NRO’s is ontwikkel om te misluk

Marieta Kemp (Foto: Universiteit Pretoria)

Deur Marieta Kemp

Altesaam 42 jaar in die bedryf van nieregeringsorganisasies (NRO’s) het my ʼn paar dinge geleer: hierdie land kan nie sonder vrywilligers en omgeemense oorleef nie; om welsynswerk te doen, kan uiters bevredigend wees, maar terselfdertyd bitter frustrerend en ontnugterend; min “organisasies in die vrywilligersektor” bereik hulle volle potensiaal. Ek verwys hier juis nie net na ʼn welsynsorganisasie nie, want vrywilligers raak by vele strukture betrokke, soos skoolliggame, kerkrade, gemeenskapskomitees, uitreik- en omgeeaksies, en dan natuurlik ook die tradisionele niewinsgewende, nieregeringsorganisasies.

My boekie NRO’s is ontwikkel om te misluk / NGOs are built to fail was nie bedoel om negatief te wees nie, daarom die byvoeging: “Kom ons ondersoek dit / Let’s explore”.

Volgens die jongste statistiek beskik Suid-Afrika oor 253 928 geregistreerde NRO’s, waarvan 58,44% volgens die direktoraat van NRO’s nie aan wetgewing voldoen nie. Dit impliseer dat slegs ongeveer 40% geregistreerde NRO’s aan die eise van wetgewing voldoen. Dit beteken egter nie dat hierdie 40% suksesvol funksioneer en hulle volle potensiaal bereik nie. Die woorde “voortploeter” en “versukkeld” is dikwels tiperend aan welsynsorganisasies.

Daar is soveel organisasies wat van die hand na die mond leef en net te dankbaar is as hulle elke maand hul skulde kan vereffen. Diesulkes dink die oplossing van al hul probleme lê in voldoende fondse. Om welwillendheidswerk te doen, is fondse natuurlik belangrik, maar so ook al die ander klein jakkalsies wat die goeie funksionering van die organisasie, komitee, aksie, of raad beïnvloed.

Welsynsorganisasies (oftewel niewinsgewende instansies) doen hul werk in ʼn hoërisiko-omgewing. In die werksessies wat ek aanbied, word hierdie faktore van nader bekyk, omdat dit organisasies dikwels lamlê en hul aansien groot skade berokken. Welsynsorganisasies moet byvoorbeeld aan dieselfde wetgewing voldoen as die korporatiewe sektor en dieselfde tegnologiese vaardighede bemeester om vir fondse mee te ding. Ten spyte van die feit dat welwillendheidswerk as ʼn hartsaak of goeie daad beskou word, kom nepotisme, oneerlikheid, onetiese gedrag en korrupsie gereeld voor omdat die werksomgewing daardie skuiwergate bied.

Die kinderverhaal Gouelokkies en die drie beertjies het gelei tot die Gouelokkies-beginsel (Goldilocks principle) wat by ʼn aantal dissiplines aangetref word, waaronder geneeskunde, ingenieurswese en ontwikkelingsielkunde. Die metafoor dat iets nie té warm of té koud moet wees nie, maar nét rég is dan ook die basis waarop ek die Gouelokkies-beginsel vir NRO’s saamgestel het. Dit is nie voorafgegaan deur wetenskaplike navorsing nie, maar eerder gebore uit my praktiese ervaring in verskillende rolle by ʼn verskeidenheid strukture. Die Gouelokkies-beginsel vir NRO’s word voorgestel met ʼn eenvoudige diagram waarin vier komponente met die kernbesigheid van ’n organisasie verbind is. Dit is moeilik om te glo, maar nie almal in ʼn organisasie stem saam oor wat die kernbesigheid van ’n organisasie is nie, veral nie wanneer fondse, mannekrag en hulpbronne toegewys moet word nie. Inteendeel, lede van ʼn komitee, raad of organisasie kan in wese verskil oor wat die prioriteit en hooffokus van hulle organisasie moet wees en dit kan onnodige verdeeldheid veroorsaak.

Die Gouelokkies-beginsel vir NRO’s word met behulp van ʼn werkblad vir elkeen in die werksessie bespreek en almal meet hul eie organisasie, streek, raad of komitee se funksionering. Die doel is nie om vinger te wys nie, maar eerder om dié eienskappe wat die organisasie se funksionering benadeel, te identifiseer om daarvolgens te beplan. Die volgende is enkele voorbeelde van sulke eienskappe: Hoe sterk is julle spangees, veral in uitdagende tye? Stel julle werksomgewing personeel in staat om hulle werk doeltreffend te verrig? Wanneer laas het julle as span saam gelag? Word leierskap gekoppel aan ’n posisie of aan die belangrikheid van visionêre, etiese en kundige eienskappe? Wat doen jou organisasie om ’n nuwe lid te laat tuis voel?

Die inhoud van die werksessie is vervat in die handboekie van 40 bladsye wat verder kan dien as ʼn praktiese, gebruikersvriendelike hulpmiddel vir NRO’s om gereeld hul funksionering te ondersoek en te verseker dat hulle so goed as moontlik funksioneer.

Wil om te help-werkswinkel

Solidariteit Helpende Hand bied op 15 Maart Wil om te help-werkwinkels in die Wes-Kaap, die Suid-Kaap, die Oos-Rand, KZN-Suid, die Vrystaat, Pretoria en die Noord-Kaap aan. Dit is ʼn bederfoggend en netwerkgeleentheid vir maatskaplike werkers en ander belangstellendes. Marieta Kemp sal in ʼn aanlyn gesprek as hoofspreker van die werkswinkel optree. Die res van die program word in elke streek saamgestel uit plaaslike sprekers van daardie streek.

Besoek www.helpendehand.co.za/wilomtehelp vir meer inligting oor die werkwinkels en om plek te bespreek.

  • Marieta Kemp is ’n voormalige direkteur van maatskaplike dienste by die SAVF en het 42 jaar se ervaring in die NRO-bedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.