Omgee-gemeenskap vir tieners in nood

Grounded-Echo

Foto: Adéle Changuion

Op die hoek van Pierneef en 24ste Laan in Villieria is daar ’n koffiewinkel met die naam van Grounded at Echo. Ek bestel ’n rooibos-cappuccino en verkyk my aan al die mense. Dit voel amper asof dié klomp mekaar ken – die kelner groet ’n klant op die naam en hulle gesels soos ou vriende.

Ek ontmoet Marionette Venter, die persoon wat voorgestel het dat ons mekaar hier ontmoet. Sy groet vriendelik en maak haar dadelik tuis. Marionette is ’n maatskaplike werker en kantoorbestuurder by Echo-jeugontwikkeling. Dis nie toevallig dat hierdie organisasie en die koffiewinkel albei die woord “echo” gebruik nie. “Hierdie plek is die venster van Echo-jeugontwikkeling,” sê Marionette, wat amper soos ’n trotse ma klink.

Nadat sy ’n chai latte bestel het, vertel sy my van dié organisasie. Echo-jeugontwikkeling is ’n alternatiewe omgeegemeenskap wat huisvesting gee vir jong mense tussen 14 en 24 jaar. Die stigter, Jaco Strydom, het aanvanklik gefokus op berading in skole, maar gou besef dat dié jong mense se omstandighede tuis die ware probleem is. Die behoefte aan ’n veilige hawe is verwesenlik met Echo se eerste huis in 23ste Laan. Daar is tans verskeie huise in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad en omstreke.

Die huise bestaan uit ongeveer tien kinders en vier mentors elk. Die doel van die mentors is nie net om te help met alledaagse dinge nie, maar hulle is ook daar vir emosionele bystand en leiding. Echo het ook kommunes vir jong volwassenes wat klaar is met skool en reeds werk of studeer. Die kommunes het ook mentors wat dié jonges probeer lei en help ontwikkel. Marionette sê dat Echo nie ’n welsynsorganisasie is nie, maar ’n gemeenskap en familie. “Ons is daar in slegte én goeie tye.”

Ek word voorgestel aan ’n vriendelike meisie met ’n groen poniestert, Willemien Rheeder. Hierdie 27-jarige werk in die koffiewinkel en vervul ook die rol van mentor of “huis-ma” in een van die Echo-huise. Willemien beaam dat dit ʼn groot verantwoordelikheid is om na soveel kinders om te sien.

Gelukkig het ons ʼn groot ondersteuningsbasis – daar is soveel mense wat betrokke is, ouer mense by wie ons raad kan vra.

Sy vertel ook van die verbintenis tussen Echo en Grounded at Echo. Die eienaars van dié pragtige koffiewinkel is David en Karolien van Berkel.

Dié getroude paartjie het in een van Echo se kommunes ontmoet en saam dié organisasie, Grounded at Echo, help ontwikkel. Volgens Willemien is die koffiewinkel soos “die kombuis in ’n huis, die plek waar die gesin kuier”. Die Echo-huise is nie almal naby mekaar nie, daarom word die koffiewinkel ook gebruik vir kuiers en vergaderings.

So tussendeur die kuier ontmoet ek nóg ’n lid van die Echo-familie. Natalie Liebenberg, ’n maatskaplike werker, vertel hoe kinders deel raak van hierdie ontwikkelingsprogram. Volgens haar is daar nie regtig plek vir kinders bo die ouderdom van 14 jaar in Suid-Afrika se kindersorgstelsel nie. Kinderhuise se fokus lê op jonger kinders en pleegouers neem nie graag tieners in hul huise nie. Echo vul dus ʼn leemte, maar ongelukkig kan hierdie organisasie ook net soveel kinders hanteer. “Ons hou kinders op ʼn waglys en probeer ander reëlings tref vir dié wat ons nie kan help nie.” Vir hierdie maatskaplike werker is dit ʼn bitter pil om te sluk as ʼn kind weggewys moet word. “Dit los jou nooit nie, ek wonder gereeld wat met daai kind gebeur.”

Ná nog twee (heerlike) cappuccino’s, was dit tyd vir my om te gaan. Met die rit terug huis toe, dink ek weer oor my gesprek met drie merkwaardige mense. Elkeen het dit duidelik gestel dat daar baie mense betrokke is by hierdie organisasie. Wat sê die gesegde? “It takes a village to raise a child.”

Echo verwelkom ondersteuning in enige vorm: debietorder, klere, kos en skryfbehoeftes. Hulle kort ook vrywilligers vir hul kinderbediening. Jy kan selfs ’n kind borg elke maand. As jy betrokke wil raak by Echo-jeugontwikkeling, besoek hul webwerf by www.echoyouth.co.za of stuur ʼn e-pos na [email protected].

Bel gerus Marionette Venter by 082 895 1562, Jaco Strydom by 084 477 7123 of die kantoor by 012 331 2341.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adriaan Adams ·

Dis ‘n voorreg om van die mense in die Echo span te ken. Ek kan met groot vrymoedigheid bevestig dat Echo Jeug ‘n reuse verskil maak in elk van die jongmense se lewens. Well done…

Anita Upton ·

Ek onderstreep graag wat Adrian se. My sus is ook baie betrokke vir jare al by Echo en ek kan getuig dat so baie van haarself, haar omgee en tyd aan die kinders gegee word sonder om iets terug te vra. Sy is maar een van die skare engele wat betrokke is by Echo. Ondersteun hul asb.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.