Oom Herrie se kerrie: Boeremusiek op steroïde

Foto: Pixabay

In die reël hou Oom Herrie wyd van die politiek. Daai is leeuwêreld, en niks is gewoonlik soos dit lyk nie. Seker dié dat ’n parlementslid in Oom Herrie se jong dae slegs een van twee volwassenes was wat Oom Herrie ooit gewillewragtig het.

Maar met die afsterwe van Ahmed Kathrada onthou Oom Herrie hy het jare gelede iewers gehoor of gelees dié man was op Robbeneiland so bekend daarvoor dat hy lief was vir Boeremusiek. Oom Herrie maak toe soos dit deesdae gepas is en gaan Google, en sowaar. Dit het hom glo nostalgies gemaak.

Dit laat Oom Herrie se gedagtes ver teruggaan. Oorkant Oom Herrie se grootwordhuis het ’n Amerikaanse tante gewoon wat baie lief was vir musiek van The Beatles. En dit MOET hard gespeel word, het sy aan haar kinders verduidelik, wat dit weer met groot gesag aan die Herries kom oorvertel het. Pa Jan was ’n man vir klassieke musiek, en die Beatles het hom glad nie aangestaan nie. Nog minder die Rolling Stones.

Maar Pa Jan se afkeur was niks in vergelyking van dié van oom Van Tonder wat skuins agter die Amerikaanse tante gewoon het nie. En hy was weer ’n Boeremusiekondersteuner. Dus, as die eerste harde note van die Beatles oor die grens na oom Van Tonder getoer het, kom die Boeremusiek oorverdowend hard terug. Die tante het gereeld migraines gekry, en daai harde Boeremusiek was ’n seker sneller.

Dan kla sy oral want Beatle-musiek MOET hard gespeel word. Niemand behalwe sy en haar kinders het vir daai een geval nie

Dan kla sy oral want Beatle-musiek MOET hard gespeel word. Niemand behalwe sy en haar kinders het vir daai een geval nie.

Nou moet ’n mens verduidelik. Oom van Tonder het by omtrent al wat Afrikaanse openbare optrede as omroeper opgetree, en hy het al die nodige klanktoerusting gehad. Ook vir buitelugbyeenkomste soos op die Braak.

Hy kon sommer op een slag vir die hele Stellenbosch Boeremusiek opdis.

En hy het die stem gehad wat daarby gepas het. Maar ook die woordeskat. As hy kwaad was kon hy tien minute lank kliphard in goeie Afrikaans swets sonder om veel woorde te herhaal, so belese was hy. Sy arme kinders het met sulke sessies verdamp, want nie lank nie het die hele buurt se kinders oopmond kringetjie voor sy huis gestaan en Afrikaans leer.

Kortom, nie die soort man om mee ’n Beatle-oorlog te gaan probeer voer nie.

Oom Herrie se paaie met Boeremusiek sou nog een keer kruis – dié keer jare later as werkende man in Bloemfontein. Oom Herrie se afdeling reël saam met ’n private organisasie ’n kultuurkonsert in die Stadskouburg. Dit was iets nuuts vir destyds, want daar tree ’n Chinese groep op, ’n Skotse orkes, “gumboot”-dansers van die myne af, Sotho-kunstenaars, en nog verskeie. En ook ’n Boereorkes.

Dit was iets nuuts vir destyds, want daar tree ’n Chinese groep op, ’n Skotse orkes, “gumboot”-dansers van die myne af, Sotho-kunstenaars, en nog verskeie. En ook ’n Boereorkes

Sommer vroeg met die reëlery hoor Oom Herrie daar is ’n Boere-orkes in die Mooihawe-tehuis vir verswakte bejaardes.

Oom Herrie steur hom aan die deel van “verswakte” net mooi niks. ’n Paar jaar tevore het ’n inwoner van 91 saam met Oom Herrie aan ’n vyf kilometer pretdraf deelgeneem. En Oom Herrie het hom nie eens vreeslik ver gewen nie. Die omie in bevel bespeel ’n Duitse akkordeon, en te lekker, ryg hulle die een stuk Boeremusiek na die ander uit.

Een tannie is effe dwars, en hou aan verduidelik hulle speel ander goed ook. En elke keer stel sy “Tulips from Amsterdam” voor.

Eerstens, meen Oom Herrie, die Engelse lied gaan nie die Afrikaners goed verteenwoordig nie, en tweedens is dit vir Oom Herrie eenvoudig ’n aaklige lied. Oom Herrie het haar tot vervelens met verskonings van haar idee laat afsien, maar die verskonings was ook al haas op toe die groot aand aanbreek.

Daai aand oortref die orkessie homself. Wit en swart was gaande oor die ou mensies se optrede. Niemand het so ver Oom Herrie weet ’n migraine gekry nie.

En niks van die Beatles is opgevoer nie. Netnou was oom Van Tonder in die gehoor en dan het die baie heterogene gehoor die aand groot blootstelling aan ʼn ander sy van Afrikaans gehad. En sou mense kon sê die huige oor-en-weer-rassisme het daai aand begin.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.