‘n Oscar wink vir ‘Noem my Skollie’

noem-my-skollie-fotoDeur Yolanda Wessels

Noem my Skollie, die rolprent wat veral die lewe in gemeenskappe op die Kaapse Vlakte na die silwerdoek bring, is pas aanvaar in die Awards Buzz-kategorie van die Palms Springs- internasionale rolprentfees in Kalifornië, VSA. Die fliek is in September uitgereik.

Daar is ook onlangs aangekondig dat dié prent Suid-Afrika se amptelike inskrywing is vir die 89ste Academy-pryse, ook bekend as die Oscars, in die kategorie beste fliek in ʼn taal anders as Engels. Die Oscars word op 26 Februarie toegeken.

Dié prent met ʼn outobiografiese draaiboek deur John W Fredericks en met regie deur Daryne Joshua, is die vervaardiger David Max Brown se eerste vollengte rolprent. In reaksie op die benoeming vir die Oscars het Brown gesê dit is ʼn eer om as aanspraakmaker op dié goue beeldjie gereken te word. “Jy kan seker wees ons hele span gaan ons bes doen om teenwoordig te wees op die Oscar-prysaand.”

Boonop is Brown en sy span hoopvol vir ʼn Golden Globe-benoeming.

Brown is in Johannesburg gebore en het in verskeie lande gewoon en gewerk, onder meer Brittanje, Tanzanië, Kanada en Swaziland. “Dié ervarings het bygedra tot ʼn wêreldperspektief wat ek koester en wat reflekteer in my karakter, my verhoudings en begrip in my werk wanneer ek met mense van verskillende kulture werk en uiteindelik in die rolprente wat ek vervaardig.”

Hy is die vervaardiger van verskeie bekroonde dokumentêre programme, waar onder ook dié wat sensitiewe onderwerpe en humanitêre kwessies insluit. “My ouers was by politiek betrokke gedurende die 1950’s en 1960’s in Suid-Afrika en dit is die rede waarom my familie in ballingskap gegaan het in die 1960’s.”

Brown het met ʼn ANC-beurs die geleentheid gehad om in Kanada ʼn graad in filmkunde te behaal. “Nadat ek my graad ontvang het, was ek onafhanklik van dié organisasie, maar dit was nog altyd projekte met ʼn dieper politieke en sosiale bedoeling wat my aandag bly prikkel. Dit is hierdie potensiële sosiale en politieke impak wat my aandag gevestig het op my eerste vollengte prent, Noem my Skollie.

Fredericks het sy aanvanklike draaiboek vir Brown gewys, met die oog op ʼn trilogie rolprente beginnende met die slawehandel in Madagaskar, die eeuwenteling in Kaapstad en die laaste gedeelte oor die 1960’s. “Ek het onmiddellik die waarde van die volledige storie raakgesien, maar John se unieke skryfstyl het my opgeval. Ons het besluit om die elemente van al drie stories in een storie te vervat.”

Daar was heelwat kritiek vooraf, maar nietemin het hulle deurgedruk met die projek. “Dié projek is nie net ná aan my hart nie, dit het my hele lewe oorgeneem die afgelope vyf jaar – in terme van verfilming, vervaardiging en bemarking. Ek en John het van 2002 saamgewerk aan dié projek en het goed bevriend geraak.

“Van die begin af het sy storie my geboei asook sy vermoë om ʼn gehoor se aandag te behou op ʼn outentieke en verfrissende manier.” Brown gee toe dit was ʼn uitdaging om ʼn outobiografie te verfilm – “omdat alles werklikheid en persoonlik is en nie net fiksie nie”.

Ondanks die meriete van die storie was dit ʼn uitdaging om finansiers betrokke te kry. Nietemin het Fredericks onverpoosd aanhou werk en skryfkursusse gedoen om sy droom te bewaarheid. Die aktrise Moshidi Motshegwa het sowat drie jaar gelede betrokke geraak as teksredakteur nadat sy onmiddellik aanklank gevind het by die verhaal asook by Fredericks se manier van skryf.

“Daar is soveel talentvolle mense betrokke by hierdie produksie omdat Fredericks se lewe dié van ander op die Kaapse Vlakte eggo – van die regisseur Daryne Joshua tot die meeste lede van die kreatiewe span.

“John se vrou met wie hy al vyftig jaar getroud is, Una, was ʼn ongelooflike bron van inligting en aanmoediging tydens verfilming,” sê Brown. “Dit het dit vergemaklik om skielik besluite te kon neem oor wat ons kon fiksionaliseer, maar ook om die kern van die realiteit te behou.”

Tans in sy 13de week op die plaaslike kringloop het soveel as 75 000 mense Noem my Skollie al gesien. Die fliek is van 2 Desember beskikbaar op DVD.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.