Ons kan by die Indiane gaan leer

pierre-massyn-sitting-bull

Hoofman Sitting Bull, legendariese hoofman van die Hunkpapa-Lakota Indiane, wat geglo het in die credo: “Leef in harmonie met die natuur en respekteer haar”. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

In ʼn vorige rubriek op Maroela Media (2 November 2018) het ek die kollig laat val op die roekelose uitwissing van die natuur. Die skuldige party is een enkele spesie – die mens, wat hom sedert die vroegste tye skuldig gemaak het aan die een wandaad ná die ander op die Blou Planeet, ons tuiste. Dit is die mens wat die aarde vergiftig, slagysters stel, die saag en die byl (deesdae elektries) roekeloos inlê (1) en haainette in die see plaas vir dolfyne en seeskilpaaie om in te verstrengel. China het onlangs die handel in tiere gewettig. In Die Burger van 1 November staan daar dié veelseggende opskrif “60% diere is uitgeroei”.

Die mens is so vasgevang in sy materiële bestaan dat hy kontak met die natuur en die Skepping verloor het. In die proses het hy homself nie net geestelik verarm nie, maar hom van God vervreem. Te midde van die rumoer en gewoel van sy alledaagse bestaan, weet die moderne stadsmens nie meer watter vrede en rus in stilte gevind kan word nie. Vasgeketting aan sy trapmeule wat loop op spertye en elektronika, en aangevuur deur sy dolle gejaag na geld, laat die stadsmens se mentaliteit hom nie toe om te stop om ʼn skilpad oor ʼn pad te help nie of gansies in Adderleystraat oor die pad laat stap nie.

Verknog aan sy wegholstrewe om beskaafdheid tot die uiterste te dryf, het die mens elektrisiteit (met lugbesoedelende steenkool) geskep om lig te maak, en in die proses die strelende flonkering van sterlig prysgegee. Die mens wat nog nie onder die sterre geslaap het nie, weet nie waarvan hy sy siel ontneem nie. Ek was gelukkig genoeg om onder die sterlig by die Spitskoppe in die ou Suidwes-Afrika te kon slaap. En op my boot kon Moeder Oseaan my menige nag op haar wiegende skoot aan die slaap sus.

Maar intussen, so vertel die motortydskrif Naamsa se syfers ons, word daar maandeliks ʼn ekstra 50 000 voertuie op ons doodgewurgde paaienetwerk ingedruk. En al wat eintlik gebeur, is dat die tempo van die rotresies daagliks versnel.

Die antieke volke het in harmonie met die natuur gelewe. Met “antieke volke” bedoel ek die Indiane, die Inuïte (Eskimo’s), en ons plaaslike die Khoi-San. Die gang van hul bestaan het ook daarvoor gesorg dat daar nie ʼn oorbevolkingsprobleem was soos wat ons vandag ondervind nie – ʼn dilemma wat enorme druk op die natuurlike en sosiale hulpbronne plaas nie.

Die kontak met die Westerse kultuur het egter dramatiese gevolge gehad wat die volkekundiges “akkulturasie” noem. Dit kom neer op een kultuurgroep se aanpassing by of aanneming van ‘n ander groep se kultuur. In hierdie verband het alkohol byvoorbeeld rampspoedige gevolge vir die Australiese inboorlinge (Aborigines) gehad. Die natuurlewe het egter die grootste prys betaal, want gewere en buskruit het grotendeels daartoe bygedra dat hele spesies, onder meer, die kwagga en die Kaapse bloubokkie heeltemal uitgewis is. Olifante is by die honderde duisende vir hul ivoor afgemaai en renosters word tot vandag toe gejag vir hul horings.

Baie jare gelede (1831–1890) het daar ’n man met die naam Tatanka Yotanka, oftewel Sitting Bull geleef. Toe hy jonger was, was hy bekend as Húŋkešni (Springende Ratel). Hy was slegs tien toe hy sy eerste buffel geskiet het en op 14 was hy reeds ’n dapper vegter in ’n oorlog teen ’n ander stam. Hy was waarskynlik die magtigste van alle Amerikaanse inboorlinghoofmanne en sy lewe het gedraai rondom die beskerming en verdediging van sy mense, die Sioux-stam.

Terloops, dit was Sitting Bull, bygestaan deur die Noordelike Cheyennes, wat generaal George Armstrong Custer – wat verantwoordelik was vir die uitmoor van tientalle vrouens en kinders –saam met sy ganse Sewende Kavallerie by die slag van die Little Big Horn totaal verslaan het.

Sitting Bull was die hoofman van die Hunkpapa Lakota-Indiane wat die Sioux-stamme laat saamstaan het teen die grondgrypende aspirasies van selfsugtige, eiegeregtige indringers wat hul grond stelselmatig geïnfiltreer en beset het en uiteindelik miljoene Amerikaanse buffels (bisons) uitgewis en sodoende die Indiane se lewensbestaan vernietig het. Die Amerikaners het ook treinspore deur die jagvelde gebou wat die Indiane en hul grondgebied ʼn verdere nekslag toegedien het.

Die slagspreuk “How the West was Won” moet eintlik lees “How the West was Lost.” Die rolprent Dances with Wolves vertel ʼn flentertjie van daardie tragiese verhaal. Gaan lees gerus ook Bury My Heart at Wounded Knee. Dit sal jou laat huil – as jy ʼn hart het. Daar steek meer as ʼn greintjie waarheid in in die uitdrukking “White man speaks with forked tongue”! Maar jy kry goed en sleg onder alle bevolkingsgroeperinge.

