Verbruikersake: Nuwe kredietplanne vir armes

Argieffoto

Die parlement het onlangs die Nasionale Kredietwysingswetsontwerp goedgekeur, maar terwyl dit daarop gerig is om ʼn blaaskans te skep vir arm en kwesbare verbruikers, stem nie almal saam dat die stappe om skuldverligting te bring, so ʼn goeie idee is nie. Ina Opperman het na die voorgestelde veranderings gaan kyk.

Die wetsontwerp is gerig op oorbelaste mense wat minder as R7 500 per maand verdien, wie se ongesekureerde lenings minder as R50 000 beloop. Volgens die regering maak die huidige insolvensiestelsel en skuldadministrasie nie voorsiening vir hierdie groep mense nie en slegs diegene wat aan hierdie groep geld leen, se belange word beskerm.

Skuldberaders bied nie ʼn diens aan vir mense wat minder as R7 500 per maand verdien nie, omdat hulle meen dit is nie die geld werd nie en die regering wil die wysingswetsontwerp gebruik om hierdie gaping te vul.

Die wysigingswetsontwerp is daarop gerig om, onder meer, roekelose uitlening hok te slaan, deur roekelose en onwettige uitlening te kriminaliseer en verantwoordelike uitlening aan te moedig en toe te pas. Kredietlewensversekering sal voorgeskryf word en die regulasies sal voorsiening maak daarvoor dat kredietlewensversekering uitgeneem moet word vir alle lenings wat oor minder as ses maande afbetaal word en minder as R50 000 beloop.

Daar word ook voorsiening gemaak vir ʼn langtermyningryping soortgelyk aan skuldhersiening, wat deur die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) hanteer sal word. Hierdie proses sal gratis wees vir die groep mense waarop die wetsontwerp gerig is en die hofbevele sal deur die Nasionale Verbruikerstribunaal (NVT) uitgereik word.

Die wetsontwerp maak ook voorsiening vir ʼn korttermyningryping om mense wat glad nie (of nie binne sestig maande) hul skuld kan betaal nie, se skuld te skrap binne vier jaar nadat die wetsontwerp ingestel is.

Landdroshowe sal ook ingevolge die wetsontwerp bykomende magte hê om rentekoerse te verlaag volgens ʼn skuldberader se aanbeveling. Die minister van handel en nywerheid moet ook, wanneer regulasies kragtens van die wet gemaak word, die bedryf se bestaande vrywillige taakspanooreenkoms in gedagte hou, veral die verskil tussen gesekureerde en ongesekureerde lenings en die maatstaf om rentekoerse en ander kostes inkrementeel en proporsioneel te verlaag.

Die wetsontwerp is nou by die Nasionale Raad vir Provinsies vir goedkeuring.

Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika, meen egter die wetsontwerp slaag nie daarin om die regte van verbruikers en kredietgewers te balanseer nie en hy beskou dit as kortsigtig en nie behoorlik oorweeg nie, het hy aan Business Tech gesê.

“Die gevolge van die voorgestelde breër toepassing van die wetsontwerp vir verbruikers en die ekonomie is nie voldoende in ʼn deurtastende ondersoek nagevors om die sosiale en ekonomiese uitwerking te bepaal nie en belanghebbendes is ook nie betrek nie.”

Die ANC glo dat die wysigingswetsontwerp noodsaaklik is omdat dit baie sal help om sosiale demokrasie en regverdigheid te bring, maar adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid stem nie saam nie.

“Hoe help mens diegene met erge skuldprobleme wanneer hul situasie so benard is dat nie eens skuldberading ʼn uitkoms bied nie? Sulke komplekse probleme vereis ʼn holistiese benadering waarin faktore soos die ekonomiese omgewing wat armoede veroorsaak, in ag geneem moet word.”

Hy meen armoede styg tans weens swak ekonomiese groei en daar is konsensus dat die regering se beleid van inmenging in die mark, wanbesteding en korrupsie, die oorsaak daarvan is.

