Die afgelope week beland oom Herrie toe op daardie plek waar mense gewoonlik wyd hou as hulle kan – die hospitaal.
Maar dit is ook die plek waar engele hou. ’n Mens noem hulle verpleegsters. Hulle het nie vlerke nie, maar op platsoolskoene loop en loop en loop hulle om by al die einas uit te kom.
Dan, soos klokslag saans, verdwyn hulle vir ’n rukkie. Nie lank nie of die engelestemme klink op waar wondersoete note sonder instrumentbegeleiding die wonderlike groot Geneesheer loof. Soggens maak hulle weer so.
Hulle sien immers gereeld wonderwerke gebeur. Ander kere word in eerbied aanskou hoe die Vader ’n sterfling vir hoër diens oproep – na daar waar pyn en smart nie meer bestaan nie.
Oom Herrie was nog altoos ’n groot kampvegter daarvoor dat mense wat mag, bloed skenk. Oom Herrie moet hier maar vir ander preek, want weens maltakoors moet die oom wyd van daai naald hou. En oom Herrie het juis nie so ’n groot voorliefde vir naalde nie.
Maar hierdie week moes oom Herrie in iemand anders se oë kyk, by wyse van spreke. Twee eenhede wat ander goedgunstiglik afgestaan het.
Dus vra oom Herrie weer – laat almal wat kan en mag in hulle getalle opruk en mildelik bloed skenk. Die nood daarvoor is groot.
Oom Herrie sou juis ’n ideale skenker wees. Volgens die weermag se “dog tag” waar die medic die bloed uit die regterarm getrek het, is oom Herrie O+. Maar die ander bloed wat uit die linkerarm getrek is sê: “Aikona”. Daai kant is dit A+.
Mevrou Herrie sê Wolf en Nala, ons honde, verlang erg. Boonop het almal die indruk gekry dat hulle al geweet het iets is verkeerd voordat hul mens pa en mensma nog geweet het iets is nie pluis nie. Natuurlik verlang oom Herrie self erg. En dankie vir al die gebede en goeie wense. En die gebede en ondersteuning vir Mevrou Herrie, vir Groot Herrie en Klein Herrie.