’n Franse veggroep, gretig om hul land van die Duitse besetting te bevry.

Die houthut[2] in die Wolfschanze is volgepak. Die inligtingsessie moet om 12.30 begin. Saam met Hitler is twintig topoffisiere teenwoordig. Daar is gedetailleerde kaarte van elke gevegsteater. Uitgelese lede van die krygsraad is teenwoordig. Behalwe Hitler, speel veldmaarskalk Wilhelm Keitel ’n belangrike rol. Hy sal volledig aan Duitsland se opperbevelhebber verslag doen oor die gevegsituasie soos dit daar uitsien. Op grond van die kwynende beskikbaarheid van terugvallende gevegseenhede, moet daar besluit word waar Duitsland gaan vasskop, of waar hy ’n teenaanval van stapel sal kan stuur.

’n Aantreklike jong man van 36 jaar betree die hut. Hy is ses voet drie en kom uit die Duitse adelstand. Die Duitse leier herken hom. Sy volle name is Claus Phillip Maria Justinian Schenk, Graf (Graaf) von Stauffenberg. Hy is dapper, want op sy bors pryk die Duitse Kruis in goud asook die Medalje vir Verminkte Soldate – ook in goud.

In 1944 word hy aangestel as die stafhoof van die kommandeur van die Duitse Vervangingstroepe. Dit gee hom toegang tot Hitler se binnekring. Hy dra die rang van kolonel. Von Stauffenberg is ’n trotse Duitser, ’n edelman. En dit maak hom seer om sy land so te sien bloei. Hy en duisende ander landgenote kan sien dat Duitsland besig is om die oorlog te verloor. Maar hy is ook ontnugter met Adolf Hitler se leierskap.

Von Stauffenberg is vermink. Waar sy linkeroog moet wees, is ’n swart oogklap. Sy regterhand is afgeskiet. Twee van die vingers aan sy linkerhand is weg. Von Stauffenberg, ’n aristokraat, is die “sneller” van die Kreis (die sirkel van samesweerders wat besluit het genoeg is genoeg). Hitler moet sterf, al kom dit neer op hoogverraad.

Onder die voorwendsel dat hy ’n skoon hemp moes gaan aantrek, glip Von Stauffenberg uit die konferensiehut. Dit is slegs met die grootste omsigtigheid en geduld dat die voornemende sluipmoordenaar nou die bom in Keitel se waskamer met drie vingers kan aktiveer. Versigtig dra Von Stauffenberg die aktetas met sy dodelike inhoud onder sy arm.

Ek kon die beskrywende byvoeglike naamwoord “tikkende” vir die bom hier gebruik het, maar daar was nie ’n wekker of horlosiemeganisme ter sprake nie[3].

Sorgvuldig plaas hy die aktetas onder die stewige eikehouttafel wat as podium dien, so naby aan Hitler as wat hy kan. Oomblikke later verskoon hy homself vir ’n denkbeeldige telefoonoproep. Kort daarna word die bunker deur ’n oorverdowende ontploffing geskud. Von Stauffenberg se hart ruk. Kan dit wees? Hitler is dood! Die eerste deel van Operasie Valkyrie (Unternehmen Walküre) het suksesvol afgeloop. Von Stauffenberg maak hom uit die voete om die blye tyding aan die ander lede van die Kreis te deel. Sy vernaamste makkers is majoor Axel von dem Bussche, generaal Helmuth Stieff en Henning von Tresckow – stafhoof van die Tweede Leër – wat angstig op nuus van die beplande sluipmoord wag.

Maar Hitler is nie dood nie. Hy sou minstens vyftien aanslae op sy lewe oorleef. Ons hoor later een van die offisiere teenwoordig, kolonel Heinz Brandt, het op die laaste oomblik die tas in die Wolfschanze (Die Wolf se lêplek) tot langs die swaar tafel se een poot geskuif. Dit het Hitler gered. Vier mense is in die ontploffing dood en almal teenwoordig is gewond.