“Dit is uiters duidelik dat die skepping van skuldberadingprosesse vir ‘n bevolking met ‘n werkloosheidsyfer van meer as 30% net ‘n pleister op die siekte van ‘n terminaal siek pasiënt is. Dit kan op die kort termyn help, maar sal die pasiënt nie red nie,” het hy in ʼn verklaring gesê.

ʼn Sosio-ekonomiese impakstudie was nie ʼn vereiste vir die finale wetsontwerp nie en Alberts meen dit kan negatiewe gevolge inhou, omdat niemand weet wat die uitwerking daarvan op die land se ekonomiese ekostelsel gaan wees nie. Hy sê dit kan lei tot die verdwyning van wettige kredietinstrumente en -ondernemings, met ʼn gepaardgaande verlies aan werksgeleenthede en ʼn toename in onwettige kredietverlening.

Alberts wys daarop dat statistiek oor die huidige skuldsiklusse toon dat skuld afneem.

“Suid-Afrika is in die langste tydperk van daling in huishoudelike skuld en daar is ʼn afname in slegte skuld. Skuldbevele en dagvaardings is die laagste sedert datarekords begin het, wat dit laat lyk asof mense hul krediet beter bestuur en die huidige skuldingrypingstelsel kan daartoe bydra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

koos1 ·

Hierdie regering is baie slim. Baie, ek raai so 60%, van alle huishoudings se maandelikse inkomste is minder as R7500.00. Skrap hulle skuld en kry so hulle stemme.
Klink baie soos onteiening sonder vergoeding en die Chineese belegging!

Op die ou end van die dag moet iemand betaal vir al die regering se “slim” planne, maar wie gee om, want die regeerders van vandag is nie meer more daar nie.

GM ·

Een van die dae is die ‘ryk man’, die ‘arm man’, en die ‘arm man’, die ‘ryk man’. Nie omdat hulle daarvoor gewerk het nie, maar omdat als net verniet aan hulle gegee is. Dit terwyl die belastingbetaler gemelk word vir als.

Staak ·

Dink so daaroor, jy verdien 7500 n maand, jy leen R50 000 om n ou ry dingetjie te koop of een van daai smart TVs wat nog net moet leer koffie maak. Die oomblim wat jy die geld betaal is die BTV oorbetaal aan SARS, nou betaal jy vir 5 jaar aan daai lening. Die oomblik wat jy klei trap is dit die instansie wat die knock vat, die staat betaal nie n gedeelte van daai BTW weer terug aan jou nie. Die staat verhaal nie die BTW oor 5jaar as jy hom klaar betaal het nie, nee hy soek sy geld op die belofte dat jy hom gaan klaar betaal.

Dit is volgens my maar net n plan om meer geld uit BTW te verdien want die staat kry die BTW van oor 5 jaar nou al.

Piet Pompies ·

Die huidige stelsel van krediet diskrimineer teen arm mense, indien jou inkomste hoog is, is jou krediet leenkoers laer. As jy ‘n nuwe voertuig koop kry jy ook ‘n beter rentekoers as ‘n gebruikte ouer voertuig. Die gemiddelde ouderdom van voertuie op SA se paaie is 12 jaar oud, wie besit hierdie voertuie en jy kan ook nie voertuig finansiering kry vir ‘n voertuig wat so oud is, so die persoon moet ‘n privaat lening aangaan om ‘n kar te koop wat dan die hoogste rentekoerse het. Met daardie duur premie en hoë rentekoers op die privaat lening kon hy eintlik ‘n nuwer voertuig teen ‘n laer rentekoers op voertuig finansiering kon kry. Ek wou self ‘n gebruikte 1999 karavaan koop op finansiering en dit is geweier oor besigheids beleid, die karavaan is te oud al is hy werklik in ‘n puik toestand. Wat moet ek doen, daarsonder bly of ten duurste ‘n privaat lening gaan maak. Banke is veronderstel om nie winsgewend te wees, maar as jy kyk na die koste van hulle borgskappe kan hulle gerus minder borge toestaan en meer laer rentekoerse verskaf en beter beleid toepas.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.