Om die vreugde van sorgeloosheid in jou kleinkind te sien

kinders-pexels

Foto: Pexels/Pixabay.com

‘n Oupa en ouma se grootste vreugde is hul kleinkinders. Party is nog aan die bors, ander op die heup en party se melkbaardjies word, so effens onbehendig, versigtig afgeskeer en die stemme word so half skor. Met die kleineres speel ons al te lekker en wat die groteriges betref, kyk ons geamuseerd en tong in die kies, hoe hulle tieners word. Dan sak daar so ‘n saligheid oor jou toe, want jy weet dis jou kinders se tieners en nie jou eie nie.

Nou die dag het ek so ‘n heerlike, innige stuk vreugde ervaar nadat ek ‘n blinkoog kleindogtertjie (volgens haar al groot) dopgehou en toe later so ‘n bietjie uitgevra het. Isabella is die tweede jongste van vier boete [sic] en vier susse [sic] en is nog net drie jaartjies oud. Sy’s ‘n bondeltjie vreugde – vreugde van sorgeloosheid.

Ek het langs die braaiplek sit en kyk hoe ouboet Mattias braai – nes sy pa hom geleer het en nie heeltemal soos ek sy pa geleer het nie. Maar, bráái kan hy al braai!

Ek het vir Isabella, so ‘n goeie hanetree ver van ons af, op ‘n voetpaadjie opgemerk. Aan haar liggaamstaal kon ek agterkom dat sy aan die praat was. Sy het met die arms beduie, dan iewers heen gewys en dan gebukkend, half bekruipend, voetjie vir voetjie, vorentoe beweeg. Dan het sy weer begin praat en beduie.

Nuuskierig het ek vir Mattias gevra of hy weet wat sy sussie te sê had. Hy het sy kop geskud, na haar gekyk en toe verduidelikK

“Oupa, sy vertel seker weer stories en as haar storie opraak dink sy ‘n ander een uit. Daar gaan altyd iets in haar kop aan.” Ja, dag ek toe: ‘n Klein koppie, maar ‘n vol koppie!

Later die aand het sy op my skoot kom sit en toe wou ek by haar weet hoekom sy op die voetpaadjie koers gekry het. Sy het van my skoot afgeklim om beter te kon beduie. Nes haar oupa kan sy nie praat sonder om te beduie nie. Die gesprek het toe só verloop:

“Ek het gaan loop.”

“Ja, ek het gesien, maar hoekom en waarheen?”

Sy het gesug, koppie skeef gedraai, oë gerek en toe verder vertel: “Oupa, ek het die kwêvole [sic] gehoor en hulle gaan soek.”

Ek wou weet of sy hulle toe gekry het.

“Ja, maar een het net kwê gesê en toe vlie hulle vêêrr [sic] weg.” Sy het so ‘n slag gesluk, oë gerek en nog iets te sê gehad:

“Oupa, weet jy? Daar by ons braaiplek is daar uilens [sic] wat broei!”

“Haai nooit! Vertel!” het ek kastig verbaas uitgeroep.

“Ja! In die aand as my pa braai, kom sit een op die tak en kyk.” En dit was die reine waarheid. Die Witkoluiltjies het saans op die tak gesit en kyk hoe ons braai!

“Ek het gesien jy het baie gepraat toe jy die kwêvoëls gaan soek het. Met wie het jy gepraat?” Sy het skielik met my baard gepeuter. Ek kon sien sy dink en toe sê sy:

“Met alles. Die bome en die gras en die wolke!”

“En wat sê jy vir hulle?” wou ek weet.

Skewe koppie en toe sê sy: “Ag, sommer alles. Ek dink mos!”

“Dink jy hulle luister na jou?” Daar was by haar geen twyfel nie:

“Ja, Oupa, ek kan dit mos sien! En ek wéét” Hoe kon ek nou anders as om haar te glo?

“Vertel nou eers vir my hoekom het jy partykeer vinnig gaan sit en jou voet nadergetrek?” het ek gevra.

“Daar’s mos dorings en ek trap in hulle en dan gaan sit ek en trek hulle uit.”

“En dan?” wou ek weet.

“Ek gooi hulle weg innie gras, want niemand loop daar nie.”

“En jy het nie eens geskrou nie! Nie eens gehuil nie!” het ek gesê-vra.

“Man, Oupa, daar’s niemand naby nie en dan help huil mos nie! En ek vryf ok baie.” Ja, en dit van ‘n dogtertjie wat kán huil as dit moet! Ek het oor nog iets gewonder.

“Jy het iets opgetel en op jou arm gesit. Wat was dit?”

Sy het so ‘n bietjie gedink en toe sê sy: “O ja, dit was ‘n stokgogga. So ‘n grote!” en toe wys sy met haar wysvingertjies ver van mekaar af hoe groot hy was.

“En hy’t jou seker gebyt, maar toe skrou jy nie?” het ek tergerig opgemerk.

“Nee man, hy byt mos nie! Hy’t net my arm lekker gekielie! Ek hou van hulle!”

“En sê nou jy sien ‘n slang? Wat dan?” wou ek weet. Ná ‘n vinnige dinkie [sic], het sy grootoog verduidelik:

“Dan harkloop [sic] ek vinnag [sic] weg en skree vir my pa of oom Jim of vir Mattias! Hulle is nie bang nie!” Ek het vir haar gesê dis ‘n slim ding om te doen want gelukkig jaag slange nie ‘n mens nie.

Sy het skielik weer op my skoot kom sit en ek kon sien sy is uitgepraat. Ek wou nog ‘n bietjie terg en korswil, maar Klaas Vakie het sandjies gestrooi en die ogies het toegegaan. Dit was ‘n lang dag en baie sorgelose kinderspelelery in vrye ruimtes, maak kinders moeg. Niemand slaap lekkerder as ‘n poegaai-gespeelde kind nie. Sy móés goed uitrus, want môre se speel lê voor.

Gisteraand, toe ek stip gesit en kyk het hoe die vlammetjies van my sekelbosvuurtjie ronddans, het ek ‘n dogtertjie vrolik saam met die vlammetjies sien dans. En later toe ek klaar gebraai het en die koletjies flou gesmeul het, het ek ‘n dogtertjie onthou wie se ogies omgedop het van die vaak. En toe die vuurgloedjie toe onder die as was, het ek gewonder of Isabella oor sewentig jaar, soos haar oupa, sorgelose kinderjare sou onthou. Sal sy onthou van kwêvole, dorings in die paadjie en stokgoggas wat haar kielie? Sal sy onthou van die uilens wat nesgemaak het en kom kyk het hoe gebraai word?

Hoe sê ‘n mens dankie vir kinder- en kleinkindervreugde en só baie om te onthou…

Onthou jy ook nog?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.