Oom Herrie se kerrie: As jy die kerk se wyn steel…

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Oom Herrie is mos op RSG so half met sterre en planete deurmekaar, en sou nou en dan met ’n maan gepla.

Darem nie so lank soos ’n ekspert, vriend Matie Hoffman nie, maar tog oor een ding kan Matie by oom Herrie kom les neem… met kwaad doen.

Jare gelede, in onse jeugdige fleur, bied ons gemeente ’n basaar aan. Oom Herrie se sus wil ’n spookhuis onder die verhoog hou, en ’n klompie van ons jong manne maak ʼn tonnel deur die rommel in die ruimte onder die verhoog. Dis hier waar ons op ’n paar bokse leë Nagmaalwynbottels afkom. Sommer gou word die bottels vol water getap, en die proppe terug opgedraai. Draai nou ʼn prop af, en ruik, en iemand sal wel deeglik glo hy het die ware Vaaljapie beet.

’n Week of wat later word by die saal ingebreek. Die dominee vertel die diewe is met ’n stofsuier vort. En, om die een of ander rede het hulle die bokse met leë Nagmaalwynbottels weggedra, sê hy met ’n vraende frons.

Die jonge Herrie dink so by hom sigselwers… laat dit vir daai diewe ’n les wees… steel die kerk se wyn en dit verander in water.

Vrydagaand had die Herries se gemeente weer ’n gemeente-ete. Die dominee vertel van ’n verleentheid wat hy met ’n vorige oorgekom het. Hy het gaan wyn skink (elkeen moet sy eie wyn en eie glase saambring), en nooi toe ewe ’n tante wat wonder wat van haar glase en wyn geword het, om van syne gebruik te maak, en skink sommer vir haar ook.

Terug by die pastorie is daar nie net ’n leë bottel en ’n paar vuil glase in die koelsak nie, maar nog sy en mev. Dominee se onaangeraakte bottel en skoon glase ook. Die dominee moes toe maar inderhaas op die telefoon spring om die misterie van die verdwene wyn en glase op te klaar.

In die Herries se wêreld is die NG Kerk die groot Afrikanerkerk, en baie mense weet skaars van die Hervormde Kerk, of dan volledig, die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika. Dis nou die Herries se kerk.

Verlede jaar, kort na die groot skeuring, is die gemeente nog seergemaak maar pak nogtans die bespreekte skoustalletjies waar vanjaar weer die allerheerlikste aangeskaf kan word. ’n Nuwe banier moet gemaak word, en iemand ken iemand wat dit billik sal doen.

Dis toe die banier by die stalletjie opgesit word dat dit blyk die vervaardiger maak ook nie van die Hervormde Kerk (en die spelling van die NG Kerk) uit nie. Die banier lees: “Ned Gered Hervormde Kerk Bloemfontein-Wes.”

Verslae kyk die teenwoordiges na die banier wat darem nou nie sê wat bedoel was nie. Verslae lees een hardop: “Ned Gered Hervormde Kerk.” Waarop ’n gryskop-omie sy hande in die lug gooi en sê: “Halleluja!” Dis steeds ʼn groot grap in die pas-geredde gemeente.

Die deelname aan die skou was ’n groot sukses.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.