Oom Herrie se kerrie: As die mens se beste vriend vergiftig word

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Nou eendag voel Oom Herrie weer vol energie en besluit om ’n ent verder as gewoonlik met die honde te gaan stap. “Stap” is miskien nie heeltemal die regte woord nie, want veral Wolf span sy dik sleehondpote in om die stapper goed rond te sleep. En by omtrent elke huis moet die arme brak anderkant die heining ook nog bestorm word.

Maar die Herries het nog geen idee of Wolf en Nala watwonderse waghonde sal wees nie, veral as die huismense aangeval word. Liefdevol ja, met enigeen wat hulle nog net vaagweg ken.

Maar dalk maak dit ook nie veel saak nie. Op pad terug loop Oom Herrie met sy woefgeselskap by ’n paar digte boskasies op die sypaadjie verby. En ons was net mooi langs die boskasie toe daar ’n tuinwerker wat nog op pad na sy werkplek was, tussen die bosse uitkom, duidelik nadat hy besef het hy gaan nie betyds die werkplek haal nie. Heel verlig sit hy sy staptog voort, maar toe hy tussen die bosse uitkom, loop hy hom amper trompop in Wolf vas. Wolf ignoreer hom min of meer, maar Wolf het ʼn “mombakkies” op wat hom eintlik permanent laat kwaai lyk.

Nala, so ’n entjie verder, skrik vir die figuur wat so onverwags uit die bosse kom, en los ’n blaf (oom Herrie dink van die skrik). Gelukkig het die arme man klaar sy draai geloop, want sy skrik was baie groot.

Nou lees Oom Herrie van die baie honde wat nou weer soos in ’n vlaag amper landwyd vergiftig word as voorspel vir ’n inbraak. Dis ook ’n gereëlde taktiek met plaasaanvalle. Ook Oom Herrie-hulle se bure se hond, en nog ’n huis drie huise weg se hond is al vergiftig. Die bure is kort daarna in ’n huisrooftog oorval.

Dis mos sulke tye wat Oom Herrie se kop vol weerwraakidees raak. Nala en Wolf is soos (bedorwe) kleinkinders in die huis. Nala slaap in die winters tussen Oom Herrie en mev. Herrie op die dubbelbed, en Wolf sal ook vir hom kortstondig ’n lêplek kry tot hy te warm kry.

Wanneer Wolf reken dis etenstyd, spreek hy mev. Herrie in Wolf aan. ’n Mens hoef nie Wolf te verstaan om te weet hy beduie hy is nou baie honger en dis tyd dat hy van die lekker bederfkossies kry nie. Oom Herrie het gelees dat Wolfpraat soos vingerafdrukke is – nie twee wolwe praat heeltemal dieselfde nie. Tog kan verwante wolftroppe ook ander wolftroppe se Wolfpratery oor ongelooflike lang afstande verstaan en so weet waar kos of gevaar is.

Ja-nee, Oom Herrie kan nie eens dink hoe hy gaan voel as misbaksels daarin moet slaag om Nala en Wolf gif in te jaag nie. Of soos die ou mense gesê het, die honde te vergewe nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.