Onderwysbeurs bemagtig roepingsgedrewe studente

(Foto: Ekrulila/Pexels)

Die onderwyslandskap in Suid-Afrika is dinamies met heelwat uitdagings en ʼn groot tekort aan goeie, toegewyde onderwysers.

Daarom bied die Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) in samewerking met Pretoria FM en Rapport Onderwysfonds vanjaar vir drie roepingsgedrewe Afrikaanse voornemende onderwysstudente die geleentheid om gratis aan dié private Christelike hoëronderwysinstelling te studeer.

Aros se kampus is in Montanapark in Pretoria geleë en sy afstandsonderrigmodel bied die ideale geleentheid vir onderwysers om hul studies én praktieseonderwys-ervaring deur hul vier jaar te kan kombineer. Die instelling spog ook tans met ʼn rekordgetal van meer as 2 000 studente.

Die Prestige-onderwysbeurs beloop ʼn waarde van R250 000 per beurs oor ʼn tydperk van vier jaar. Dit sluit ʼn BEd Grondslagfase-graad of ʼn BEd Intermediêre Fase-graad in een van die twee BEd Intermediêre Fase-rigtings of ʼn BEd Senior Fase & VOO-graad in een van die drie spesialiseringsrigtings in.

Dié beurs is in 2018 vir die eerste keer aan voornemende student Ronè Bosman toegeken en sedertdien het agt ander studente die geleentheid gehad om hul studies daardeur te voltooi.

Volgens die instelling is die Prestige-beurs daarop gemik om die onderwysberoep en studie in die onderwys weer prominent onder skoolverlaters se aandag te bring. “Ons wil graag belê in belowende voornemende studente wat dit as ʼn roeping sien om ’n onderwyser te word en wat wil studeer by ʼn instelling waar hulle op ʼn Reformatoriese grondslag onderrig ontvang. Ons land het sulke mense dringend nodig,” aldus prof. Rikus Fick, rektor van Aros.

Nadia Scott, Aros-bemarkingsbestuurder, voeg by dat Aros-studente hoog in aanvraag by private sowel as openbare skole, asook in ’n verskeidenheid van ander opvoedkundige instellings is. “Wanneer onderwys as ’n roeping gesien word, gee dit sin en betekenis aan die onderwysberoep. Suid-Afrika het goed opgeleide en gemotiveerde Christenonderwysers nodig. Sodoende kan ware hoop en liefde aan die volgende geslag oorgedra word tot voordeel van die Suid-Afrikaanse samelewing.”

Om in aanmerking vir hierdie beurs te kom, moet voornemende studente aan die volgende kriteria voldoen:

  • ʼn Gemiddeld van minstens 75% behaal in die graad 11- finale eksamen en die graad 12-Junie-eksamen (die punte van 2022-matrieks word in ag geneem – vir persone wat reeds matriek voltooi het, tot en met die ouderdom van 21, word daar gekyk na finale matriekpunte).
  • Deelneem aan buitemuurse aktiwiteite, bv. leierskapsposisies, sport, kultuur‑ en ander aktiwiteite word ook in ag geneem.
  • ’n Motivering van ongeveer 300 woorde skryf waarin hulle verduidelik waarom hulle onderwys by Aros wil studeer.

Aansoeke is reeds oop en sluit op 31 Oktober 2022. Klik hier om aansoek te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.