Onthou van diereliefde dié liefdesmaand

 

(Foto: Pixabay)

Februarie is die maand van liefde, maar terwyl die meeste mense oor hul lewensmaat koer, moet daar ook onthou word van troeteldiere.

Dotsure.co.za, ’n Suid-Afrikaanse troeteldierversekeraar en hoofborg van The Bachelor SA, het besluit om ʼn projek, Unconditional Love, van stapel te stuur om vir 13 troeteldiere wat nie ʼn huis het nie, die perfekte huise te kry – nes Lee Thompson op The Bachelor SA na die perfekte lewensmaat soek.

“Ons hoef nie troeteldiere te beïndruk met geskenke nie, hulle raak nie kwaad as ons hul verjaarsdae vergeet nie, hulle gee nie om of jy vet, maer, ryk of arm is nie… Hulle gee nie eens om as jy Crocs dra nie! En daar is niks beter as om liefde te kry van jou viervoetige vriende wanneer jy ʼn moeilike dag by die kantoor gehad het nie,” het dotsure.co.za in ʼn verklaring gesê.

David Roache, besturende direkteur van dotsure.co.za, het gesê hulle navorsing toon dat mense wat The Bachelor SA kyk, ook diereliefhebbers is, en daarom wil hulle nie net werk maak om vir Lee Thompson liefde te vind nie, maar ook vir dié diere.

(Foto: Pixabay)

Daar is verskeie maniere om betrokke te raak, en dit is so maklik soos een, twee, drie. Raak só betrokke:

Aanneming

Dotsure sal weekliks saam met die The Bachelor-episode op M-Net, kanaal 101, ʼn troeteldier bekendstel vir aanneming. Die troeteldier sal ook op dotsure.co.za se sosiale media te sien wees. Mense wat belangstel kan hier aansoek doen vir hul droomtroeteldier. Daar sal ʼn rits toetse en inspeksies gedoen word om seker te maak die diere kom by hul ideale eienaars uit.

Help om vir ʼn dier kos te gee in ʼn diereskuiling

Diere wat wag om aangeneem te word, kan ook gehelp word deur die Unconditional Love-veldtog. Vanaf 14 Februarie tot 9 Mei sal mense wat vir hul eie diere versekering koop by dotsure.co.za, ook outomaties, sonder ekstra koste, ʼn dier in ʼn diereskuiling help kos gee.

Help om troeteldiere name te gee

Lede van die publiek kan hul deel van R65 000 wen deur hul verbeelding te gebruik op die dotsure.co.za webtuiste. Name the Pet is ʼn speletjie op die webtuiste waar spelers uitgenooi word om oulike name vir die diere te gee. Daar is weekliks R5 000 om te wen deur aan dié spel deel te neem.

“In hierdie maand van liefde wil ons troeteldiereienaars herinner aan die verantwoordelikheid om na hul viervoetige vriende om te sien en ons wil bewusmaking skep vir al die hawelose diere wat desperaat is vir aandag, interaksie en ʼn liefdevolle huis,” het Roache gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christelle ·

Dit is ‘n wonderlike initiative van Dotsure.
Rescue troeteldiere is so vol liefde ❤️

Alicia ·

Dit is so amazing! Ek sal elke week die program kyk, net om te sien watse oulike viervoeters daar is! Wat ‘n awesome gebaar, baie dankie :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.