Oom Herrie se kerrie: Anderkant die Wyngordyn

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Jare gelede was hierdie blou, blou berge ook die jonge Herrie s’n om elke dag te sien en te bewonder. Van die jonge Herrie kan onthou, was hulle maar net daar … ʼn vanselfsprekendheid.

Die Herries het nie baie ver van Stellenboschberg af gewoon nie, en die jonge Herrie en sy maats het gereeld die berg aangedurf en tot by van die laer knoppe op die berg geklim. Die hoofrede hoekom hoër, en selfs die hoogste knop nie aangedurf is nie, was tyd. Want kyk, die jongklomp het mos geweet wat die antwoord sou wees as hulle vir hul ma’s sou gaan vra het: “Kan ons gou die berg uitklim?”

Dus is dit gedoen sonder dat die ouers weet.

Later het Pa Jan vir sy spruite ʼn teleskoop uit Switserland gebring, en die berg is ure gefynkam vir grotte. Want die jonge Herrie is deur grotte geboei. Pa, wat eers ’n paleontoloog was en ma wat ʼn opgeleide argeoloog is, het elkeen ʼn oordosis van grotte gehad, wat die inspirasie om sonder die “ou mense” te gaan bergklim net sterker gemaak het.

En toe trek die Herries Bloemfontein toe, met Naval Hill die bekendste “berg”. Gelukkig was Grant’s Hill net ʼn halwe klipgooi weg, en die jonge Herrie het ure op hierdie kop, wat ook die tuiste van Oliewenhuis is, deurgebring.

Toe oom Herrie vrou vat, is dit met een wat letterlik op ʼn berg met holkranse grootgeword het. Oupa Nic het op Erfenis geboer, teen die berg halfpad tussen Bethlehem en Kestell. Die plaas het uit ʼn aantal natuurlike terrasse bestaan, en die hoofboerdery en die opstal was op een hiervan. Om die pad in stand te hou het nogal groot vaardigheid geverg. Die verruklike bergblom Joan is na die Vrystaatse vlaktes verplaas.

En toe kry oudste werk op ʼn plaas net buite die Paarl, en ʼn katspoeggie van sy hart se punt, Leandri.

En so tussen die chemo’s en ʼn moontlike bloedoortapping deur kry ook Herrie ʼn venstergleuf om ʼn week vir oudste en Wolf te gaan kuier. En weer slaan die skoonheid van die berge vir oom Herrie. Dis wel anders. Van Stellenbosch kon ʼn mens die reus wat teen Simonsberg lê en dut, mooi uitmaak, maar nie van sy “agterkant” wat van die Paarl se kant af te siene is nie. Die keer is daar ook nie kans vir bergklim en grotte soek nie – ʼn nou en dan se rondte met die krukke op die grasperk moet doen.

Wolf was vreelik bly om sy oupa weer te sien, en het die aand by oupa op die bed geslaap. Die naweek het Leandri haar uitgesit – die Saterdag vir haar ouers in die Kaap gaan kuier, en Saterdag het sy omtrent als vir oudste se verjaarsdagpartytjie gedoen. Maar met skottelgoed was steek Wolf vreelik lyf weg, want hy lê onder die kombuistafel en uiltjies knip.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Ella ·

Soos altyd is Herrie se Kerrie briljant! Jy kan die tonele voor jou sien afspeel! So bly die grotman het destyds sy bergblom / grotvrou gekry!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.