Die Suid-Afrikaner Chris Bertish het ʼn nuwe wêreldrekord opgestel toe hy 92 km binne 24 uur voltooi het op ʼn staanroeiplank.
Hy het die rekord sonder enige hulp of ondersteuning behaal. Bertish is ʼn grootgolf-branderplankryer en ʼn bekende internasionale spreker en avonturier.
Die vorige rekordhouer, Bart de Zwart van Hawaii, het 85 km in 24 uur geroei. Bertish vertel hy het gewonder of dit moontlik is om De Zwart se rekord te verbeter. “Die afgelope maand het ek verskeie kere oor 85 km gegaan, maar ek wou dit amptelik doen. Diep binne my het ek geweet dat dit moontlik is.”
Bertish is tans besig om ʼn vaart van 7 500 km oor die Atlantiese Oseaan aan te pak. Hy het reeds meer as 5 500 km agter die rug en hoop om in Maart sy eindbestemming te bereik.
Bertish gaan vir elke rekord wat tydens dié reis verbeter word ʼn skenking maak aan Operation Smile in Suid-Afrika en self betaal vir die operasie van een kind vir elke rekord wat verbeter word.
“Ek glo dis belangrik vir sportmanne en -vroue om hulle sportprestasie te gebruik om ʼn positiewe invloed uit te oefen. Dit is ons verantwoordelikheid om die bes moontlike rolmodelle vir die jeug te wees.”
Wonderlik! Hoop hy bereik al sy doele!