Om geduldig te wees soos ’n windpomp

boer-windpomp-plaas-reint-dykema-7.jpg

Foto: Reint Dykema

Beatrix Potter het gesê daar is iets heerlik met die skryf van die eerste woorde van ’n storie – mens weet nooit waarnatoe dit jou gaan vat nie.

So was dit ook met die skryf van dié storie; ek wou eers my stuiwer by die tirade oor Eskom ingooi en saam moan oor die ellende waarin ons elektrisiteitsverskaffer ons dompel, maar dis 1 Januarie 2020 en ons moet die nuwe jaar én dekade darem met die blink kant bo afskop. Al wend ons net ’n poging aan.

“Nuwejaarsvoornemens” is al lankal nie meer in my woordeskat nie, maar ’n woord wat vir my al hoe groter betekenis kry is “geduld”. Ek wil méér daarvan hê en gaan dit ook in 2020 meer in ánder mense waardeer, want om geduldig te kan bly te midde van groot frustrasie, is nie net bewonderenswaardig nie, maar gaan die lewe baie makliker maak. Hulle sê mos alles gebeur op sy tyd; dat die windpomp nie die wind gaan soek nie.

“Wag” is egter nie een van my sterk eienskappe nie.

My geduld is die afgelope maand bitterlik beproef en hoewel die besonderhede nie belangrik is nie, is die uitkoms wel. Ek kan wel sê dat om vir meer as ’n week sonder foon, internet én motor te sit te midde van ’n spul uitdagings met ’n trek én ’n dodelike siek hondekind nie bevorderlik is vir ’n vrolike feesseisoen nie. En niks gebeur vinnig dié tyd van die jaar nie, veral nie as ons ’n paar keer per dag sonder elektrisiteit sit nie… (Terloops, mense wat onder die Ram gebore is, is glo die ongeduldigste!)

Sterretekens eers daargelaat. Die ergste is nou verby en die nuwe jaar wink vol belofte en dis grootliks te danke aan ’n paar mense wat my met groot geduld oor die bulte help navigeer het.

In besonder ’n jong man wat hare op sy tande moes hê om my digitale probleme te help uitstryk. Sy naam is Justin en hoewel ek aanvanklik maar skepties was oor sy vaardighede, het hy my lelik verkeerd bewys. Wat my mateloos beïndruk het, was sy geduld – nie net my met nie, maar met elke persoon wat ’n selfoonkrisis het en nóú gehelp moet word. So het ek hom staan en dophou terwyl ek (eintlik al trippelend van haastigheid) my beurt afgewag het. Sy kliënt was nie maklik nie – en dis sagkens gestel – maar die veel jonger Justin het doodkalm gebly en só die foon-vuur in die man in sy donkerblou oorpak geblus.

En dan was daar vriende wat te midde van die woelige feestyd nog tyd gemaak het om hand uit te steek. Een het my haar motor geleen en namens my ’n paar oproepe gemaak. ’n Ander het ’n eetdingetjie gebring. ’n Jare lange vriendin het daardie laaste paar bokse met die trek help pak en dan was daar dié wat, toe ek uiteindelik weer my selfoon in my hand het, boodskappe gestuur het – net om te sê hulle dink aan my.

Lizma van Zyl. Foto: Jaco Marais.

In die openingsparagraaf van A Tale of Two Cities: “It was the best of times; it was the worst of times…”

En so, met ’n hart vol dankbaarheid vir al die goeie dinge in my lewe, wens ek almal ’n voorspoedige 2020 toe. En my nuwe leuse wanneer dit by geduld kom (uit die mond van ’n wyse persoon): “Geduld is nie bloot net die vermoë om te kan wag nie; wat tel is hóé ons wag.”

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae