Onttrekking van gevaarlike produkte in SA

Samsung Galaxy Note 7 (Foto: Samsung)

Samsung Galaxy Note 7 (Foto: Samsung)

Die onlangse debakel, toe Samsung se Galaxy Note 7-fone van die mark onttrek moes word omdat die batterye ontplof het terwyl die foon gelaai word, het verbruikers opnuut laat besef dat dinge selfs in ons tegnologiese eeu skeef kan loop wanneer produkte ontwerp en vervaardig word. Verskeie motorhandelaars het ook die afgelope jaar van hul modelle teruggeroep omdat iets fout gegaan het toe dit ontwerp en vervaardig is. Ina Opperman verduidelik hoe die Wet op Verbruikersbeskerming verbruikers beskerm teen onveilige goedere.

Veiligheidsmonitering en die herroeping van goedere met defekte word deur artikel 60 van die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal. Die artikel lê die verantwoordelikheid vir die ontwikkeling, aanvaarding en toepassing van praktykkodes vir die hele bedryf voor die deur van die Nasionale Verbruikerskommissie.

Die Verbruikerskommissie se rol

Dit beteken die kommissie moet sorg vir doeltreffende stelsels om kennisgewing te ontvang van verbruikersklagtes of verslae oor produkgebreke, defekte of gevare. Dit sluit die teruggawe van goedere weens ’n gebrek, defek of gevaar in, sowel as beserings, siekte of skade aan eiendom weens ’n produkgebrek, -defek of -gevaar. Enige ander aanduiding van gebrek, defek of gevaar, beserings of skade word ook hierby ingesluit.

Die Verbruikerskommissie moet ook hierdie bronne van inligting monitor en die inligting ontleed om vas te stel of daar ander verborge of potensiële risiko’s vir die publiek is, dit identifiseer en ondersoek instel na die aard, oorsake, mate en graad van die risiko, sodat verbruikers ingelig kan word daaroor. Indien die kommissie bevind dat die goedere onveilig is, moet dit toesien dat die goedere herroep word vir herstelwerk, vervanging of terugbetaling.

Artikel 60 maak ook voorsiening vir die kommissie om op te tree indien dit redelike gronde het om te glo goedere kan onveilig wees of ’n potensiële risiko inhou wanneer die produsent of invoerder nie optree nie. Die kommissie kan ondersoek instel en eis dat die produsent die produk herroep.

Samsung se Galaxy Note 7-selfoon

Volgens Trevor Hattingh, woordvoerder van die kommissie, het die kommissie met Samsung Electronics South Africa vergader om die maatskappy se vordering met die herroeping van die Galaxy Note 7-selfoon van die Suid-Afrikaanse mark te bespreek.

Samsung het die kommissie verlede maand, in ooreenstemming met die bepalings van artikel 60 van die Wet op Verbruikersbeskerming, in kennis gestel dat dit ʼn vrywillige omruilprogram ingestel het om alle toestelle terug te kry wat voor die bekendstelling van die foon aan verbruikers verkoop is. By ʼn daaropvolgende vergadering het Samsung die kommissie verseker die program is ook uitgebrei na toestelle wat oorsee aangeskaf is.

By die jongste vergadering met die kommissie het Samsung gesê hy het sy pogings om die fone plaaslik terug te kry verskerp deur ʼn volledige veiligheidsherroepingsprogram van stapel te stuur. Die foon word ook wêreldwyd op vliegtuie verbied en spesiale omruilings word op lughawens gedoen.

“Ons is baie bly die foon was nie meer algemeen in die land beskikbaar voordat dit in Suid-Afrika bekend gestel is nie. Die gebruik van gevaarlike produkte of produkte wat nie reg werk nie, veral as dit elektronies of motories van aard is, kan baie ernstige gevolge vir verbruikers inhou. Die kommissie is verlig dat die foon herroep is voordat veral kinders, wat dikwels eerste nuwe tegnologie gebruik, aan die gevaar daarvan blootgestel is,” het Ebrahim Mohamed, die verbruikerskommissaris, gesê.

Volgens Mohamed is die kommissie baie tevrede met Samsung se samewerking en voldoening aan die Wet op Verbruikersbeskerming met betrekking tot die veiligheidsherroeping, maar die kommissie sal steeds ʼn ogie hou oor die saak. Die kommissie sal ook weer binnekort met Samsung vergader oor verdere vordering om seker te maak die fone is herroep.

Mohamed het verbruikers wat nog die Samsung Galaxy Note 7-fone het, aangemoedig om dadelik op te hou met die gebruik daarvan en dit by die naaste Samsung-verspreider in te gee vir ʼn terugbetaling of omruiling vir ʼn soortgelyke foon. Verbruikers kan ook met Samsung Electronics in verbinding tree vir hulp deur ʼn e-pos te stuur na [email protected] of 080 726 7864 te skakel.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor produkte wat ʼn defek of gebrek het, of onveilig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Poekie ·

Ja, gebruik goedkoop 3de wêreld arbeid en grondstowwe en vra ons dan n plaas se geld vir die produk…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.