Sitting Bull is op 15 Desember 1890 geskiet, in ʼn reservaat wat die Bleekgesigte Standing Rock genoem het.

Maar hoekom skryf ek vandag in die jaar 2018 oor hoofman Sittende Bul? Omdat hy die volgende waarheid kwytgeraak het wat, oorspronklik in Engels, bekendheid verwerf het:

Only after the last tree has been cut down
Only after the last river has been poisoned
Only after the last fish has been caught
Only then will you find that money cannot be eaten.

Hy het na die (wit) Amerikaners verwys. Die Indiaanse Sitting Bull en sy mense was ʼn voorbeeld van hoe die mens in harmonie met sy omgewing kan lewe. Hulle het dit reggekry, want hulle het die natuur gerespekteer.

pierre-massyn-waterblommetjie

Pierre Massyn en 42 voet-seiljag Waterblommetjie was die eerste seiljag in menseheugenis met ’n Afrikaanse naam en die Franse Tricolere. Foto: Verskaf.

As ons nou al in die jaar 2018 AD hierdie voorbeeld kan navolg, sal ons moontlik iets vir die nageslag kan nalaat.

Vier ikoniese sangers (2) het ʼn liedjie met die naam “The Last Cowboy Song” gemaak. Die liedjie spreek tot my, maak my eintlik hartseer, want een van die strofes lui:

This is the last cowboy song
The end of a hundred year waltz
The voices sound sad as they’re singin’ along
Another piece of America’s lost

(Waylon Jennings)
He rides the feed lots, clerks in the markets
On weekends sellin’ tobacco and beer
And his dreams of tomorrow, surrounded by fences
But he’ll dream tonight of when fences weren’t here

ʼn Heining sal my nooit inperk nie. Ek is bly ek is in 1953 gebore en nie 2018 nie…

  • Pierre Massyn is ʼn skrywer, avonturier en natuurbewaarder.

Voetnotas:

  1. ʼn Enkele voorbeeld is die eens magtige Grootvadersbos naby Swellendam, waarvan ʼn fraksie oorgebly het.
  2. Kris Kristofferson, Wylon Jennings, Johnny Cash en Willie Nelson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

sus ·

en so vernietig ons 2 potige diere Moeder aarde … en ja op die ou end sal ons besef dat ons nie geld kan eet nie …. dat dit wel wortel van alle euwel is!

Andre ·

Die bakleiery oor grond is n oer -oue ding. Inplaas daarvan om in ander rigting te kyk en te sien dat daar BAIE ander plek is , het die oer-stamme mekaar eerder keelaf gesny oor n baie klein lappie grond………..dit gaan vandag nog so ……en sal vir die volgende duisend jaar ook so gaan…………..as daar nog mense is.

Natan ·

Goeie artikel. Ja, die meeste van ons is maar hoere. Doen alles vir geld. Presies waarvan die Bybel praat. Interessant dat hierdie Indiaan met sy voete plat op die aarde en voor al die huidige omgewingsprobleme hierdie wyshede kwytgeraak het.

Kyk maar hoe steenkoolmyne wateropvangsgebiede vernietig en almal dit doodluiters aanvaar. Dit is slegs 1 voorbeeld.

LR ·

Ek is n kommunis nie MAAR: Die gulsogheids elememt van kapitalisme gaan uiteindelik die grootste vyand van die mensdom word. Die beginsel van elke jaar moet daar groei en vehoogde winste wees ( van die besgheids wêreld ) kan mos nie volhoubaar op die langtermyn wees nie.
Die mensdom is meer veslaaf aan geld as aan dwelms of drank. Die Woord is baie uitdruklik hieroor, dit sê wees tevrede met dit wat jy het.
Gulsigheid gaan uitendelik die enkele grootste sonde wees wat die einde van die mensdom gaan wees.
Ons kan nie rerig iets hieraan doen nie want die Hemel moet kom so sê die woord.
Die aarde sal nie meer met water vergaan nie maar met vuur. Ons het nou al reeds n voorsmakie daarvan nl aardverwarming, hoe sê die spreekwoord waar n rokie draai moet daar n vuurtjie brand. Kapitalisme stook hierdie vuurtjie met besoedeling.
Die mense wat aardverwarming ontken, ontken seker ook die feit dat die aarde rond is.
Kom ons hoop net die tyd wat hierdie foltering sal voortgaan verkort sal word soos,die Woord ons leer, ter wille van die regverdiges.
Lekker koel dag verder.

Reinhardt ·

100%. Maar soos wat mense al hoe meer bewus raak van omgewingsake, so sal die vryemark homself korrigeer, hopelik voordat dit te laat is. ‘n Voorbeeld is Nespresso wat met hul koffie kapsules nou verneem het om alles uit herwinbare materiale te maak, piv plastiek. Menige slaghuise begin deesdae met etiese beginsels, waar jy presies weet waar jou vleis vandaan kom en die omstandighede waarin die diere blootgestel is. Die vryemark sal dit oplos, maar ek hoop net dis betyds.

D E Jones ·

om so n jag te besit het jy nie te sleg gevaar in die kapitalistiese rat race nie.jy klink soos die dominie wat huisbesoek doen in n arm gemeente maar hy kom daar aan in n groot nuwe blink kar,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.