Oom Herrie se kerrie: Die fiets en die bottel

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Oom Herrie was nog maar ’n jong kannetjie in die laerskool toe die een-dag-per-week tuinman Sjert onverwags op ’n vakansiedag met sy fiets by ons huis aangery kom. Hy het ’n groot moeilikheid, beduie hy.

Maar sy turf sit, want Pa en Ma, wat gewoonlik net sosiale tennis speel, is deur die klub omgepraat om dié dag saam teen ’n buurdorp te gaan speel en is al vroeg vort. Ons drie kinders se spaarvarkies is, soos gewoonlik, omtrent dolleeg, en dis al die geld in die huis.

Sjert brom en besluit hy sal bly. Ons gee hom iets te ete en Sjert begin later in die tuin woel – hy kan net sowel vrug op sy arbeid wys wanneer hy by Pa en Ma vir ’n geldjie naderstaan. Hy oorweeg nie eens om by van sy ander werkgewers ’n voorskot te gaan probeer opneem nie.

Omtrent elke kwartier wil Sjert weet wanneer die “oumense” dan kom. Ons het nie ’n benul nie. Selfone het nog lank nie bestaan nie, en die internet nog minder. Veral Pa kan nogal soms ’n paar geniepsige potte inkry en om vroeg uitgeskakel te word is geen gegewe nie.

Maar teen half vier ry Pa en Ma in die inrypad in. Pa klim met ’n silwer beker uit die kar, en glimlag van oor tot oor. Maar sy glimlag verstar toe hy Sjert gewaar wat ook naderstaan.

Dis ook nie ’n onaardige bedrag wat Sjert so dringend benodig nie. Nadat Pa en Ma hul beursies en ons ons spaarvarkies omgedop het, is daar saam omtrent net ’n tiende van die bedrag wat Sjert so dringend benodig. Maar almal se turf sit, want daar was nog nie bankoutomate nie en die banke was op die vakansiedag bottoe. Van in natura soos ’n halwe sakkie aartappels, ’n halwe pampoen en ander groente, asook ’n pakkie wors wil Sjert ook niks weet nie. “Dis strieklie kêsh ounlie” beduie hy oor sy moeilikheid.

Sjert is op moedverloor se vlakte. Behalwe dat hy nou groot moeilikheid het, wil hy nie sê waar die merrie is nie. Pa kry hom jammer en kry ’n idee. Iemand het onlangs vir pa ’n baie duur bottel wyn present gegee, en omdat Pa en Ma nie juis wynmense is nie, lê die bottel nog onaangeraak in die kas. Dalk troos dit darem ʼn bietjie.

Pa gaan haal en Sjert se oë blink. Sjert vergeet skoon sy haas dat hy dringend “by ’n plek moet wees” en besluit dis gans te gevaarlik om met dié besondere bottel op die fiets te klim. Netnou maak hy ’n ongeluk en dan is daai bottel daarmee heen. Hy sal die bottel dus maar eers klaarmaak voor hy ry.

Dis ook heelwat later wat Sjert slinger-slinger met sy fiets by die inrypad uitry.

ʼn Paar dae later is dit weer Sjert se beurt by ons huis.

“Dis ook maar goed ek het die bottel eers hier klaargemaak,” beduie hy. “Ek het seker tien keer van die baaik afged*nder.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae