Ontsnap van #FeesMustFall voordat jou toekoms verbrand

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Solidariteit Helpende Hand stel vir 2017 ʼn ekstra R4 miljoen beskikbaar vir studiehulp aan studente wat hul studies wil skuif na Akademia om weg te kom van #FeesMustFall. Studente het tot 2 Desember 2016 tyd om aansoek te doen en in aanmerking te kom vir studiehulp by Helpende Hand se Studiefondssentrum. Die organisasie is ook besig met ʼn projek om bykomende fondse in te samel om studente te help om hul studiekostes vir 2017 te dek.

Duisende studente moet tans moedeloos toekyk hoe hul akademiese toekoms gyselaar gehou word deur #FeesMustFall. Die Helpende Hand Studiefondssentrum wil graag in hierdie onseker tye help om oplossings te vind vir studente en ouers, wat bekommerd toekyk hoe hul toekoms beïnvloed word deur faktore buite hul beheer.

Die huidige krisis by universiteite landwyd het die finansiële nood van studente weer onder die soeklig geplaas.  Helpende Hand het besluit om nie vanjaar ʼn jaareindfunksie te hou nie, maar eerder die geld in die studiefonds te stort. Helpende Hand daag nou ander organisasies uit om dieselfde te doen.

“Twee faktore binne Helpende Hand se beheer kan uitkoms bring, naamlik Helpende Hand se suksesresep om jongmense se studies te befonds en ons wete dat Akademia akademiese stabiliteit vir studente sal verseker,” sê dr. Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

Helpende Hand se studiehulp word gebied in die vorm van rentevrye studielenings, wat ʼn besparing van 46% is op gewone banklenings. Die organisasie doen ʼn beroep op die publiek om studente, wat graag wil studeer, te ondersteun en nie toe te laat dat #FeesMustFall hul toekoms belemmer nie.

Huidige studente, wat graag wil skuif na Akademia, kan nog aansoek doen om hul deel van die R4 miljoen-studiehulp vir 2017, deur http://studiefonds.propay.co.za te besoek en aansoek te doen. Vir meer inligting, kontak die studiefondssentrum deur ʼn epos na [email protected] te stuur.

Akademia bied vier B.Com.-grade, in ondernemingsbestuur, bestuursrekeningkunde, ekonomie en regte, sowel as finansiële beplanning aan. Gevorderde diplomas in projekbestuur en hoër sertifikate in kantooradministrasie en rekeningkunde word ook aangebied. Studente wat in hierdie rigtings wil studeer, kan hul studies by Akademia voortsit. Die SFS se standaardprosedures en kriteria sal geld vir die keuring van kandidate vir hierdie beursfondse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Hanneke ·

My seun studeer BsC by PE Univ. Hy het laat in sy lewe eers besef wat hy regtig wil doen en het met vreugde en moed die graad aangepak. En nou dit!!!! Ons (en meestal hy) is verslae en moedeloos. Gaan dit end kry of gaan almal maar sit en kyk hoe ons land afgebreek (gebrand) word???

Sophia ·

My man se seun ook! Kan nie sy graad klaarmaak nie. My dogter wil volgende jaar gaan maar mens kry nie eers antwoord van Universiteit af nie agv hierdie optredes. Voel moedeloos.

Johannes ·

Hierdie is ongelukkig nie ‘n opsie vir alle studente nie… Wat van studente wat nie ‘n BCom rigting studeer nie? Gebruik eerder die R4 000 000 om die universiteite te dagvaar!

Te laat ·

Waarom sal Solidariteit hul swaar verdiende inkomste op papsak universiteitsbesture wil vermors? En hul opvolgers gaan nog meer pateties en anti-Afrikaans wees! Akademia moet so vinnig moontlik uitbrei. Dit is al waarop ons nou moet fokus.

Lourika ·

Kan ons (lede van die publiek) bydraes of skenkings maak aan die studiefonds?

Landi Slatter ·

Dagsê Lourika

Dankie vir die navraag. Vir meer inligting kan jy gerus die studiefondssentrum kontak deur ʼn epos na [email protected] te stuur.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

bernie ·

Ek Sal graag wil weet how sleg most Ek af wees voor Ek kan kwalifiseer vir n beurs vir my dogter. Ons doen all 2 jaar aansoek, maar word afgekeur. Hulle pa is oorlede en ek is medies ongeskik met kanker. Dankie

Dot ·

Bernie kontak Solidariteit se Helpende Hand en maak afsprask met hulle en dan verduidelik jy jou situasie. Hier bo het Maroela hul adres gesit. [email protected]
Glo en vertrou jy gaan regkom

Louise ·

Sal graag ook bydrae wil maak. Het julle ‘n sms-fondsinsamelingslyn?

Rinie ·

Ons oorweeg ook ander studiesentrums vir ons seun se voornemende studies in 2018. Is daar vooruitsigte vir BSc- kursusse by Solidariteit?

Louise ·

Enige vooruitsigte om Bsc by julle program te voeg? My dogter sal onmiddelik oorskakel vanaf UP na Akademia as julle dit aanbied.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.