Oom Herrie se kerrie: ‘Boer’ koop 2 lenostels se bokdlolle

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

BOER se wakker ogies kan skaars oor die koöperasie se toonbank gekyk kry, maar hulle neem dooierus op twee groot glashouers met die lekkerste van lekkerste daarin.

“Ek soek sikke lekkels en ook sikke lekkels,” beduie hy vir die vriendelike tannie agter die toonbank.

Boer gaan eers anderjaar skool toe, maar intussen boer hy kliphard saam met Pa daar aan die voetheuwels van die Maluti’s. Soos om saans die trekkers in die stoor te moet gaan bêre.

Vandag is hy saam met Ma dorp toe en hy moet met die inkopies help. Die koöperasiebesoek is altyd ’n hoogtepunt. Dikwels gaan Oupa saam, al is dit net om die ou, bekende reuke te kan inasem en na die stand van sy aandele te verneem.

Maar as ’n man soos Boer nog nie kan lees en skryf nie, moet daar plan gemaak word met geld uitmekaar ken.
“Hoeveel wil jy van elkeen hê, vra die vriendelike tannie.
“Een lenostel se dlop,” sê hy en beduie met die vuil wysvingertjie wat Ma vooraf silwerskoon geskrop het, maar wat ondertussen weer genormaliseer het, na die houer met drop, “en een lenostel se bokdlolletjies.”
“Boer! Nickerballs!” help Ma reg. “’n Mens sê nie so nie.”
“Maar Pa sê . . .” maar Ma kyk hom in die middel van die sin doodstil.
“Nieghelbôls,” sê Boer vir die tannie wat heimlik wonder wat die Yanks van dié politieke inkorrektheid sal dink.
“Maak maar asseblief vyf rand van elk,” beduie Ma. “Ek dink hy het inflasie oorskat en ons het hom nog net van papiergeld geleer.”

Maar die bytrek van Pa laat Boer ’n belangrike instruksie onthou: “Pa het gesê ek moet ’n pet koop teen die son. Die andel een is te klein.”
Ma beduie vir die tannie dit is reg en die tannie bring ’n grasgroen John Deer-petjie vir Boer om op te pas. Dit pas.
“Hoeveel,” vra Ma.
“ ’n Olifant en ’n halwe renoster,” sê die tannie.

Boer krap in sy beursie, maar daar is nie ’n olifant in nie. “Ma, ek het net ’n leeu en twee lenostels.”
“Gee vir die tannie die leeu,” sê Ma en die noot verwissel van hande. Die tannie druk op die rekenaar se knoppies en ’n laai spring oop.
“Hier is jou renoster en ’n halwe renoster.”
Pet op die kop en ’n bokdlolltjie in elke kies stap Boer en sy ma deur se kant toe. Dit wat Ma kom koop het, word elders op die bakkie gelaai en die rekening vir Pa gestuur. Pa betaal met buffels en luiperds.

“Ma,” hoor die tannie voordat Boer buite hoorafstand is: “Hoekom moet ek vir die tannie ’n halwe leeu gee en sy gee vir my ’n halwe leeu tlug?”

Ma gaan skoon staan en sak haar skouers soos haar kop oortyd na ’n antwoord delf.
Die tannie glimlag breed. Geld ken en somme maak is nie dieselfde ding nie. En is sy bly haar kinders is al groot genoeg om hul eie koppe oor sulke gewigtige dinge te breek.

Ook vir Boer en sy sussie lê daar nog harde lewenslesse voor. ’n Dag ná die aankoop van die dlop en bokdlolletjies is hul oupa en ouma wreed op hul plaas vermoor. Ná kerk.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae