‘Nou kan my seuntjie ʼn normale lewe hê’

Jayvan en sy ma, Carin (Foto: Facebook)

Jayvan en sy ma, Carin (Foto: Facebook)

Eers is haar man in Drie Riviere, Vereeniging, oorval, geskiet en later dood. Dít nadat die gesin skaars twee weke in dié nuwe huis was. Toe kom nóg slegte nuus: Haar seun is gediagnoseer met beenkanker. Met sewe kinders onder een dak en nét een salaris was Carin Janse van Rensburg telkemale raadop. Toe stel die dokters ʼn ultimatum: R1 miljoen vir ʼn operasie om sy lewe te red of sy moet afskeid neem.

Nadat mense landswyd hul harte oopgemaak het en duisende rande geskenk het, is klein Jayvan geopereer, en Donderdag was hy amptelik kankervry.

Maroela Media het vroeër berig Carin se mediese fonds het eers geweier om vir die operasie te betaal omdat dit glo “kosmeties” is. Later, nadat ʼn storm losgebars het toe haar storie wyd gedeel is, het hulle ingestem om gedeeltelik te betaal.

Dit was egter nie genoeg nie en Carin was bekommerd dat haar sesjarige óók van haar weggeneem sou word.

Dis tóé dat sy met alle oorgawe begin het om hom vir geld in te samel: Sy het sy storie op sosiale media gedeel, met talle mediaverteenwoordigers gepraat en ook ʼn skarefinansieringsprofiel begin. Steeds was al die bydrae van weldoeners nie genoeg nie en sy moes binne 16 dae meer as R500 000 insamel sodat hy ʼn spesiale operasie kon ondergaan – om die laaste kanker te verwyder én om sy been te red.

Nadat sy op JakarandaFM se gewilde program, Good Morning Angels, gehoor is, het weldoeners egter meer as R350 000 geskenk.

Jayvan (Foto: Facebook)

Jayvan (Foto: Facebook)

Die gesin het einde Mei Kaapstad toe gevlieg vir Jayvan se operasie in die Vincent Pallotti-hospitaal in Kaapstad, en dokters het in Junie vermoed dat die uitslae positief sal wees.

Jayvan moes volgens protokol ook nog 13 reekse chemoterapie kry om te verseker mikroskopiese oorblyfsels van die kanker word doodgemaak.

Donderdag het Carin egter die goeie nuus gedeel: Jayvan is skoon. “Baie emosioneel, maar ongelooflik dankbaar. Hy is skoon en daar is geen teken van ʼn gewas of kanker in sy been nie. Dokter Hoskings is baie tevrede met die uitslae, en het gesê Jayvan se kanker is nie net skoon nie, dit lyk só goed mens sal nie eers sê daar was ooit kanker nie,” het sy op Facebook geskryf.

Carin sê hoewel alles positief is, is sy been nog baie broos weens die chemoterapie. “Die plaat in sy been is nie sterk genoeg om sy liggaam te dra nie, en ons kan nie bekostig dat hy ʼn beenbreuk opdoen nie. Hy sal weer ʼn groot operasie moet ondergaan, maar dis ʼn klein terugslag. Maar nou kan my seuntjie begin om ʼn normale lewe te hê.

Jayvan sal moontlik eers oor ʼn jaar kan loop, maar sy sê die gesin bly ongelooflik dankbaar. “Ek kan nie my hemelse Vader genoeg bedank nie. Ek is so dankbaar. Ek bedank ook almal wat betrokke was en steeds is. Ons gaan weer ʼn geldinsameling moet hou vir die volgende operasie, maar God is ʼn God van wonderwerke en ek bly elke dag glo.”

Vir meer inligting, stuur ʼn e-pos stuur aan [email protected] of besoek Support Jayvan Janse van Rensburg op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

skaam ·

Mag die dokters skaam kry as hulle enige mentaliteit morele waardes of integriteit het.

