Oom Herrie se kerrie: Die FM’pie

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Vanslewe het ’n Vrystaatse boer ’n plaaswerker gehad wat so ’n voorslag met die weervoorspelling was. Soggens vroeg al wou die boer by die werker weet wat die weer gaan doen. Die werker het dan so gaan staan dat hy die hemelruim mooi kan sien, die blou lug ingetuur, sy vinger natgelek en in die lug gesteek, dan goed gedink en gepeins voor hy sy orakel spreek.

Byna soos klokslag in die kol.

Eendag vra die boer weer, maar die plaaswerker is nukkerig, en sê net hy weet nie.

En so karring die boer met die plaaswerker tot dié huilend sê sy FM het gebreek. Nou weet hy mos nie. Met die chemoterapie is daar tye dat oom Herrie te veel in die bed rondrol. Dis ’n voete vryf, die kuite salf teen krampe insmeer, kort-kort badkamer toe suiker, kombuis toe minstens twee keer die nag vir ’n kos-plundertog en die honde wat dan om hom kom sit en wag vir hul aandeel in die buit.

Dis wanneer hierdie simptome op die ergste is dat oom Herrie spaarkamer toe trek sodat vroulief kan goed slaap. Sy trek swaar met dié dat die oom nou so dikwels ’n vyfde wiel aan die wa is.

En dis hier waar die FM’pie oom Herrie se geselskap word. So geleidelik begin oom Herrie ’n ekspert word – weet wanneer om van RSG na Radio Rosestad aan te draai, en weer terug. Daar is omroepers wat omtrent nie iets onaardigs kan speel nie – van Master Jack, Distant Drums, Jerusalem tot klassiek. Te mooi. Ander gooi weer dowwe kolle tussenin, soos hierdie “musiek” wat oom Herrie verstaan as “nuwe Afrikaanse klank” bekend staan. Musiek van waar af? Wolf maak veel meer harmonieuse geluide wanneer hy vroulief laat verstaan hy is nou so honger soos, wel, ’n wolf.

Dan is daar die sadiste wat die een onluisterbare stuk op die ander speel. ’n Paar keer het oom Herrie onder Praat saam se heruitsending aan die slaap geraak, en word dan wakker “gespeel” deur van hierdie geluide wat oorlog teen ’n mens se oortromme verklaar het. Kyk, dan is oom Herrie ongelukkig, want dan begin die voete vryf, die salfies op die krampe insmeer (en glo maar vir oom Herrie, dan is daar in minstens een van die kuite ’n woeste kramp), kombuis toe gaan van voor af.

Dit sou heel gepas wees as die ou treffer, “Clap your hands, Stamp your feet”, dan gespeel het.

In die program vir vragmotorbestuurders sê hulle mos as die manne gaan slaap, gaan hulle lappe trap. Oom Herrie weer, trap en rol, rol weer anderkant toe, beding met Nala vir bietjie meer ruimte, trap lappe … Die manne wens mekaar ook “om mooi te maak”. Die radio se musieksadiste maak egter darem nie mooi nie.

Natuurlik, so in die donkerte gebeur dit dat ’n mens van stasie verwissel en die “bestemming” juis in ’n lugstilte verbygaan en dan, o kragtie, by ’n ander stasie uitkom waar luisterbare musiek ’n rariteit is, en gangbare Afrikaans ’n nog groter skaarste. Dan weer soek na een van die “veiligste” stasies al is dit ’n geval van die beste van euwels in daardie stadium.

Soms kan dit nie anders nie, en word die FM’pie stilgemaak. Soms is daar mooi naggeluide en word weggedommel. Soms is dit weer opstaan en kombuis toe slinger. Roosterbrood met heerlike gouestroop, en ’n sterkerige Boeretroos, en so in die rustige verorbering daarvan en korsies aan Nala en Wolf uitdeel, daag Klaas Vakie ook op. Dan net gou gaan tande borsel, en kom inkruip. Klaas Vakie is dan weer skoonveld. Dan weer die FM’pie se stasies opsoek …

Nou ja, oom Herrie wonder wie se skuld dit is dat daar so baie swak musiek gespeel word. In die gees van vandag, seker apartheid se skuld. Soos die Oos-Kaapse raadslid wat die skuld vir die leë damme op apartheid gepak het. Die “apartheidsregime” het te groot damme gebou en nou sukkel dié om vol te word. Die nuwe bewindhebbers het die oplossing – hulle gaan kleiner damme bou wat sommer gou vol word.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.