Oom Herrie se kerrie: Die donkie is (soms) ʼn wonderlike ding

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

As die gesprek eers in die rigting van donkiestories draai, kom die een storie na die ander uit. Sommige is waar, soos al die stelle wat mense al afgetrap het om hierdie dierasies gery te kry, soms met elemente van waarheid en ander duidelik stories wat wyd met die waarheid omgaan.

Nietemin, die afgelope naweek beland die donkiestories ook in die gesprekke. Sommige is al vreeslik bekend, soos die oom en tante wat met die steeks donkie op pad terug plaas toe gestrand raak. Gelukkig tel ʼn bottel terpentyn onder die negosieware wat aangeskaf is en die oom maak ʼn lap, liggies gedoop in terpentyn, aan die sweepstok vas en smeer die donkie onder die stert.

Die donkie vlieg met so ʼn vaart weg, dat die tante agter af rol. Die oom kan in die haastigheid net aan een raad dink – gooi die bottel terpentyn vir die tante en gil: “Smeer aan ou vrou en kom!”

Of die spoorwegwerker wat elke dag ʼn hele ent al langs die spoorlyn moes opry om by ʼn treinoorgang te kom en weer terug tot by sy werkplek omtrent langs sy huis. Hy het begin wonder of ʼn stormwaterdeurlaat onderdeur die spoor nie dalk die ding kan doen nie en ry met die donkiekar nader, maar die donkies se ore raak bo aan die beton en net daar steek hulle halsstarrig vas. Die werker maak ʼn plan en met hamer en beitel kap hy vier spore deur die beton en sy ompad is baie korter.

Maar hy beland voor die landdros vir beskadiging van staatseiendom. Die landdros stel ter plaatse ondersoek in en wil weet waarom die man nie net van die sagte sand onder weggewerk het nie.

“Dzou ônne hê my nou helemal verkjeerd geverstaan. Dis nie die donkies se pote wat te lank is nie, dis hulle se ore wat te lank is.”

Op ʼn ander plaas moes Daneman Vrydagmiddae proviand op die dorp met die donkiekar  loop kry. Dié dag was daar oponthoud en die boer vermaan Daneman om tog maar gou te maak. Maar dis al hoeka lankal pikgitdonker nag toe Daneman by die opstal aankom. Die boer wil nog sy mond oopmaak, toe skreehuil Daneman sy frustrasies uit.

In kort kom dit daarop neer alles het voor die wind gegaan tot omtrent halfpad terug huis toe tot by die drif. Daar kry hy die moruti wie se motor loop staan het. Hy bied toe aan om die moruti na die naaste opstal te neem om hulp te kry.

“Maar net daar kan die *&^%se donkies my nie meer verstaan nie.”

Met ʼn groot gesukkel is tot by die eerste opstal gesukkel, maar die mense was nie tuis nie. Toe die tweede en daar verneem die tweetal dat die hele plaaslyn af is. Bel is buite die kwessie. Maar ʼn paar plase aan is die plase op ʼn ander lyn. Miskien kan daar gehelp word. Die boer stuur ook dadelik ʼn Hanomag en spaardrywer om die dominee se ryding te gaan insleep sodat dit nie dalk intussen voete of skade kry nie.

Die reisgenote kry ʼn fles warm koffie en twee sakkies gekerfde biltong en die donkies is lekker hawer gevoer.

Toe daar verder gery moet word, is die donkies éérs lui. Daneman se gemoed begeef hom en hy spreek toe die dierasies in sy gebruiklike gekruide taal aan. Die dominee moet maar verstaan.

En die dominee verstaan. Hy self is al gefrustreerd verby. Trouens, die dominee begin saampraat met die donkies. “Jou hamer! Jou skroewerdraaier! Jou blikesel!” Daneman wonder of die moruti dan nie regte vloekwoorde ken nie.

Maar toe dit blyk die eerste plaashuis op die ander telefoonlyn se mense is ook nie daar nie en die donkerte en winterkoue begin toeslaan, toe gesels die dominee in presies dieselfde tale en met dieselfde drif as Daneman met die donkies. En so is hulle darem naderhand by ʼn opstal waar die telefoon werk en die mense tuis is.

Alles gebeur omtrent gelyk. Die tante gaan lui solank die dominee se huismense op en maak die kooigoed met twee warmwatersakke reg. ʼn Warm bad word getap en ʼn groot bord kos opgeskep. Die twee oudste seuns ry met die Landrover om die dominee se ryding te gaan haal. En Daneman kry weer koffie en padkos. En die donkies lekker lusern.

Dit was nog nie heeltemal die einde van Daneman se ellende nie, maar die gespook om by die spookhek waarvoor die donkies na donker so bang is verby te kom is ʼn verhaal op sy eie.

Dié aand het Daneman ʼn ekstra saam met sy loon en proviand gekry.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae