Oom Herrie se kerrie: Brille en pille

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Iets wat oom Herrie die hiper-pieperellakoors wil laat kry, is as die openbare uitsaaier se Afrikaanse omroepers van iemand se “brille” praat as hulle net een bril bedoel.

Amper soos die TV-nuusleser wat ge-“lees” het van die Springbokke wat ’n wedstryd op die Olimpiese “Stadium” gaan speel.

Maar oom Herrie het nou regtig drie brille, en dit sluit nie eens ’n sonbril in nie.

Ja, oom Herrie het steeds sy getroue en heerlike multifokus-ene met die lieflike titaniumraam. So lig soos ’n veertjie sodat oom Herrie al daarmee in die bad en in die kooi geklim het – skoon vergeet van die bril.

Maar met die chemoterapie is daar plekke wat die bril nie meer wil “bykom” nie en moet nou tydelik hulp ingespan word. Twee apteekbrille – ’n nr. 2 om op die rekenaar te werk, en ’n nr. 3 om koerant en boek te lees. Dis ’n hele logistiek om die regte bril by die regte bestemming te hê.

Maar eendag, so glo oom Herrie, is die behandelings verby en uitgewerk en sal dit weer net een bril wees. Dieselfde titaniumraam met nuwe multifokuslense.

Want afgesien van die kankers stap vader tyd mos ook maar aan, en ouderdom is nou nie vir sissies nie. Die daaglikse pille gee ’n aanduiding. Normaalweg is oom Herrie op net een pil – ’n bloeddrukpilletjie. Maar so met die chemoterapie word dit periodiek meer – twee kortisoonpilletjies per dag en opsioneel pilletjies vir naarheid. Maar dit eindig nie daar nie – multivitamiene, brouersgis, kankerbossie (Sutherlandia) en ja, ’n aalwynpilletjie, maar wat hy moet doen, word nou nie in goeie geselskap genoem nie.

En jogurt en ses “klein” maaltye wat danksy die hormooninspuitings eerder op verskeie middernagtelike strooptogte op die yskas en koskaste uitloop. Met Wolf en Nala wat slaap-slaap in die kombuis opdaag om te kyk of daar nie dalk ’n ietsie te ase is nie.

Nie dat daar konsensus is oor wat bejaard nou beteken nie. Nou die aand lees oom Herrie ’n storie uit die Anglo-Boere-oorlog waar die generaal vir die jong kaptein Gericke vertel van ’n “ou tannie van seker al sestig” wat hy raakgeloop het en so vol wysheid is.

Ja-nee, oom Herrie is al gewoond daaraan dat wildvreemde swart mense wat hy raakloop wanneer hy met Wolf en Nala gaan stap hom beleef groet met “môre, oupa”. Sestig het ook al gekom en gegaan, maar oom Herrie voel nog lank nie soos ’n bejaarde nie. En oom Herrie ken heelwat mense ouer as hy wat ook nie aan hulself as bejaardes dink nie. Soos om by die kerk se kuierhoekie vir bejaardes te gaan aansluit nie. Of om een van die bejaardes te wees vir wie ook nou geskenkies ingesamel word nie.

Wanneer ’n mens bejaard is, hang seker van elkeen se eie gesondheid en ingesteldheid af. En dan is daar ook verskeie mense van wie oom Herrie al agter hul rug as “oom” en “tannie” praat wat eintlik jonger as oom Herrie is, want hulle is al “oud”. Maar oom Herrie sal hulle darem nie as “oom” en “tannie” aanspreek nie, al is dit nou ook ’n eretitel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae