‘n Vrolike uitkyk

Melkkanne

Moenie dat jou kommentaar op sosiale media die melk of room suur maak nie, skryf Hannes Noëth. Foto: Arusticgarden.com

Gereeld het die twee rye kanne so gestaan – dit was nie ‘n vreemde gesig nie: Die een ry was melkkanne en die ander roomkanne. Die room en melk was netjies van mekaar geskei en gereed vir weggeneem deur die melktrein.

Op die plattelandse Vrystaatse stasies was die wegry van hierdie melkkanne en roomkanne ‘n algehele bekendheid. Vandag het die room- en melkkanne versamelstukke geword. Hulle word mooi geverf en verbrons en soms vol blomme geplant. Elke melk- en roomkan verswyg soveel stories uit gister se dae.

Dit is by hierdie rye kanne wat so gestaan het wat daar ‘n Vrystaatse sêding ontwikkel het. Soms het hulle sommer met ‘n tannie gespot, soms was daar ‘n knypie by die spot, soms was dit eerlik bedoel maar in ‘n grap gesê. Wanneer iemand voordurend gekla het en oordryf het, aangegaan het en sommer net moeilik was is gesê: “Sy moenie nou by daardie kanne verby loop nie, die melk sal suur word.” Of soms is dit andersom gebruik, dan het die melk bietjie lank in die son gestaan en suur geword, dan is daar gesê: “Hierdie of daardie het alweer by hierdie kanne verbygeloop, proe net hoe proe die melk.”

So is gespot in vergange se dae, maar daar het tog baie waarheid in gesteek. Party mense kan darem maar rêrig suur wees. So suur, dat ‘n mens sou glo hulle sal die melk suur maak as hulle daar verby loop.

Hulle kla en niks is net ooit reg nie. Dit is voortdurende kritiek die kant toe en dan weer daardie kant toe. Met ‘n vergrootglas word gesoek na redes hoekom dit nie maar ‘n bietjie goed kan gaan nie, hoekom ‘n mens moet kla. Vandag is ‘n melk- en ‘n roomkan ver van ons bestaan.

Ons Facebook en Twitter en sosiale media dag vir dag. Goeie kommunikasie, maar let ‘n bietjie op: Sjoe, ons ou nasie kan darem maar kla. As ‘n mens moet begin voorbeelde noem sal jy nooit ophou nie. Dit voel partykeer of daar vir elke tien negatiewe dinge darem een mooi ding gesê word.

Agge nee wat, so erg is die lewe darem ook nou nie. Laat ons in hierdie maand so ‘n bietjie digitale drukkies uitdeel, so ‘n bietjie digitaal mekaar moed inpraat, so ‘n bietjie die silwerrandjies om die donker wolkies soek (skuus Eskom!).

Voor ons ‘n boodskap plaas moet ons dalk leer vra: Het ek nou gekla of darem iets sinvols gesê? Miskien moet ons die
ou sêding so ‘n bietjie aanpas: Daardie een is so negatief hy laat my Facebook hang en maak my Twitter stom.

Hiermee dan ‘n vrolike, nie-klaende digitale drukkie vir jou.

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

anet ·

Wat ‘n heerlike varsheid en koelheid van vrede het nou in my binneste kom le. Hierdie boodskap is vir my ‘n wonderlike Digitale drukkie. Baie dankie

Magda van Niekerk ·

Baie dki. Was voowaar ‘n heerlike stukkie leesstof.

Magda van Niekerk ·

Baie dki. Was voorwaar ‘n aangenamer stukkie leesstof.

Nelia Brooks ·

Die ‘digitale drukkie’ was baie welkom. Ek stem saam dat ons te foutvinderig is en daardeur verloor ons die perspektief van belangriker dinge! Ons moet altyd onthou dat dit wat hier gebeur (die negatief van hierdie lewe) net tydelik is… kom ons geniet dit (die vreugde wat onderliggend is) want vorentoe (hiernamaals) lê veel groter dinge! Groete vanaf Naboomspruit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.