’n Ou wysgeer het eeue gelede opgemerk daar is drie maniere om wysheid te bekom: die maklikste deur nabootsing, die bitterste deur ondervinding, die edelste deur selfondersoek. Dit is aan hierdie woorde wat ek dink terwyl ons by die Solidariteit Beweging se krisisbraad sit en luister na die mosies van hoop wat aanvaar word. Die Solidariteit Beweging dink saam met hul lede oor die pad vorentoe.
Natuurlik, waar baie mense is, is daar baie menings. Dit is goed so. As almal presies eenders oor alle sake sou dink, sou dit nogal ’n vaal samelewing gewees het waarin ons leef. Die rede hoekom ek aan hierdie wysgeer se woorde dink, is: Juis met die deurgaan van die aanvaarde mosies besef ek hoe kompleks ons samelewing is en veral hoe belangrik dit is dat daar juis dan op sinvolle wyse leiding gegee word.
As ons in Suid-Afrika wysheid sou wou bekom deur nabootsing sou daar vir ons eintlik net twee opsies wees: Die eerste opsie is om ’n historiese bewussyn te skep en deur terugkyk na te boots wat gewerk het en te vermy wat nie gewerk het nie. Ongelukkig leef ons in ’n tyd waarin historiese bewussyn maar baie skraps is. Die tweede opsie is om soortgelyke kontekste as waarin ons onsself bevind te gaan soek in die wêreld en hul oplossings na te boots. Daar steek waarde in, maar ’n mens loop ook die risiko om ’n ander man se oplossing op jou eie probleem te probeer toepas. Ons gaan moeilik in Suid-Afrika wysheid bekom suiwer deur nabootsing.
Hartseer genoeg is ons lief om wysheid te bekom op die bitter manier, naamlik deur eie ondervinding. ’n Mens leer baie deur ondervinding. Geneties hardekop en moeilik gehoorsaam aan die raad van ’n ander hou ons Suid-Afrikaners van ’n eie rigting inslaan. Ons dink baiekeer eerder krities afbrekend as probleemoplossend. Laat my dink aan die grappie van die oom wat op sy 100ste verjaardag deur ’n joernalis gevra is: “Oom het seker in die 100 jaar baie veranderinge beleef?” Hy antwoord: “Ja, en ek was teen elke liewe een van hulle.” Ons mense kan baie makliker kritiseer as wat ons probleemoplossend dink. So, ja, ons leer in Suid-Afrika deur ondervinding. Ongelukkig is leer deur ondervinding meestal bitter en betaal ’n mens ’n prys daarvoor.
Daar is ook ’n ander manier van wysheid bekom en dit is deur selfondersoek. So het ek die krisisberaad van Dinsdag 5 Mei beleef. Hier is ons besig met selfondersoek, hier soek ons saam na ’n oplossing vorentoe. Ons boots na dit wat gewerk het, en wil dit weer opbou. Ons som op dit wat ons deur ondervinding (soms bittere ondervinding) geleer het en ons ondersoek self die opsies wat vir ons wyse en verantwoordelike leiding sal bied vorentoe.
Natuurlik is dit ’n proses. Natuurlik vat oplossings vind tyd. Natuurlik kom oplossings nie alles op een slag nie, maar ’n mens moet iewers begin. Die vraag is of ons erken dat ons wysheid nodig het. Soms kry ek die idee dat ons mense dink hulle het al die wysheid in pag, hulle hoef nie te leer nie – nie deur nabootsing, ondervinding of selfondersoek nie. So ’n beskouing is wreed en verkeerd. In Suid-Afrika kort ons wysheid, baie wysheid.
Daarom, laat ons maar leer deur nabootsing waar ons kan – dit kan nie skade doen nie. En laat ons leer deur ondervinding – dit is meestal bitter maar tot nut. Laat ons ook leer deur selfondersoek – dit is slim en verantwoordbaar.
Daar is egter ’n grondfundering wat ons nie mag nalaat nie: Die beginsel van alle wysheid en kennis is diens aan die Here (Spreuke 1:7). Hoe dwaas sal ons wees as ons wysheid op ’n ander plek soek? Hoe salig is die volk wat luister na sy Woord? Of dit nou deur nabootsing is, deur ondervinding of selfondersoek, wysheid sal ons moet wysheid kry oor die pad vorentoe. Mag ons dan onthou: Kennis begin met die dien van die Here.
ons moet terugkeer na ons God wat in beheer is van alles.
Insiggewende lees stof inderdaad, ek vra myself of het ons mense met die moderne tegnologie begin om kennis en wysheid te verwar?