Oom Herrie se kerrie: Die mummie met die Adidas

'n Paar moderne Adidas-seilskoene op die insetsel vergelyk met die "Adidas"-skoene aan die mummie (Mummie-foto: Khovdmuseum)

‘n Paar moderne Adidas-seilskoene op die insetsel vergelyk met die “Adidas”-skoene aan die mummie (Mummie-foto: Khovdmuseum)

Dit gons behoorlik op die internet, en twiets vlieg oor en weer ná ’n mummie van 1 500 jaar oud in die Altaiberge in Mongolië gevind is, en foto’s wys die mummie, ’n vrou, het ’n paar moderne Adidas aangehad.

Aanvanklik is gegons dat die vrou hedendaagse tekkies aangehad het, maar kort voor lank het iemand besluit dit was juis Adidas.

Dit het op sy beurt die sluise oopgetrek vir die aanhangers van die samesweringsteorieë, naamlik dat die geheim van reise oor tydsgrense heen lankal moontlik was, of dat die hele ding ’n reklamefoefie vir Adidas was. In hierdie kringe word nie eens vir ’n oomblik oorweeg om die argeoloë te glo dat die mummie se skoene op niks buitengewoons vir daardie tyd dui nie.

Trouens, die publikasie wat die storie oor die vonds van die mummie aanvanklik gedra het, die Siberian Times, het glad nie na die skoene verwys nie, maar ’n groot ophef gemaak oor hoe gevorderd van die ander toerusting was wat saam begraaf is, en wat die dame op haar reis na die hiernamaals moes gebruik. Daar is selfs ’n perd saam met haar begraaf, en die stang is baie gevorderd.

Maar dis die tekkies waaroor die mense op hol gaan, of soos die Amerikaners dit noem, “sneakers”.

Oom Herrie bly verstom oor hoe mense sonder die nodige opleiding en kwalifikasies behoorlike navorsingswerk sal sit en kritiseer op grond van inligting wat hulle van ontkenners of samesweringsaanhangers se webwerwe af kry. Maar dis seker maar elke mens se demokratiese reg om sy eie naam met ’n plank te slaan. Net jammer oor die venyn waarmee die kundiges in die proses bygedam word.

Jare gelede het Pa-Jan vir sy kroos ’n stelletjie tweerigtingradio’s van oorsee gebring. Dit het ure lange plesier en vindingrykheid geverg om dit na behore te “benut”. Soos om die een stel Vrydagmiddae in die posbus by die sypaadjie te sit, en dan die dronkies wat verbykom oor hul aangeklamde toestand aan te spreek. Die reaksie op die pratende posbus was uiteenlopend – van ’n onmiddellike bieg en beloof dit was die laaste keer, tot ’n erge woordewisseling.

“Dis eintlik jy wat gesuip is!” raas ’n dronkie met die posbus voor hy doelgerig met vier rye spore sy reis voortsit.

Nou ja, dan kan ’n mens vir die argeoloë seker ook toesnou hulle ken nie hul veld nie, daai is inderdaad moderne Adidas waarmee die mummie spog.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bloues ·

Aijaijai. Ek giggel en ek sien daai dronkie in ‘n ernstige gesprek met die posbus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.