Nou bedel ons almal Boontoe

droogte-02

Foto: Pexels/Pixabay.com

Deur Ludwig Visser

Ons woon hier op Vanrhynsdorp op die kruispad. Verskeie roetes loop hier deur of net verby ons dorp. Ons is gewoond daaraan dat hier mense kom aanklop om hulp. Partykeer is dit ʼn geregverdigde hulpsoekery, meestal net ʼn bedelry.

Maar so dan en wan is dit ʼn aankloppery wat ʼn mens hartseer laat.

Onlangs kom klop hier iemand een middag aan. Dis toe ʼn bouer van Calvinia, ʼn baie eerlike en bekwame bruin bouer wat al baie werk hier vir my en op my aanbeveling ook vir ander mense op die dorp gedoen het, en ek is verbaas om hom te sien. Ons groet en verneem so bietjie na mekaar se welstand, maar ek wonder steeds hoekom hy hier is.

Toe raak hy so ʼn oomblikkie stil en vra sag: “Het meneer dan nie vir my bietjie water nie.”

En met daardie vragie het hy ons hele omgewing se probleem opgesom: Ons soek water, want so droog soos wat dit nou hier in Namakwaland en die Boesmanland is, het ons baie lanklaas beleef. Ons soek ook net bietjie water.

Hy verduidelik toe verder dat hy op Vredendal gewerk het en nou op pad is huis toe, maar hy weet: By die huis is daar vanaand geen water nie. Hul dam is lankal kurkdroog. As hulle water wil hê, moet hulle dit iewers gaan haal.

My gemoed het vol geskiet en ek het hom woordeloos gehelp om met die tuinslang ʼn 50 ℓ-kan wat hy op sy bakkie het vol te tap. Ten minste, het ek geweet, hy en sy mense by die huis sou daardie aand water hê om hul dors te les.

Net soos daardie bouer kyk ons ook elke dag op, bedel ons amper of daar nie dalk vir ons water op pad is nie. Ons huistuine is heeltemal verdroog en ou, gevestigde bome op ons werwe gaan dood van die droogte. Ons dam by Clanwilliam het nog net so effentjies water. Ons mag water nog net vir huishoudelike behoeftes gebruik, vir niks anders nie. Die reënwatertenks waarin ons die vorige winter water opgegaar het, is ook al leeg. Ons vang elke druppel water in die huis in die opwasbakke op en gebruik dit om iets buite aan die lewe te probeer hou. Ons spaar, en ons bid en ons glo.

Ons glo daar sal reën kom. Ons glo Namakwaland sal nog vanjaar weer blom. Ons glo ons hemelse Vader sien ons situasie, hoor ons smekinge. En ons 50 ℓ-kan sal ook nog weer volgetap word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

pamela Woest ·

Dit maak my hartseer. Water is die mees waardevolle ding om te he…..

jean ·

Pleit…en laat ons ons harte tot Hom bekeer sodat Hy weer ons God oor hierdie land sal word.

Lena Jonk ·

Ons bid ook vir julle daar, julle is sulke pragtige en opregte mense, Jesus sal vir julle uitkomste gee, daar sal vir julle water uit die hemelse sluise kom.

Aitoggie ·

Maroela, kan daar nie n artikel geplaas word, waarin ons almal weer vra om water na n sekere punt in elke dorp te neem, waar dit afgehaal kan word nie?? Dan kan mense wat afry Kaap toe, ook sommer n paar bottels oplaai. Ons het dit mos al gedoen, verlede jaar?? Regtig ons hierin die Tvl kan gerus water afstuur Kaap toe. Elke bietjie sal help.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.