Nou loop die storie dat Hitler self begin glo het hy is onsterflik. Maar hy neem verskriklike wraak. Almal wat moontlik, selfs net by implikasie by die komplot betrokke mag gewees het, word in hegtenis geneem. Byna 20 000 Duitsers, talle van hulle onskuldig, word tereggestel of na konsentrasiekampe gestuur. Sommige word aan klavierdraad opgehang en hul doodstuiptrekkings word verfilm. Stellig Duitsland se knapste en dapperste offisier, Erwin Rommel, wat Hitler persoonlik tot veldmaarskalk bevorder het ná sy klinkende oorwinning in die slag van Tobruk, word gedwing om selfmoord te pleeg.

En Von Stauffenberg? Hy word tydens sy inhegtenisneming in die skouer gewond en sterf die volgende dag, 21 Julie 1944, om eenuur die oggend, voor ’n vuurpeleton. Saam met hom word kolonel Albrecht Mertz von Quirnheim, generaal Friedrich Olbricht en eersteluitenant Friedrich von Haeften ook tereggestel. Die man wat hulle laat arresteer het, was sélf ’n samesweerder wat sy eie bas wou red: Generaal Friedrich Fromm.

Indien Operasie Valkyrie geslaag het en Duitsland het, byvoorbeeld, onmiddellik die wapen neergelê, sou dit ongetwyfeld honderde duisende lewens gered het. Dis egter ’n onweerlegbare feit dat Rusland nie in sy opmars sou gestop het voordat sy soldate Berlyn ingeneem het nie.

In die proses neem die Rooi Beer ’n verskriklike wraak vir Hitler se Operasie Barbarossa: na raming word daar tussen 100 000 en een miljoen vrouens en jong meisies van alle ouderdomme verkrag. Die rolprent Eine Frau in Berlin (’n Vrou in Berlyn) met Engelse subtitels, laat die kollig op hierdie tragiese episode val.

Die oorlog het voortgeduur tot die bitter einde. Duisende Duitsers sluit by die Franse Vreemdelegioen aan en word in Indo-China ontplooi[4]. Hulle was gelukkig. Dié wat na krygsgevangenekampe in Siberië en elders in Rusland gestuur is, het byna sonder uitsondering weens wrede dwangarbeid en siektes soos tifus (tronkkoors) ’n doodsvonnis gekry.

Die Weste het begin spoedig begin besef Rusland is die ideologiese vyand. Nog voor die oorlog beëindig is, is op die Yalta-kongres wat in Februarie 1945 gehou is, tussen die wêreldleiers Roosevelt, Churchill en Stalin, besluit dat hulle met niks anders as Duitsland se onvoorwaardelike oorgawe tevrede sal wees nie. Die drie menere kon toe reeds sien hoe die kaart van Europa daar sou uitsien ná Hitler verslaan is.

Feitlik die hele Oos-Europa sou nou binne Stalin se kommunistiese invloedsfeer val.

  • Pierre Massyn is ’n navorser, amateurhistorikus en voormalige lid van die Suid-Afrikaanse Oorlogsgraftekommissie.

Bronne:

Voetnotas:

[1] Adolf Hitler was ’n aspirerende kunstenaar wat argitektuur bewonder het, soos Albert Speer in Inside the Third Reich getuig.

[2] Weens die warm weerstoestande, is daar besluit om die konferensie nie in Hitler se bedompige versterkte bunker in Wolfschanze te hou nie, maar in ’n nabygeleë houthut. Hierdie verskuiwing van vergaderplek het na alle waarskynlikheid ook meegehelp dat Hitler die ontploffing oorleef het.

[3] Met sy oorblywende drie vingers gebruik Von Stauffenberg ’n tang om ’n potloodontsteker te aktiveer wat in ’n blok plastiekplofstof van een kilogram (toegedraai in bruin papier), verpak is. Die ontsteker bestaan uit ’n dun koperbuis wat koperchloried bevat wat sowat tien minute sou duur om deur die draad te vreet wat die slagpen van die ontstekingsdop weghou. Die meganisme is voorberei deur Wessel Freytag von Loringhoven. Die Graaf wou ’n tweede bom aktiveer, maar hy is onderbreek deur ’n klop aan die deur van ’n wag wat hom gesê het dat die konferensie sou begin. Die tweede bom, ongeaktiveer, gee Von Stauffenberg aan sy persoonlike adjudant, Werner von Haeften.

