Oom Herrie se kerrie: Die omgee-hand

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Kankerpasiënte het normaalweg ’n gebrek aan eetlus, en daarom word allerlei vitamienverrykte drankies en aanvullers aanbeveel. Sommiges peperduur.

Maar oom Herrie het twee soorte kanker, en vir die een kry hy onder meer elke drie maande ’n hormooninspuiting. En daai inspuiting wek weer ’n gesonde eetlus aan.

So gebeur dit selde dat oom Herrie hom nie die een of ander tyd deur die loop van die nag in die kombuis bevind en ’n strooptog op die koskaste uitvoer nie. Soms meer as een keer per nag.

Om nie die hele huis te wek nie, glip oom Herrie gewoonlik so in die donkerte uit die bed en gaan voel-voel die gang af. Onderweg word die werkskamer se staalhek oopgesluit sodat die honde ’n draai buite kan gaan loop. Met die hek steeds oop word tot in die kombuis gevoel-voel, waar die kombuislig aangeskakel word. En so staan oom Herrie die afgelope week seker so twee-uur die oggend voor die oop yskas en probeer uitmaak wat nou die hol kol doeltreffend gaan vul.

Dis toe dat daar skielik ’n hand spookagtig stil oor oom Herrie se skouer kom en na iets in die yskas wys. Gelukkig was oom Herrie te deur die slaap om betyds behoorlik te skrik, en voor die groot skrik volg, kom die bekende stem van agter: “Dis joune s’n.” En hy wys na ’n stukkie melktert.

Dis ons jongste. Hy is outisties, en het ’n beperkte woordeskat wat hy ook met moeite uitspreek.

Maar toe hy middernagtelik wakker word en besef sy pa is in die kombuis, voel hy dis sy plig om te gaan uitwys dat die stuk melktert wat ná vroulief se verjaarsdag oorgebly het, myne is. Ook het hy gevoel dis onnodig om iemand wat nog nie klaar wakker is nie wakker te maak en die kombuis in doodse stilte genader.

Oom Herrie se emosies is in ’n warboel. Wat ’n voorreg om ’n seun in die huis te hê wat soveel vir sy pa omgee dat hy daai tyd van die nag sal opstaan en die blye nuus oor die stukkie melktert gaan oordra? – Al het die pa nou ook amper ’n hartaanval gekry.

Dis ’n wonderlike gesin. Vroulief offer ongelooflik baie op om oom Herrie deur die siekte te help. Ouboet is ver by Bothaville, maar as hy tuis is, werk hy soos ’n slaaf om dinge wat agterweë gebly het weer reg te kry. Met die Kersete in ’n eetplek wat ’n mens ’n hele klomp trappe moes klim, was oom Herrie behoorlik deur sy seuns “omsingel” soos hulle met die trapklimslag ’n oog gehou en bystand verleen het. Ná die ete en met die trap af, dieselfde storie.

Ja, daardie hand wat my so laat skrik het, is eintlik ’n hand wat omgee, en daar is ses sulke hande in die gesin. Wat ’n voorreg.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Johann ·

Oom Herrie, ek sou skoon in die yskas ingeduik het van skok! Dan was die stukkie melktert en die yskas des dinges stukkend, die hele huishouding wakker en die honde almal saam onder die naaste bed! Ek is só bly Oom voel al bietjie beter. Ons hou die vordering met intense belangstelling dop. Dankie aan al die helpende hande wat na die Oom omsien. Ek dink die Tannie weet van die nagtelike eskapades, maar glimlag tog te lekker daaroor. Onthou, daar is nóg twee onsigbare helpende hande wat oor Oom Herrie waak. Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.