Oom Herrie se kerrie: Dans met Wolf

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Oom Herrie het nou nie ʼn troppie wolwe om mee te dans, soos laas daai ou in die fliek, “Dances with wolves”, nie. Maar Wolf, die wit poolhond, het duidelik genoeg Arktiese wolf in sy are om byna-byna die ware Jacob te kan wees.

En so kom oom Herrie agter dat as Wolf nou regtig orig raak met opgepotte energie, en daar nie tyd vir ’n stappie of so iets is nie (Wolf jaag immers nie balle en goed soos ’n hond nie), dan kan ons dans. Wolf kan ver ente los op sy agterpote loop, en sommer ook agteruit loop. Veral as oom Herrie ’n pakkie biltong aangeskaf het en die huis probeer insmokkel om in die yskas te bêre. Wolf kyk hom heelpad gelyk in die oë.

Wolf het bitter baie fiemies, maar biltong is nie een van hulle nie.

Dus, oom Herrie klap op die hande, Wolf gaan staan regop, en ons begin dans. Malkoppie, malkoppie, te lekker. Of dit as ’n vastrap, polka of ’n ding kwalifiseer, weet oom Herrie nie, want oom Herrie het twee linkervoete, en die dansbaan was altoos ’n mynveld.

En toe demonstreer oom Herrie die dansery vir ’n kuiergas. Nala besluit dis onregverdig dat Wolf die aandag kry, en kom dring haar op. Sy het nie so baie wolf in nie – wel ’n spatseltjie dingo, en lyk boonop soos ʼn groot bakoorjakkals – veral oor die groot ore.

En sy blyk toe ’n geniepserige “indringer” te wees met die dansery, met oom Herrie wat nou twee rofies op die rugkant van die hand het.

Maar dis nie al “merk” wat oom Herrie nou het nie. Nou een oggend, nog pikdonker, is oom Herrie onderweg om te gaan werk. Die honde agterna, want hulle moet ’n slag buite kom.

Voel-voel om nie in die gangdeur vas te loop nie, maar voel-voel mis, en die deur slaan oom Herrie ’n netjiese kloof teen die voorkop, met ’n halwe gholfbal van ’n knop daaronder. Omdat oom Herrie daaraan dink om hom binnekort weer as kerkraadslid verkiesbaar te stel, het oom Herrie darem ook nie die deur aangespreek nie.

Pa Jan het dit ongelukkiger getref. Pa Jan was senior lektor in Stellenbosch toe hy ’n professoraat hier in Bloemfontein kry, om die splinternuwe mediese fakulteit se departement van Anatomie op die been te bring. Die nag voor sy eerste oggend in die klas hoor hy geluide in die huis – wat geblyk het die sinkplate op die dak te wees wat afkoel – en hy gaan stel ondersoek in. Nog alles vreemd in die nuwe huis, loop hy met sy twee arms lank uitgestrek reg na voor. Mooi weerskante van die oop deur verby. Sy eerste klas vir die nuwe studente gee hy te met ʼn oog wat nie te waffers lyk nie.

Binne die huis, so lyk dit, kan dit maar gevaarlik wees.

Hoeveel mense het nie al in ongevalle beland na ’n glasbak gebreek en die stukke sorgvuldig opgevee is nie – maar daar tog ʼn stuk die besem en skerp oë ontglip het? En hoeveel mense het nie al ʼn draai by ongevalle gemaak na hulle gekyk het of daai nuwe soort messlypers inderdaad die messe so vreeslik vlymskerp maak? Dit doen.

Of besig te wees om buite te braai en heen en weer in en uit moet wees om goed aan te dra – en iemand besluit dis ’n goeie tyd om die skuifdeur toe te maak weens die trek en die rook wat die huis in kom?

So ’n arme man moes vreeslik gelap word na hy toe deur die onverwagse glasdeur is. Na hy gelap is dat hy soos ’n mummie lyk, gaan sit hy op die troon om te ontspan. Daar steek hy ʼn kankerbalkie op, en skiet die donderbalkie tussen die bene in die kastrol. Groot fout, want die lappe met ontsmettingsmiddels is daarin gegooi.

Na sy lansering moes die ambulans laat kom word. Toe die twee ambulansmanne hom by noodgevalle se trappe uitdra, vra hulle wat gebeur het. Hulle gaan so aan die lag dat hulle die draagbaar laat val, en die arme man nog ’n been breek ook.

 

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke, Troeteldiere

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.