[4] Vergelyk Devil’s Guard deur George Robert Elford. Dit vertel die ware verhaal van ’n SS-soldaat, Josef Wagemueller, wat hom ná die oorlog by Frankryk skaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jon ·

My oupa groeitjie was deel van Operation Valkyrie, uitstekend geskryf!

Melt Olckers ·

Die gebeurtenis wys in hoe ‘n mate die Duitsers self moeg was vir die oorlog en Hitler. Von Staufenberg se aksie is deel van die eksamen waardeur Kandidaat Offisiere gekeur word in Duitsland vandag, en daar word van Offisiere verwag of soos hy te wees. Regtig ‘n merkwaardige verhaal.

Dorothy ·

Pierre, dankie dit was nou goed geskryf. Ek dink terug na my geskiedenis klas 1976 Mnr Du Plooy wat vertel het dat Adolf Hitler gesterf het aan aambeie in die Koue oorlog. Hulle mag seker nie daardie tyd die waarheid vertel het nie.

koos ·

Dorothy, kyk gerus die reeks Hunting Hitler, jou mnr. du Plooi was miskien nie so verkeerd soos jy dink nie.

KrokodilBotha ·

Dink die wereld sou beter uitgedraai het as die Duitsers gewen het. Totaal verslaan en kyk na Duitsland vandag. Alles werk en is opgebou in rekord tyd.

Fanie ·

Skitterend geskryf, baie dankie! Montgomery het tereg gesê die aandrang van onvoorwaardelike oorgawe was ‘n geweldige fout. Dit het Hitler se posisie versterk, omdat die Duitsers toe geen keuse gehad het om aan te hou veg. Europa is so stukkend geskiet, die Sowjets het die Oosblok beset, en miljoene is gedood. Dis ook hoekom die Offisiere se opstand nie groter steun gekry het.

A.Smith ·

Ek het Devils gaurd seker al driekeer deurgelees.Fantastiese ware feitelike storie wat met onverbloemde eerlikheid geskryf is,voorwaar baie interesant

Hans Richardt ·

Die verskil tussen adelstand afkoms en plebs, waarvan Hitler en Himmler deel was.
Russiese weermag het grootste deel van magtige Duitse leër vernietig. Ek gee Russiese weermag die eer wat hul verdien.

Jan ·

Hans jy slaap ou maat die russe beteken niks behalwe wtede kimmunisme en plundering van die weste se tegnologie nie.

Jan ·

Wrede kommuniste en konsentrasiekampe en vernietiging van die cheistendom…

Herman G ·

Baie interessante gedeelte van die geskiedenis. Hitler het ‘n oorlog aangepak wat hy ‘n baie, baie skraal kans gehad het om te wen.
Dit is ook interessant hoe voormalige Duitse offisier na die oorlog geweldig teen Hitler ten velde getrek het, en hom basies as ‘n idioot uitgemaak het. Bewyse kom nou uit dat hulle nie so onskuldig was nie.
Byvoorbeeld, Von Stauffenberg het dit verwelkom to Hitler Kanselier geword het. Hy het wel later sy houding verander. Ook in heelwat (maar nie alle) gevalle was Hitler se militêre besluite meer korrek as wat sy offisiere te kenne gegee het.

‘n Paar ander opmerkings: Ek dink ten minste ‘n miljoen Duitse vroue is verkrag, maar ek skat dit meer. Die wraak wat die Russe op Duitsland uitgevoer het, was iets verskriklik.

Beide die Duitsers en die Russe het baie dapper geveg, maar op die einde het die Duitsers teen die hele wêreld geveg, en dis ‘n geveg wat hulle nie kon wen nie. Om een voorbeeld te noem, kyk hoeveel tenks en vliegtuie het die Duitsers, Italianers en Japanese vervaardig teenoor die VSA, Rusland en Brittanje.

Die meerderheid Duitse soldate was verafsku toe hulle hoor van die komplot op Hitler se lewe, die samesweerders was maar ‘n klein groepie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.