Nóg ’n jaar

ignatius-erasmus-facebook

Ignatius op sy perd. Foto: Facebook

Deur Ignatius Erasmus

Wragtig, so is nog ’n jaar weg op die kimme. Ek kom uit ’n huis waar ons net Geloftedag en Kersfees gevier het, let wel sonder geskenke, ons is maar stoere doppers. Verjaarsdae was maar ’n dag van handskud en goeie wense en dalk ’n snysel koek.

Toe trou ek ’n vrou, elke dag moet gevier word. As my hoenders begin eiers lê, dan wil sy ’n opskop op die plaas hou. As ’n kind kon poog om een nag deur te trêk, sonder om te skrou vir ’n bottel melk of ’n vars doek, dan kan ek maar weet. Daar sal een of ander vorm van jolyt gereël word.

So nodeloos om te noem. Die koms van ’n verjaarsdag word ingewag, soos die eerste reent as November se wind nog net stofsuile, oor ons kom karos maak het.

Vanoggend, toe die kapokkie agter my huis sy vere nog vir laas opdons en begin werk aan sy môresang, toe word ek met koek en biltong omgord. Die vrou en hond en kleinspan is meer opgetrêk met die donker kersblasery as my selwers. Om die waarheid te sê, ek het jou wrintie nie eens my eie kerse uitgeblaas nie. Kalinka het daai werk so oorhoeks van my berowe.

Dit alles het my laat dink. Ek is nog so jonk, maar selfs die tyd begin my nou ook so bietjie aan die hand vat. Ek bekyk my gesig vanoggend so in die spiegel. Ek kan sweer die lagplooitjies om my oë keep dieper. Dit sit daar soos die spoor van ’n tarentaal op my gelaat. My neus het beduidend skade opgedoen. As kind kon ek ooms met sulke groot bloedrooi sonvernielde neuse onthou. Die son het hom hervorm. Seker maar ook ’n knêrts of twee. Só neus sou dan ook so growwe tekstuur soos ’n stukkie bas hê. Ek is nog nie heeltemal daar nie, maar die opkoms lyk goed. My beloning lê op my horisonne van môre. Ek moet die pad net nog so stukkie stap.

My baard begin al grys deurskemer. Eers skelm het die hare hier op my ken verkleur. Net so ou kolletjie, maar ná dese is ek al gladweg grys gepeper, ek begin soos ’n skimmel hings verhaar. My vrou kla dan ook soms. Daar groei nuwe hare uit my neus en selfs op my skouers begin daar so lieflike fyn dons wortelskiet. So sag soos ’n jong tefland. Dis goed, dis lewe.

Ná ek na die welstand van my voorkoms verneem het, het ek my self begin paai. Ek ry enige jong perd nog steeds dat sy spiere kabbel soos slange onder sy vel. Ek kan nog met my naakte oog my .303 se gaatjievisier op enige teiken trêk. Ek kan selfs ’n hele nag op die kale grond slaap, sonder om vroegdag te begin kla oor pyn. My heupie pla wel en my ou enkel gee my so nou en dan die Leviete, maar daai is mos maar eintlik estetiese komponente. Ek is orraait.

So met die boekevat vanoggend het ek Prediker 3 gelees. Alles het sy bepaalde tyd, en dis goed en rein om die dinge te wis. Alles wat is, was al gewees en sal weer wees. Dis dinge wat my saans wakker hou.

Ek is onseker oor my toekoms, ek is onseker oor jou toekoms. My wit vel hang soos ’n beskuldiging oor my skouers. Ek kry seer as ek die moedeloosheid onder ons mense sien. Ek word woedend as ek lees van nóg ’n moord, as ek hoor van ongeregtigheid. Ek sien kinders verwese, oor hulle te wit is vir hul skool se sportspan, en ek swyg. Want ek is besig om myself vas te praat. Ek is lief vir praat. Maar ná dese wil ek myself snoer. Want my woorde is maar net flippen woorde.

Ons spring rond op podiums en natuurlik op sosiale blaaie. Ons probeer red en opsweep en smeek. Tog op die ou end bly ons situasie tense en benard. Die moorde neem toe, die droogte bly knel en die rand bly val.

Maar ek en jy is nog hier. Dis ons tyd, dis die smeltkroes wat ons moet deurstaan. Dit gaan gestalte gee en dit gaan uitkoms bied. Prediker het ons die dinge lank reeds geleer. Ons moet maar net weer berusting vind in die kristalhelder woorde van die Woord. Dis mos waters van lewe.

Ek is 28, ek is jonk en dankbaar. My vriende het al genoem ek is 70 in my hart. Ek vat dit as ’n groot kompliment. Ek kan net bid ek bewandel die lieflike aarde vir so lank.

Ek was by ’n boeredag laasweek. Daar was boere-ooms van 80+ wat ’n sertifikaat ontvang het. Ons het dit goed gedink om die ou bulle net ’n oomblik se respek te betoon. Hulle het die bakens uitgekap, soos ons dit vandag ken. Soos hulle verby my geknars het om voor te kom, was my gemoed vol, want die eens kragtige bene het bleek hul weg uitgewankel. Selfs hul stemme was teer en fyn, soos die oggenddou. Voor ons het hulle gestaan, moeg en deurwinterd en ek weet hulle was gister nog maar net 28.

Dankie vir algar wat die dag vir my mooi gemaak het. My lieflike vrou en kinders. My naaste familie en skoonfamilie. Elke vriend en kennis wat ’n oomblik uit jou dag gevat het om met my bemoeienis te gemaak het. Ek dink vandag dan ook so baie aan my ou groot vriend Quintus wat ons vooruit gegaan het. Ek wens so hy kon my vir laas uit Matimba se verkeer bel om my geluk te wens en te nooi vir ’n vleisie na werk.

Vergewe my al die taal en spelfoute. My “spel tjekker” lê al die laaste 2 ure, onsamehangend en mompel in haar slaap.

Ek los julle met die pragtige woorde van NP van Wyk Louw:

Vroeg herfs

Die jaar word ryp in goue akkerblare
in wingerd wat verbruin… en die eerste blare val
so stilweg in die rook-vaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O, Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Vleisman ·

En ek kan met trots sê dit is my groot boesem vriend wat sulke mooi woorde vaspen. Trots op jou my vriend.

Annelie Wessels ·

Geluk Ignatius! Jy mag ouer wees, maar jyt nog lank nie jou slag verloor nie!

Stephan de S ·

Kan nie dink sulke mooi gedagtes kan uit n gryswordende 28-jarige man se mond kom nie. Dis verheffend……..so klink n christen afrikaner boer!

Agie ·

Dankie, dankie
Dit vir my kleindogter en my man voorgelees.
……..met ‘n lekker knop in my keel

willem Botha ·

Dit is nou wat jy n volbloed afrikaner noem ,ek was altyd onder die indruk net ek voel so.

Deon ·

Hoe lekker was dit nou om so iets te lees en terug te verlang na my eie jong jare!

John ·

…. nog vyf jaar… moes hy eerder sè. En die spul wil glo eerste die wynplase takel. Net een raai. Hoekom? Die antwoord is die kruks van die hele debakel om wit-eienaarskap.
Die 1994-dwaasheid kan vergelyk word met ‘n boer wat oortuig word om met die komando-wurms wat in aantog is, te onderhandel… om tog net so hier en daar, met toestemming natuurlik, ‘n happie te vat en dan aan te skuif… En moet tog nie te morsig te werk gaan nie, asseblief tog, my naaste…

Marita Nunes ·

Fantastiese samevatting van ons diepste gevoelens. N jong Afrikaner boer. Hou aan skryf

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.