Onbekend is onbemind

vrees

Foto: Pixabay/Pexels.com

Ons vrees van nature die onbekende. Te dikwels is ons vrese dieper gewortel in ons eie gedagtes as in die realiteit daar buite.

Dis ‘n groot dag as jy ontdek die monster is nie onder die bed nie, hy is in jou kop.

Daar is ‘n direkte verband tussen ‘n tekort aan akkurate inligting, afstand en die groei van onrealistiese vrese. Wanneer die afstand tussen ons en die objek van ons vrese al hoe groter word, is ons gewoonlik ook meer ontvanklik vir onwaarhede en allerhande stories wat jou vrese bevestig.

Die rede hiervoor is ons geneigdheid om te soek na bewyse wat ons angstigheid regverdig. Ons doen dit, dikwels onbewustelik, deur die stories wat ons vrese bevestig, baie ernstig op te neem en dié wat die teendeel bewys, met suspisie te behandel en byvoorbeeld af te maak as verdigsels of gegrond op swak navorsing.

Dit is waar van mense wat ly aan ekstreme vreesversteurings soos aragnofobie (die vrees vir spinnekoppe en ander aragniede soos skerpioene) en kloustrofobie (vrees vir engtes of ingeslote ruimtes, engtevrees), maar ook vir die res van ons.

Veral in ‘n land soos hierdie.

Dis een ding as jou vrese gefokus is op die mense wat jou rêrig bedreig, maar wanneer die afstand al groter word tussen mense wat mekaar nie bedreig nie – die meerderheid van Suid-Afrikaners – voorspel dit niks goeds nie. Groter afstand beteken gewoonlik groter vooroordele.

Die politici weet dat vrees ‘n maklike manier is om mense aan hul kant te kry. Die strategie is maklik, jy blaas eenvoudig die moontlikheid van een of ander tragedie op en verseker mense dan dat jy en jou groepie kan help.

Die probleem is, mense wat bang is, doen dom dinge.

Doemprediking lei dikwels tot selfvervullende profesieë. Hulle saai vrees en haat wat maak dat mense oorreageer in situasies wat lei tot verdere konflik. Dié konflik word dan voorgehou as ‘n bewys dat hul vrese gegrond is, wat maak dat hulle nog dommer dinge aanvang, selfs geweldadig begin optree, wat weer daartoe lei dat die ander party begin terugbaklei – en op die ou einde het jy ‘n gemors waarin almal verloor.

Ek onthou hoe ons destyds kakiebos op die plaas gebrand het, gewoonlik op ‘n windstil dag. Soos die vuur al warmer en warmer brand, styg die lug al vinniger op. Die vuur kry meer suurstof wat tot gevolg het dat hy nóg warmer en vinniger brand. Ja, selfs op ‘n windstil dag, skep ‘n vuur uiteindelik sy eie wind wat hom aanblaas.

Dít is die probleem met rassehaat en die groeiende haatspraak oor die algemeen in ons land. ‘n Tipe konflik word geskep wat homself aanblaas. ’n Bose kringloop.

Mense is uiteindelik só ver van mekaar af dat hulle letterlik op mekaar moet skree in ‘n poging om gehoor te word.

Wat ons nodig het, is die teendeel: om nader te gaan en moeite te doen om kennis te maak en te luister, so naby dat ons ordentlik met mekaar kan praat en nie hoef te skree nie.

Dit vra tyd en moeite.

Wanneer mense vir my sê dis nie moontlik dat die uiteenlopende mense in ons land in vrede met mekaar kan saamleef nie, glo ek hulle eenvoudig nie, want ek beleef die teendeel elke dag – ook op my eie erf.

Ek is die laaste 16 jaar deel van ‘n gemeenskap waar van die mees uiteenlopende mense denkbaar (uit meer as 10 kulture) in 14 huise jaar ná jaar saamwoon. Dis geen Utopia nie. Daar is dikwels konflik, stoute kinders wat droogmaak, vuil skottelgoed, ego’s wat bots. Die gewone goed, maar minder as 5% van ons spanninge en konflik is rasverwant.

Ons beleef eintlik buitengewone eenheid. As jy die inwoners sou vra om hul belewenis te beskryf, praat meeste van hulle eerder van ‘n familie as van ‘n program of ‘n projek.

Hierdie ervaring word egter eers moontlik wanneer mense dit lank genoeg, naby genoeg aan mekaar waag in ‘n ernstige poging om mekaar werklik te leer ken en verstaan.

Kurt Vonnegut het gesê daar is niemand wat jy nie kan leer liefkry, as jy eers sy storie gehoor het nie.

Die probleem is, dis makliker om te kla, gal te braak en te kritiseer. Jy kan dit deesdae selfs in die gemak van jou eie sitkamer op sosiale media (of onderaan ‘n artikel soos hierdie) sit en doen en jouself op die skouer klop dat jy besig is om ‘n enorme verskil te maak.

As onbekend dan onbemind is, is die teendeel ook waar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.