Nuwe klerereeks vier alle groottes en liggaamsvorms

Lizel van der Westhuizen, Glam Guru-modestilis en eienaar van Full Circle Image Consulting. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Ek wil nie meer hê dat vroue met voller figure voel dat daar nie vir hulle ʼn plek in die samelewing is nie. Alle liggaamsvorms en -groottes moet gevier word.”

Só sê Lizel van der Westhuizen, Glam Guru-modestilis en eienaar van Full Circle Image Consulting, wat vandeesweek tydens ʼn spoggerige geleentheid haar nuwe plusgrootte-klerereeks, Taglia Grossa, bekendgestel het.

Hoewel Van der Westhuizen nie self plusgrootte-nommers dra nie, het sy deur haar werk as stileerder en voorkomskonsultant besef dat skoonheidstandaarde en groottestereotipes daartoe gelei het dat vroue met voller figure dikwels oor die hoof gesien word wanneer dit by mode kom.

Taglia Grossa-items.

Indien sy wel vir ʼn plusgrootte-kliënt klere in die regte grootte gevind het, was die styl volgens haar dikwels vervelig of nie die regte snit om hul kurwes te vlei nie.

Sy besluit toe om dié skoonheidstandaarde uit te daag deur haar eie reeks te vervaardig. “Ek wou hê alle vroue moet mooi en modieus kan wees, ongeag die grootte van hul klere. Hierdie is ʼn reeks vir vroue, deur vroue.”

Van der Westhuizen vertel dat Taglia Grossaitems juis nie ingevoer word nie, maar plaaslik deur vroue in ʼn Johannesburgse fabriek vervaardig word. Elke kledingstuk is sorgvuldig ontwerp om stylvol, vleiend én veelsydig te wees. Daar word ook net beperkte hoeveelhede gemaak, dus is elke item eksklusief en uniek.

“Ons as vroue is ook besig, so ek wou seker maak dat alles gemaklik is en ruimte vir beweging toelaat,” verduidelik sy.

Haar droom vir die reeks is om alle vroue, ongeag hul grootte, mooi te laat lyk én voel.

Een van haar gunsteling-items in die reeks is die kimono-rok wat ʼn helder, blommotief in verskillende kleure het. “Dit is so lekker veelsydige stuk omdat dit alleen as ʼn rok of saam met ʼn broek as ʼn kimono gedra kan word. Dit is ook verstelbaar om vleiend om die middel te wees en pas by ʼn wye verskeidenheid kleure.”

Dié ma van twee het onlangs aan Maroela Media vertel dat sy ondanks haar beroep ook weet hoe dit is om soms “nie mooi genoeg” te voel nie en op haar eie voorkomsreis moes gaan voordat sy vir haar naam as topstilis en voorkomskonsultant gemaak het. “Ons as vroue het soveel balle wat ons in die lug moet hou. Jy moet ma wees, vrou wees, ʼn loopbaan hê en gevolglik vergeet ons van onsself. My droom vir die reeks is om alle vroue, ongeag hul grootte, mooi te laat lyk én voel.”

Sy voeg by dat die grootste modefout wat vroue met voller figure maak is om los of oorgroot klere te gebruik om hul liggaam te probeer wegsteek. “Om elke ronding onder sakke klere weg te steek sal jou nie slanker laat lyk nie, maar eerder groter as wat jy is. Omhels jou kurwes en vind klere wat jou liggaam vlei.”

Besoek Taglia Grossa se Instagram-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mallie ·

Maak asselief iets vir die ouer vrou ook, sodat sy nie n bespotting van haarself maak met die klere wat beskikbaar is nie. Die goed wat beskikbaar is maak dat sy lyk of sy met haar dogter of skoondogter kompenteer.

Anchen ·

Hoekom is ons vroue wat groter is se klere altyd duurder, ek kan verstaan meer materiaal moet gebruik word maar hoe moet ons klere bekostig as dit soveel duurder is vir dieselfde soort kledingstuk. Ek wil nie my klere in n boutique gaan koop en n arm en n been gee vir dit nie, want fancy trek ek nie aan nie. Dis regtig n gesukkel om klere in die hande te kry. Selfs by winkels soos pep, jet ackermans of mr price.

Swerwer ·

Klere het baie duur geword, ongeag die grootte. Kyk maarna kinder klere. As ek na die prys van die Jas in veelsydige items kyk wat getoon word op die foto is die prys beslis nie buitensporig nie.

Helena Elizabeth ·

Net jammer almal wat plus grootte is, dra nie net tot by ‘n size 46 nie….Wat is die dan wat grootter is as size 46…super plus grootte…hoe lank gaan hulle wag vir mooi bekostigbare klere…???

Lize ·

Wonderlik! Is daar ook iets vir lang vroue? En skoene groter as nommer 9? Groot asseblief!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.