Oom Herrie se kerrie: Daar is ’n dingo agter die stoel

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Soms het mense die eienaardigste troeteldiere – van spinnekoppe tot meerkatte. Die Herries was self deur ’n fase van makoue, kapokkies, konyne en wat nog. Deesdae is dit net twee honde. Wolf, die poolhond, het duidelik baie wolf in hom en “verkondig” dit ook met die vreemdste repertoire van wolfgeluide, veral naby etenstyd.

Nala was saam met haar nege boeties en sussies ’n weggooihondjie. En goed gebaster is sy nou ten ene male gebaster, maar ’n voorsaat wat sterk deurslaan, is die beeshond. Ja, as sy en Wolf speel, is Wolf knaend boggelrug aan die draf met Nala wat aan sy een hakskeen hang, of sommer makliker, Wolf se stert. Wolf duld dit, terwyl niemand anders veel aan hom mag vat nie, laat staan nog met sy stert peuter.

Die persoon wat die beeshond geteel het – eintlik Australiese beeshond – het ook dingo’s gebruik. Die dingo is eintlik ’n hond wat jare gelede saam met jagters na Australië gekom het, en weer wild geword het. Deesdae word die mak herkoms dikwels ontken, maar dan is dit nie so maklik om te verduidelik hoe die voorsate die Australiese kontinent bereik het nie.

Nala is die ene vriendelike lieftalligheid (behalwe as sy ’n kat gewaar of voël in die huis kry). Soos die dingo kan Nala haar voorpote in omtrent enige rigting draai, met die voorpote ook soos vliegtuigvlerke weerskante uitgestrek. Soos die dingo kan sy haar “prooi” met die voorpote vasgryp en vashou. Maar anders as die dingo is dit nie om te keer dat die prooi ontsnap nie, dis om te keer dat die liefde wat sy van so ’n vasgegrypte persoon kry, ophou.

Die Herries het ook nog nie gesien dat Nala ’n boom klim nie soos dingo’s glo kan doen. Wolf is wel al ’n hele ent teen die vyeboom uit, maar hy klim ook op omtrent alles.

Nala is lief om agter oom Herrie se stoel voor die rekenaar te kom lê as oom Herrie werk. Dié stoel het wieletjies, en oom Herrie moet eers kyk of dit veilig is voor hy agteruit ry.

Elke mens se flou makou is seker ’n glansryke pou. Maar dit is tog interessant om die wolf en dingo in ons wollerige gesinslede op te let.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Shannon ·

Herman dit wil voorkom of the Dingo `n aantal verbasterings ondergaan het. Een van die mees onlangste studies dui aan dat daar `n antieke groep mense vanaf die Indiese sub kontinent af in Oz aangekom het met hulle proto tipe Dingos. En voor dit was daar heel waarskynlik reeds sporadiese oorplantings na Austrlia.
My logika sê ook vir my dat, indien mense met hulle mak gemaakte ‘honde’ reeds meer as 4000 jaar gelede daar aangekom het dan moes hierdie Asiatiese wolwe reeds vir ten minste honderde, indien nie duisende jare vooraf reeds saam met hul aangenome eienaars in een of ander vorm van simbiose.
Met ander woorde, dit is baie realisties om te postuleer dat die Australiese Dingo nie bloot net eienskappe met die Asiatiese wolf deel nie maar dat beide hul eienskappe deel met `n voorsaat – een wat waarskynlik lank terug reeds uitgesterf het. M.a.w. die hele lot is nou basters. En as mens in ag neem dat die eerse ‘mense’ so lank terug as 80 000 jaar gelede reeds bietjie vir bietjie in Australië aangkom het, en bygesê, as ons in ag neem dat hierdie ‘mense’ (met Neandertal DNS) waarskynlik al langs die kuste van Suid Indië en Suid Asië getrek het, is dit onrealistiese om te skat dat daar ‘boemelaar’ honde/wolwe was wat hulle gevolg het ?

En dit maake sin as mens in ag neem dat die Europese menslike bevolking in `n groot maat Indo-Europees is. M.a.w. die Europese voorsate het reeds duisende jare gelede begin met ‘animal husbandry’ en dit na die weste versprei.

`n Baie tragiese gevolg van die hond-wolf se aankoms in Australië is egter die uitwissing van `n horde spesies – die mate waarvan ons tot vandag nog nie presies kan vastel nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.