Newlands Rotariërs help Kaapse brande bestry

Die lede van die Rotariërs van Newlands in Kaapstad. Foto: Verskaf

Die lede van die Rotariërs van Newlands in Kaapstad. Foto: Verskaf

Die Kaapse Skiereiland het pas ʼn noodreaksievoertuig as geskenk gekry waarmee brande in die gebied bestry kan word. Kaapstad en omstreke gaan die afgelope tyd gebuk onder hewige veldbrande.

Die skenking volg nadat Colin Burke, die president van die Rotariërs in Newlands, ongeveer twee jaar lank met borge onderhandel het oor die belangrikheid van en die behoefte aan só ʼn voertuig.

Dié voertuig is geskenk aan die noodbystandondersteuningsgroep in die Kaapse Skiereiland.

Volgens Burke neem nooddienste gewoonlik meer as 40 minute om by ʼn brandtoneel op te daag weens ʼn groot tekort aan voertuie. “Sonder die onbaatsugtige hulp van die ondersteuners, veral Isuzu, sou die projek nie moontlik gewees het nie. Ons is nou in staat om ʼn ten volle toegeruste, veeldoelige voertuig aan die noodbystandondersteuningsgroep in die Kaapse Skiereiland te skenk. Dié voertuig gaan gemeenskappe van Claremont tot Kaappunt, en van Masiphumelele tot Ocean View tot Redhill bedien,” het hy gesê.

Davin Chown, ʼn lid van die noodbystandondersteuningsgroep, het gesê die skenking van dié voertuig gaan nooddienste in staat stel om baie vinniger te reageer. “Die hele gemeenskap gaan daarby baat,” het hy gesê. “Ons kan gemeenskappe vinniger bystaan met noodgevalle en om brande te bestry terwyl daar gewag word vir groter ondersteuningspanne om te arriveer.”

Die Rotariërs is ʼn wêreldwye span vrywilligers met meer as 1,2 miljoen lede en meer as 34 000 Rotariër-klubs in 200 lande. Dié groepe probeer onderskeidelik gemeenskappe se humanitêre probleme verlig of oplos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tippie Bouwer ·

Sjoe wens daar was so een ook vir die Eden streek .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.