Nuttige wenke om skuld hok te slaan

skuld

Foto: Argief.

ʼn Paar feite oor skuld:

Daar word dikwels gepraat oor “goeie” en “slegte” skuld. Die enigste goeie skuld is wanneer ʼn mens geld leen om ʼn bate mee te finansier wat toeneem in waarde. Vir die meeste mense is dit hul woonhuis.

Slegte skuld sluit in kredietkaarte waarvan die volle uitstaande balans nie elke maand betaal word nie, mikrolenings en winkelkaarte – die rente hierop is geweldig hoog.

ʼn Motor is nie ʼn bate nie as gevolg van die feit dat die waarde gewoonlik mettertyd afneem en omdat ʼn mens ook lopende uitgawes het soos petrol, bande en dienste.

Wenke om skuld hok te slaan en te verminder:

  1. Bereken jou huidige begroting. Hou boek van al jou inkomste en uitgawes vir twee weke, of ʼn maand as dit meer prakties is. Uitgawes soos belasting, versekering of klere-aankope, wat moontlik minder dikwels voorkom, moet hierby ingesluit word. Gebruik maandelikse gemiddeldes hiervoor. Die meeste mense weet nie wat hulle in totaal per maand of per kategorie bestee nie.
  2. Vergroot jou inkomste. Jy kan ekstra-skofte werk, seisoenwerk doen, private lesse gee vir ʼn leerling of ʼn stokperdjie in ʼn tuisonderneming omskep.
  3. Besnoei uitgawes. Koop slegs artikels as jy dit nodig het, nie net omdat dit op uitverkoping is nie.

Behuising: Trek, indien moontlik, na ʼn woning waarop die maandelikse betalings kleiner is. Verminder jou huishoudelike uitgawes deur minder elektrisiteit en water te verbruik. Klein besparings maak ʼn verskil!

Kos: Pak middagete of ʼn versnapering in eerder as om gereeld uit te eet. Gebruik afslagkoepons en ander spesiale aanbiedinge.

Vervoer: Verkoop voertuie wat jy nie nodig het nie en hou jou motor in stand eerder as om haastig ʼn nuwer model te wil koop. Gebruik openbare vervoer of loop wanneer jy kan.

Nadat jy jou uitgawes besnoei het, is jy gereed om jou oorblywende geld wyslik te gebruik.

  1. Ontleed jou skuld. Bereken allereers alle skuld wat jy het asook die rentekoers en die fooie wat die gevolg is as ʼn rekening laat of nié betaal word nie en of as jy rekeninge het wat agterstallig is. Gaan die bewoording van die lening of rekening noukeurig na aangesien krediteure in dié opsig bedrieglik kan wees.

Besluit dan in watter volgorde jy jou skuld gaan afbetaal. ʼn Opsie is om kleiner skuld eerste af te betaal aangesien jy meer optimisties sal voel as jy elke maand minder rekeninge ontvang. Hierdie “klein oorwinnings” kan heelwat doen om jou gemotiveerd te hou! Sodra ʼn lening terugbetaal is, gebruik dié bedrag wat jy betaal het en voeg dit by die terugbetaling van die volgende lening en herhaal die proses met elke lening. As jy lenings met ʼn hoë rentekoers het, sal dit dalk voordelig wees om ʼn nuwe lening teen ʼn laer rentekoers aan te gaan sodat jy jou bestaande lenings kan afbetaal.

Laastens, as jy nie jou skuld kan betaal nie, kan jy met jou krediteure oor nuwe afbetalingsplanne probeer onderhandel. Jy kan uitstel vra of ʼn laer rentekoers probeer kry. Sommige krediteure sal moontlik selfs bereid wees om die bedrag wat jy skuld te verminder as jy die laer bedrag onmiddellik ten volle kan betaal. Wees eerlik en beleefd wanneer jy jou finansiële situasie verduidelik.

Probeer die volgende: Nadat jy ʼn begroting vir die gesin opgestel het kan julle bespreek hoe elkeen uitgawes kan besnoei of die gesin se inkomste kan vergroot. As jy sien hoe elkeen opofferings maak, kan dit jou help om alles in die stryd te werp om van jou skuld ontslae te raak.

  • Kry hier meer inligting oor die onderwerp in Wouter Snyman se gratis e-boekie Finansiële onafhanklikheid en die ‘Salomo-beginsel’.
  • Hierdie artikel is saamgestel met die hulp van attooh!. Kontak attooh! gerus met enige navrae oor jou persoonlike finansiële beplanning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sakrekenaar ·

‘n Motor is ‘n wel ‘n BATE (sien IAS16) en ja, ek verstaan wat die skrywer bedoel.

Stel dit eerder so: ‘n Motor is ‘n SWAK belegging.

Moet asb nie onnodig rekeningkunde moeilik maak vir ons lesers nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.