Oom Herrie se kerrie: Die Engelse hekkie

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

As iemand Engels is, respekteer oom Herrie dit. Maar as iemand nie Engels is nie en hy maak asof hy Engels is, dan is dit vir oom Herrie kômmin.  Soos miesies Wên der Baail wat oor die onderdeur vir die kinders in die agterplaas skree: “Tsjildrin, kam out of de afterjaart. Joe wil têmp ien de houndestrount.”

Oorle’ ouma het vertel van ʼn tante van toet wat in die geselskap gesit en kort-kort vir die kinders gesê het: “Kinners, julle moet Ingels praat. Dis ghrind om Ingels te praat.” Nee, in hierdie konteks is dit nie ghrind nie, dis kômmin.

Of soos die ouers van “Engelssprekende” kinders wat saam met die destydse LUR, ʼn Afrikaanse skool hof toe gevat het oor sy onwilligheid om, weens ʼn gebrek aan klaskamers, die “Engelse” kinders in Engels te onderrig. Die hof lewer sy uitspraak in Engels en iemand moet vir die ouers die uitspraak in Afrikaans tolk omdat hulle nie Engels kan verstaan nie.

Kômmin man, kômmin.

Nee kyk, as jy jou lyf wil Engels hou, moet jy darem meer van die rooitaal weet as om te kan “jês” en “nôt jês.”

Klein Herrie, nou al 23, verkies heel dikwels Engels. Hy is outisties. Toe die Herries kleintyd sy spraakprobleem besef, was die Afrikaanse grondslag al gelê en is op dié taal gekonsentreer om hom te help om ʼn kapasiteit vir kommunikasie te ontwikkel. Maar toe ons ons oë uitvee, toe ken hy dalk meer Engels as Afrikaans. Agter die TV aan, wat daagliks sy groot geselskap is. In die gesinsverband praat hy hoofsaaklik Engels as hy kwaad is.

Maar dis ʼn meer algemene verskynsel. Baie outistiese kinders sukkel met die harde klanke wat in Afrikaans voorkom, soos die”g” en “r”. Dalk hinder dit hulle ook want hulle hoor klanke anders as ons.

So was daar in Namibië die geval van die outistiese seun wie se pa Duits was, die ma Afrikaans en die huistaal Engels. Die kind het laat waai met die Duits en Engels, maar hy het kwaad geword as iemand met hom Afrikaans gepraat het.

Oom Herrie doen nie sake oor die telefoon nie en nog minder as hy beleefd antwoord: “Oom Herrie hier” en die een aan die ander kant val lustig in Engels weg, sonder om eers jammer te sê omdat hy nie die potensiële kliënt / klant se amptelike taal kan praat nie. Feitlik sonder uitsondering is oom Herrie se Engels ligjare beter as die beller sʼn.

So knip oom Herrie ʼn oproep kort deur vir die dametjie in oom Herrie se beste Sondagengels te sê dis jammer, maar in hierdie onderneming is daar nie iemand wat Engels magtig is nie. (Oom Herrie ken die onderneming wat gebel het – omtrent almal is Afrikaans en oom Herrie sal nie eens met ʼn tang aan hulle vat met “besigheid” nie). Oom Herrie is besig om die foon neer te sit toe hy hoor sy roep aan die ander kant: “Ma’ ekke kan Afrikaans praat…” Nou, as oom Herrie in Afrikaans antwoord en sy kan Afrikaans praat, hoekom val sy in krom en skewe Engels weg?

ʼn Ander een het ʼn “stênd” probeer maak en is stomgeslaan toe oom Herrie sê Engels is sy vierde taal.

Die een wat vir ʼn groot uitboul sorg, is as oom Herrie antwoord en dis eintlik vir mev. Herrie bedoel, maar sy is nie tuis nie. Beleefd vra oom Herrie dat hulle later terugbel, maar dan iemand laat bel wat Afrikaans of Suid-Sotho magtig is.

Want mev. Herrie gooi daai Suid-Sotho. Nie die afgewaterde weergawe hier om Bloemfontein nie, maar die suiwer een soos dit nog in die Oos-Vrystaat gepraat word.

Nog nie een onderneming het teruggebel nie.

