STROOP – journey into the rhino horn war is Dinsdagaand as beste langformaat-omgewingsvideo by die jaarlikse omgewingstoekennings van die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) aangewys.
Die pryse, wat reeds drie dekades lank uitgedeel word, het ten doel om Suid-Afrikaanse joernaliste te erken wat omgewingskwessies deur die gedrukte, elektroniese en digitale media uitlig.
Bongani Bingwa, die seremoniemeester by vanjaar se geleentheid, het gesê dit was ’n eenparige beslissing om hierdie hartroerende Suid-Afrikaanse dokumentêre rolprent te vereer wat opnuut wêreldwye belangstelling in renosterstroping aangewakker het en op talle filmfeeste asook TV-kanale oor die hele wêreld vertoon is.
Dit is die 25ste prys wat Susan Scott en Bonné de Bod, die filmmakers van STROOP, ontvang het.
“Natuurlik is al die internasionale pryse wonderlik, maar die erkenning op eie bodem is net so belangrik. Dit is ’n uiters gesogte toekenning en word al langer as 30 jaar deur SAB toegeken. Dit plaas die fokus weer vierkant op renosterstropery te midde van al die ander omgewingskwessies – daarvoor is ek ontsettend dankbaar,” het ʼn emosionele De Bod gesê.
Een van die karakters in die film, Karen Trendler, is vereer met die Nick Steele-gedenkprys vir omgewingsbewuste van die jaar. Dit is ook die hoogtepunt van die jaarlikse prysuitdeling.
“Hoe wonderlik is dit dat Karen weereens erkenning gekry het vir haar 30 jaar lange onbaatsugtige diens vir die versorging en rehabilitasie van wilde diere,” het Scott gesê. Sy het bygevoeg Trendler skuur skouers met ander omgewingsbewustes soos Lewis Pugh, die VN-beskermheer vir die oseane, en Gareth Patterson, ʼn kampvegter vir leeus.
Dit is die eerste kontantprys wat die filmmakers vir die film gewen het en Scott het gesê hulle kies om dit met hul ma’s te deel by wie hulle ingetrek het tydens die vier jaar lange verfilming van STROOP.
STROOP is reeds amptelik by meer as 30 filmfeeste vertoon en die dokumentêre rolprent neem die kyker op ’n wipwa-rit tussen Afrika en Asië.
De Bod en Scott het hulle in die voorste linies van die renosterstropingskrisis ingegrawe, waar hulle eksklusiewe toegang kry tot die ontvouing van die oorlog. Die twee vroue, wat aanvanklik ses maande opsy gesit het vir die projek, het hulle egter vinnig bevind in ʼn wêreld veel gevaarliker as wat hulle hulself voorgestel het, en eers vier jaar later die eindpunt bereik.
STROOP verdien elke toekenning wat dit kan kry. Ongelooflike werk deur twee formidabele vroue en hulle span. Die ondersoek werk in Asië was senutergend vir my as kyker. Baie geluk ook aan Karen Trendler met haar toekenning. ‘n Ware ikoon in Suid-Afrika se omgewingsbewaring en wild rehabilitasie. Mag julle almal van krag tot krag gaan; veral vir ons beleërde renosters.
My hart was vir dae seer nadat ek hierdie film gekyk het. Dit was tot op hede die mees ontstellende film wat ek gesien het. Die boodskap oor die verskriklike lot van ons renosters was absoluut aangrypend. Hierdie film verdien elke toekenning wat hulle kry.
Mag dié bewusmaking help met die bekamping van renosterstropery want hierdie reuse diere is uitgelewer aan die wreedste, mees gewetenlose skepsels wat moeder aarde betree.