’n Wêreld vol wonderwerke

wonderwerk

Foto: Thetruthisfromgod.com

Ek en my vriend Gert sit verlede week op die strand in Mabibi terwyl die son sak. Ons verwonder ons aan die feit dat alles wat ons sien bestaan uit dooie atome, wat 99,9% uit leë ruimte bestaan. Nie net ons, die see en die son nie, maar ook die seestrome en die winde wat al vir miljoene jare die ritmes van seisoene volg. Ons gesels oor dooie goed wat op die regte tyd op die regte manier beweeg en oor die wonder van nuwe lewe.

Vanoggend ontmoet ek vir Eduan. Hy is gister gebore. ʼn Volledige nuwe mens op die ou aarde. ʼn Wonderwerk in elke sin van die woord.

Soms is dit nodig om tot stilstand te kom en vir ʼn oomblik op een enkele wonder te fokus; dit fyn dop te hou. As jy jou weer kry, sien jy wonders oral om jou.

Dis nodig want dit gebeur met al die liggies en geraas só maklik dat ons kyk en nie sien nie, en luister sonder om te hoor. En dat die wonders van hierdie wêreld by ons verbygaan.

’n Ou vertel eenkeer vir sy vriend hoe sy kar op ʼn verlate pad in Namibië gaan staan het. Hy was alleen, verduidelik hy, met te min gereedskap en amper geen water.

“Wat doen jy toe?” wou sy vriend weet.

“Toe bid ek maar dat die Here sal ingryp en my help!”

“En hét die Here jou toe gehelp?”

“Nee,” antwoord hy, “voor die Here my kon help, daag daar ʼn ou met ʼn tou-trok op en sleep my op sy eie koste na die volgende dorp.”

Iemand het eenkeer gesê toeval is wanneer God besluit om anoniem te bly.

My eie geloof is eenvoudig té klein om te glo dat alles, ook die woorde wat ek hier neerskryf, bestaan, bloot omdat niks op ʼn dag toevallig ontplof het. Dat die deeltjies van atome per ongeluk so om mekaar spin.

Die wêreld is vol wonderwerke. Dis oral waar jy kyk. Jy moet eintlik aspris wees om dit te mis!

In die woorde van Albert Einstein: “There are only two ways to live your life. One is as though nothing is a miracle. The other is as though everything is a miracle.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dawie ·

Mooi gestel. Ek is nie ‘n wetenskaplike nie maar bevraagteken die term “dooie atome.” Ek dink dit sal meer van pas wees om te se die atome het nie lewe nie alhoewel daar beweging in hulle is soos die elektrone en protone ens.

RITA ·

Stem saam. Die dae van wonderwerke is nog lank nie verby nie. As jy regtig positief daarop ingestel is sal jy elke wonderwerk kan raak sien en vanaand as jy bid kan dankie se daarvoor al het dit nie op jou as mens betrekking nie.

h ·

Jip ek stem saam. Daar gebeur baie meer wonderwerke van dag as ooit. En geen mens kan maak wat God gemaak het vir die mens om te geniet. En dit is lekker om te lewe en alles om jou te kan geniet en te kan aanskou wat ons Skepper vir ons gegee het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.