G ·

Dis belaglik dat ‘n menselewe deesdae so min werd is. Betaal of… Plaas die regering minder partytjies hou en meer doen om staatshospitale op standaard te bring. Privaatinstansies kyk hoeveel hul kan melk. Mag Jayvan sommer gou weer rondhardloop.

Susanne ·

7 kinders… Wie kan vandag so baie kinders bekostig?!?!?

Jakoba ·

Sal jy nou wragtig ‘n eier le oor haar 7 kinders. Dit gaan oor haar seuntjie hier. Regtig?

Griki ·

Dis nie almal haar biologiese kinders nie, maar sy beskou hulle almal as haar eie. Na haar man se dood het sy die versorging van sy biologiese kinders op haar geneem omdat “hulle haar kinders is”. Sê nou mooi “askies”, Susanne. Hierdie pragtige vrou verdien net bewondering. Sy is deur die hel en terug. Sy moes haarself verdeel tussen haar siek kind en die ander kinders, maar ten spyte van alles is hulle pragtige, gebalanseerde kinders met empatie en liefde vir hulle siek boetie.

Regstelling ·

Die mediese fonds het al die rekeninge betaal. Die operasie en ander koste was nie R1 miljoen nie maar is reeds deur die mediese fonds betaal.

Juanet ·

ai ai ai Susanne – “you just had to go there” ne?? hoe ongevraagd! hoe ongevoellig van jou! ons ken die mense se omstandighede nie so hoekom sulke kommentaar lewer. Wees dankbaar eerder saam die mamma, Jayvan en ander oor God se groot wonderwerk vir Jayvan en die mense se omgee vir mekaar!

Danie ·

Dalk is die volgende waar: Mense het nie meer as een kind nie want hulle glo nie. Hulle beskuldig dit skynheilig ander van ongeloof. Hierdie vrou het ook daad by die woord gevoeg. Gebid en gewerk om dit moontlik te maak. Nie net gesê rek bid maar die Here gee nie.

Danie ·

Dalk is die volgende ook eerder waar: Mense het nie meer as een kind nie want hulle glo nie. Dan beskuldig hulle baie skynheilig ander daarvan dat soveel kinders te veel is. Hier vrou het dit weer bevestig dat bid en werk dit is wat die Here vra. Sy het nie net gebid en toe hande gevou gaan sit en kerm dat die Here nie haar gebede verhoor nie.

Danie ·

Daik is die voigende ook eerderwaar: Mense het nie meer as een kind nie want huile gb
nie. Dan beskuldig huile baie skynheiiig anderklaarvan dat soveel kinders te veel is. Hier
vrou het dit weer bevestig dat bid en werk dit is wat die Here vra. Sy het nie net gebid en
toe hande gevou gaan sit en kerm dat die Here nie haar gebede verhoor nie.

Jean ·

Watter Einsteins werk deesdae by mediese fondse dat so ‘n operasie as KOSMETIES geag kan word? Julle is ‘n disgrace hoor. Baie dankie vir die mense wat geld ingesamel het en sterkte vir die ma wat haar kinders in moeilike omstandighede moet grootmaak. Trots op julle.

Harry ·

Dis siek wat deesdae gebeur. Ek voel skaam om my soms n mens te noem hoe ons metmekaar te werk gaan. En die hartseerste is die sogenaamde Christene wat met die bible onder die arm loop vir almal wil preek en voor in die kerk banke sit. Maar geld is hulle goed. Hulle paai net hulle gewete met hulle kerk stories.

Boertjie ·

2 dinge: 1ste ding, vreugde en dankbaarheid oor klein Jaydan se gesondheid. 2de ding, ek wonder of ons geld moet insamel om vir Maroela Media ‘n woordeboek en spelreëls aan te koop. “..13 rondes chemoterapie..”? Is dit nie veronderstel om eerder “rondtes” te wees nie? Vra maar net :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.