Oom Herrie kry regtig daardie mense jammer wat weens omstandighede gedwing word om Engels te pleeg. Soos die slag in die onkologiesaal, met die bruin man, Paul, in die bed oorkant oom Herrie sʼn. Laataand hoor oom Herrie hom bel. Hy vra die een aan die ander kant om tog asseblief namens hom die mediese fonds te bel, want hulle het hom gesoek en as hy, Paul, terugbel gaan hulle met Engels loop neuk en dan brand sy bas vas. Oom Herrie se hart het vir hom gebloei.

Nee, oom Herrie is ook trots op sy oudste, Groot Herrie. Dié het in Afrikaans gematrikuleer en by Kovsies gestudeer voordat dit Cophsees geword het en toe aan ʼn Engelse TV-program deelgeneem. Vlot ge-Engels.

Kla ʼn vrou nou die dag in die kuberruim. Toe sy ʼn ander vrou in Afrikaans aanspreek, vererg dié haar in die ander tyd in en raas: “Are you stupid?”

“No madame, you are the stupid one, because unlike you, I can speak three languages.”

Dit laat oom Herrie dink aan die man wat op ʼn hotel in Wallis se stoep sit, toe twee kelners daar naby met mekaar in Wallies praat. Vererg die sitter hom oor die kelners wat so onbeskof is om in sy teenwoordigheid, in Wallis, met mekaar Wallies te praat.

Nee, oom Herrie het GEEN moeilikheid om met ʼn Engelssprekende Engels te praat nie, veral as oom Herrie weet daai persoon sien nie op oom Herrie se moedertaal neer nie. Of dink oom Herrie is ʼn ongeletterde ghwar omdat die Engels na dekades in die Vrystaat, waar Engels nie ʼn derde taal is nie, maar ʼn vreemde taal is, nie meer so vlot is nie. Maar oom Herrie kan darem sien as die skoubestuur, wat nou als Engels maak, hul name met ʼn plank slaan deur die spel- , taal- en woordfoute wat hulle op die padpredikante maak.

Nee kyk, as iemand sy lyf Engels wil hou, moet hy dit darem ook nie soos sy agterent doen nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Leendert van Oostrum ·

Bravo, Oom Herrie!

Oor die kommin lot Afrikaners wat met hul kinders Engels praat (of erger nog, hul kinders in Engelse skole sit) praat ek nie eens nie. Ek ken genoeg Europeërs, Suid-Amerikaners en Russe wat hul kinders tuisskool sodat hulle hul moedertale suiwer kan aanleer – en daar is die bedreiging meesal nie Engels nie, maar ander dominante tale.

(In Brasilië is dit maar die afgelope drie jaar dat die kinders ‘n tweede taal op skool leer. Mens sukkel jou vrek om iemand te kry wat enigiets behalwe Portugees daar praat. En hulle grootste bedreiging is Spaans. Omgekeerd, het ek by ‘n konferensie ‘n Boliviaanse professor teëgekom wie se werke in vele tale vertaal word, maar hy self kan en wil slegs Spaans praat en verstaan.)

Elke keer as ons weier om in Engels bedien te word skep ons in die arbeidsmark behoefte aan werknemers wat Afrikaans magtig is.

En mens hoef nie ongeskik te wees nie – mens kan gewoon (op goeie Engels) verduidelik dat hulle iemand moet kry wat jou in jou voorkeurtaal kan bedien as hulle met jou wil besigheid doen.

Ek vind dat selfs staatsdienskantore deesdae baie makliker aanvaar as mens met hulle Afrikaans praat (selfs al praat hulle terug in Engels).

Ons moet maar net aanhou.

John ·

Dis waar wat jy se Oom Herrie, dis hoekom Engelse altyd net maar hou by hul verhewe taal en nooit Afrikaans praat nie. Afrikaans is die taal van die ‘common’-eenvoudiges. Vandaar dat die ‘slimmes’ en die New Age-voorbokke hierdie onnosele Afrikaners en hul gebrabbel wil uitroei. Spog voort, Oom Herrie. Een van die eet jy net kerrie…. en verstaan nie ‘n woord wat gese word nie…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.