Om beter te kan sien, my kind…

jannie-pelser-01-featured

Jannie Pelser. Foto: Verskaf.

Deur Jannie Pelser

Soos baie mense wat ietwat ouer is, moet ek ook bril dra om te sien wat rondom my aan die gebeur is.

Ek het twee brille, die een sien naby en die ander een ver. Die een is vir lees en die ander een vir TV kyk en bestuur.

Ek kom gou agter as ek die verkeerde bril vir die verkeerde aktiwiteit op my oë het. Alles is dof en verdoesel. Ja, daar is brille wat die twee funksies in een lens saamtrek, maar ek kon nog nie daaraan gewoond raak nie. Ek is gemaklik met my twee brille, die een sien naby en die een sien ver.

Suid-Afrika is óf deurmekaar óf ʼn wonderlike plek, afhangend van watter bril ʼn mens ophet.

Uiteraard moet ʼn mens reken met dit wat voorhande is.

Die ontstellende misdaadsyfers, die verwagte styging in die brandstofprys, die getuienisse wat gelewer word by verskeie kommissies waaronder die Zondo-kommissie oor staatskaping en die gesmeul onder die oppervlak van oudpresident Zuma, maak ʼn mens baie onrustig. Ook die los- en vasgemaal en debatteerbare beloftes rakende grondonteiening sonder vergoeding, art. 25 van die Grondwet en die onsekerheid wat dit bring, is ʼn irriterende doring in die vlees.

So kan ʼn mens aangaan.

Sit jy jou nabykykbril op kan ʼn mens erg depressief en hopeloos begin voel. Die koerant lees soos ʼn riller en die aandnuus moet nie saam met aandete gekyk word nie. Dit sorg vir slegte spysvertering. Tog moet ʼn mens die feite in die oë kyk en oorweeg hoe God jou wil gebruik om betekenisvol betrokke te wees en te bly.

Dan is daar die versienbril. Jy sien ander goed as dit wat op hande is of onmiddellik rondom jou gebeur. Jy sien dat lente in die lug is. Die botsels is ʼn natuurskone bewys fdat die winter nie die laaste woord spreek nie, maar dat daar keer op keer tekens van oorwinning en lewe is.

Jy sien mense van verskeie agtergronde wat toenemend gemaklik met mekaar omgaan en weet dat rassisme getroef kan word. Jy beleef die hartlikheid by die vulstasie, supermark en straathoek.

Jy sien jou kinders presteer en jy weet dat jou opvoeding te midde van vele uitdagings vrug dra. Terloops, toe ons ons kinders grootgemaak het, universiteit toe gestuur het en selfs twee dogters se troues moes reël – jy weet mos die pa betaal en daar is geen lobola nie, was daar soos vandag ook nie geld nie. Desondanks is dit gedoen en die besef dat God goed is en dat wonderwerke steeds gebeur, oorweldig jou met dankbaarbaarheid.

Jy kyk na jou kleinkinders en jy weet dat ʼn Josua-generasie grootword. Hulle sal in ʼn genormaliseerde samelewing tereg kom waar taal en kultuur, so belangrik as wat dit is, nie die alles oorwegende faktor is nie. Hulle gaan nou reeds saam skool toe, speel hul sport luidrugtig saam sonder om daarop te let dat hul maatjies wit, swart of bruin is.

As jy jou versienbril op het, sien jy die nuwe geboue wat gebou word en besighede wat van die grond af kom (die slegte ekonomiese toestande ten spyt), jy geniet die breë gange van die luukse inkopiesentrums, jy stop steeds by die vulstasie en sê “Maak vol, asb., automatic stop” al is die brandstofprys duur. Jy eet nou en dan uit saam met jou geliefdes en gooi soms ʼn tjoppie op die vuur.

Nog belangriker as dit alles, verwelkom die Here jou soos altyd hartlik as jy Sondag die deure van sy heiligdom binnestap en jou verlustig is sy teenwoordigheid en beloftes. Jy kan nog in vryheid aanbid en met medegelowiges vergader.

Ek dink ons het nodig om die brille van ons gereeld om te ruil.

As die nabykykbril jou te veel ontwrig en ontstel, sit die versieneen op en let op dat daar steeds merkwaardige dinge gebeur. As die versienbril jou oorverseker laat, sit die nabykykbril op en sien dat skouer aan die wiel sit vir ʼn beter môre, steeds nodig is.

As jy sommer wil chill, haal beide brille af en geniet die tydjie waar alles net wasig is.

Terloops, ons word in Suid-Afrika orkane en storms soortgelyk aan Florence wat die afgelope dae die Amerikaanse suidoostelike kus getref  het gespaar. Een en ʼn half miljoen mense moes reeds hul huise verlaat te midde van groot skade en ontwrigting.

Ook vuurspuwende berge, modderstortings, aardbewings en buitensporige reën neerslae.

Ek herinner my aan Ps. 93: Riviere het gedruis, Here, riviere het gedruis, riviere het gedreun, maar hoog bo die geraas van baie waters, hoog bo die golwe van die see, troon die Here in sy koninklike mag.

Mag die Here ons eiesoortige storms sagter maak, sy kinders beskerm en sy almag toon.

Ons bid vir ons broers en susters in Noord- en Suid-Carolina asook Virginia in die VSA.

Ekskuus, waaroor het ons nou weer gekla?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Dean ·

Baie baie baie goed geskryf Jannie..ons het baie om voor dankbaar te wees is onse ou landjie.
God heals ..saves..and transform..Amen

Geweeg en te lig bevind ·

“Onrustig” is nie die woord wat ek sou gebruik om te beskryf wat ek voel wanneer ek my naby kyk bril opsit om daagliks te lees van nog ‘n aanval waar mense vermink, verkrag en/of vermoor is nie. Dis nie normaal om so te leef nie, soos ‘n ander skrywer dit beskryf, “dis siek en absurd”, maar ons is al so gekondisioneer deur artikels soos die een, om dankbaarheid te toon en tog net nie so te kla nie, dat ons dit als net AANVAAR . Koop nog sekuriteit, dis al. NEE, vang die skurke sodat ek as wetsgehoorsame burger in veiligheid kan leef sonder om al “twitchy” om my rond te kyk en nagte wakker te lê, dis my konstitusionele reg. Wanneer mens in die vroeë oggend ure wakker skrik van ‘n slegte reuk met 5 kriminele in jou slaapkamer en ‘n pistool teen jou kop sal geen bril help nie, dis realiteit. Dis maar een ongeregtigheid in hierdie land waaroor ons kla en teenoor moet opstaan! As ons aanhou aanvaar en dankbaarheid toon vir wat ons het, sal dit aanhou om ons te teister.

…of ons kan aanhou om saam met die Paashaas en Peter Pan in ons koppe te leef…

Liz ·

Ek dink as kind van God behoort ons met ‘n ander bril na sake te kyk. Nêrens in die Woord beloof God maanskyn en rose nie. Maar ons weet wie hou die toekoms in die holte van Sy hande. En selfs al gaan ons deur ‘n dal van doodskaduwee sal ons geen onheil vrees nie, want God is met ons.

Jessica Luüs ·

Baie goed geskryf.
Dit is beter om die beste deel van elke dag te sien,want wat is die punt om in die sorge van die land te verdrink? Dit affekteer sekerlik net jou eie menswees?
Glo in God en Sy plan en jy sal vrede in jou hart vind tussen al die smart.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.