Nuwe era vir SA-whisky

Jeff Green is aangestel as die nuwe bestuurder van die James Sedgwick-distilleerdery in Wellington. Foto: Verskaf

Jeff Green is aangestel as die nuwe bestuurder van die James Sedgwick-distilleerdery in Wellington. Foto: Verskaf

Jeff Green is aangestel as die nuwe bestuurder van die James Sedgwick-distilleerdery in Wellington. Green neem die leisels oor by Andy Watts wat dié pos 25 jaar lank beklee het. Green was sedert 2009 James Sedgwick se prosesbestuurder en distilleerder.

Watts is egter nie vir die Suid-Afrikaanse whiskybedryf verlore nie. Hy gaan voortaan verantwoordelikheid neem vir die volledige whisky-portefeulje van Distell as die wêreldwye hoof van whisky by die sentrum vir uitnemendheid, ’n nuwe departement wat deur Distell geskep is om te fokus op die prosesse, gehalte en styl van produkte wat insluit wyn, spiritualieë, siders en ander drankies.

Benewens strategiese leiding met die produksie van die Three Ships-whiskyreeks en Bain’s Cape Mountain Whisky wat by die James Sedgwick-distilleerdery gemaak word, sal Watts ook verantwoordelik wees vir Distell se Skotse whiskyportefeulje, wat Bunnahabhain, Deanston, Tobermory, Black Bottle en Scottish Leader insluit.

Andy Watts. Foto: Facebok/The James Sedgwick Distillery

Andy Watts. Foto: Facebok/The James Sedgwick Distillery

Volgens Watts is hierdie nuwe hoofstuk in sy loopbaan baie opwindend en een wat hy met volle oorgawe aanpak.

“Dit sal moeilik wees om nie meer 24/7 die volle beheer oor en verantwoordelikheid van die James Sedgwick-distilleerdery te hê nie, maar ek kon die leisels nie in méér bekwame hande gelaat het nie. Ek sal Jeff na die beste van my vermoë bystaan tydens die oorgangsproses.

“Ek sien uit na die uitdaging om te help met die skep van ons wêreldklas-handelsmerke saam met die wêreldklas-span wat reeds aangestel is, en om te fokus op innovasie asook om die ‘whiskies-in-wording’ wat ek by die Wellingtonse distilleerdery agterlaat, die lig te laat sien.”

Watts sal voortgaan om ten nouste saam te werk met die Suid-Afrikaanse bemarkingspan as die meesterdistilleerder van die Three Ships-reeks en Bain’s Cape Mountain Whisky. Hy vertrek binne die volgende twee weke na die VSA vir die bekendstelling van Bain’s Cape Mountain Whisky in nog twee state.

James Sedgwick-distilleerdery in Wellington. Foto: Facebok/The James Sedgwick Distillery

James Sedgwick-distilleerdery in Wellington. Foto: Facebok/The James Sedgwick Distillery

Green het gesê dit is ’n ongelooflike eer om as distilleerderybestuurder aangestel te word, slegs die sewende in die 130-jarige bestaan van die distilleerdery. “Ek het die grootste respek en waardering vir wat Andy hier bereik het, nie net in die manier hoe whisky in Suid-Afrika gemaak word nie, maar ook in die toename in die vraag na ons whiskies in die buiteland danksy die internasionale toekennings wat hy oor die jare heen losgeslaan het.

“Dis beslis groot skoene om te vul, maar ek sien uit na die uitdaging om Suid-Afrikaanse whisky na nuwe hoogtes te voer!”

Green het nog altyd ’n groot belangstelling gehad in die jongste kos- en drankneigings. Hy het sy meestersgraad in voedselwetenskappe verwerf voordat hy die wêreld van bier, wyn en sider betree het. Dit was juis sy liefde vir die wetenskap wat hom in 2009 in die whiskybedryf laat beland het toe hy by die James Sedgwick-whiskyspan aangesluit het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.