Oom Herrie se kerrie: Bang vir engtes

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Dié week, die een of ander tyd, moet oom Herrie weer “in die tonnel” gaan lê. Dis nou daai magnetoskandeerder.

En hoewel ʼn mens steeds in ʼn soort tonnel lê, is dit niks teen die oorspronklikes nie en daarvan is oom Herrie ʼn pionier. Meer as ʼn kwart eeu gelede is ʼn gewas op ʼn baie moeilike plek in oom Herrie se kop gekry (maar aan die buitekant van die brein) en so soekende na ʼn neurochirurg wat bereid is om hom uit te haal, beland oom Herrie by die Mediese Navorsingsraad vir skanderings deur die destydse amper splinternuwe masjiene.

In ʼn gang sit ʼn deksel teen die muur en die deksel word oopgemaak. Uit die tonnel trek hulle ʼn stretsjer. Die (destydse) jonge Herrie moet daarop gaan lê en dan kop eerste in die muur ingestoot word. En die deksel word weer toegemaak. So byna vir ʼn uur.

Later hoor oom Herrie iemand het geweet wat wag, maar gedagtig aan die baie gevalle van erge engtevrees in die familie, is doodstil geswyg dat oom Herrie nie die wille weghollens kry nie.

Nou net om ʼn idee te gee en oom Herrie identifiseer die mense nie selfs al is die meeste nie meer met ons nie. Die een oom was so erg deur engtevrees geslaan dat, toe sy mense hom tydens ʼn Geloftefees soek, hy pens en pootjies op ʼn kar geklim het. Hy het nooit gevlieg nie, want hy was te bang as hy eers in ʼn vliegtuig is, sal hy agterkom hy hou dit nie en dan is dit te laat om uit te kom.

Die oom se oom was weer ʼn legende op Mosselbaai waar hy gewoon het. By geleentheid moes hy agter in ʼn Volla ry en hy was so benoud dat hy die hele pad vooroor gebuk met sy kop by die voorruit uit gestaan en vandaar met die mense binnekant gepraat het.

Die storie wat egter die vrees ten beste gedemonstreer het, was met die afsterwe van sy pa. En nou moet mens byvoeg, die oom was vir alles bang, waaronder engtes.

Die kis het voor die begrafnis op die huis se stoep, wat oor die see uitkyk, op bokkies gestaan. Na die begrafnis en met die mense daar vir versnaperinge, merk sy vrou op dat hy wye draaie om die bokkies loop waarop die kis staan.

Voorts, met die baie mense, moes die mans as hulle wou kamer verlaat, die klienhuisie onder in die hoek van die tuin gebruik. Die stoep was gepak van die begrafnisgangers en van daar kon hulle soos op ʼn pawiljoen oor die see uitkyk … en die kleinhuisie.

Naderhand moet die oom ook kleinhuisie toe, maar weens die engtevrees moet die deur op ʼn skreef oop wees. Sy vrou moes voor die deur kom sit en kywie hou.

Maar die tante draf stoep toe, gryp die twee bokkies en gaan druk dit by die oom in die kleinhuisie in en skuif die knip van buite toe.

Aandagtig kyk die skare op die stoep. Eers gebeur daar niks, maar toe vlieg die deur skarniere en al uit die kosyn, gevolg deur die bokkie, gevolg deur die oom wat broek op die enkels die bokkies flenters spring.

Van moederskant was daar weer die oom wat nooit leer bestuur het nie. Sy vrou het altoos bestuur en hy het langs haar gesit. Maar toe maak hulle die dra van veiligheidsgordels verpligtend en van toe af ry die oom op die agterste sitplek, reg agter sy vrou.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louise ·

Kostelik!! Afrikaans is tog so ‘n “ditsem” taal, niemand kan goed so raak beskryf soos ons nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.