Oom Herrie se kerrie: Die ou man in die reën

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Dit is al sterk skemer en die reën sif saggies neer. Die boer en sy vrou sit aan tafel en nuttig aandete toe hulle die ou man aangesukkel sien kom, en op sy tassie langs die spoorlyn gaan sit net voor dit die teerpad kruis.

“Ek wonder wat is sy storie?” vra die boer. Daar loop al jare nie meer treine op hierdie spoor na Maroelaoord in die berge nie.

Die boer loop met ’n sambreel uit in die reën en gaan hoor by die ou man, wat van die arbeidershuise oorkant die pad kom, wat sy storie is.

“My kleindogter in Maroelaoord is baie, baie siek, en ek moet vir haar mirresyne vat,” sê die ou man eenvoudig. “Boegoe en marog spesiaal behandel,” sê hy.

“Hier ry mos nie meer treine nie,” sê die boer. “Kom ek neem jou gou met die kar Maroelaoord toe.”

Maar die ou man skud sy kop. “Die trein sal kom; die mirresyne verloor hul krag tensy dit met die stoomtrein saam ry.”

“Nou maar kom wag dan ten minste in die huis. Ons sal ’n trein betyds hoor aankom.”

Die ou man skuifel saam huis toe, en aanvaar dankbaar ’n beker stomende koffie.

Skielik skrik die boer en sy vrou. Daar was onmiskenbaar ’n stoomtrein se gefluit in die verte. Die boer gryp sy sambreel en hardloop vooruit om die trein te probeer keer. Seker ’n spesiale toeriste-prettrein na die berge toe.

Hy gaan neem stelling in op die spoor, en sien die trein se lig helder aankom. Die boer beduie, en toe die lig op hom val, fluit die trein twee keer om te beduie hy is gesien. Die boer bly beduie die trein moet stilhou, en die boer sien hoe die vonke uitslaan toe die rem aangeslaan word. Die lokomotief kom net voor die spooroorgang tot stilstand. Dis ’n goederetrein.

Die masjinis en stoker is vriendelik, en die boer vra verskoning. Hy beduie die noodgeval van die ou man se kleindogter wat so siek is.

“Laat die ou man by die wag in sy wa agter saamry,” stel die vriendelike masjinis voor. “Dis geriefliker daar as in een van die goederewaens.”

Ook die wag is vol begrip en vriendelik, en help die ou man om in te kom. Dan hang hy sy lantern uit en swaai dit op en af om te beduie dat die trein maar kan vertrek. Stoom-stoom en met vonkies wat by die skoorsteen uit trek, vertrek die trein knarsend.

“Ek wonder wat gebeur by die ryk Bezuidenhouts se plaas?” dink die boer. Hulle het eenvoudig ná die treine ophou loop het die spoorlyn weerskante van die plaas toegekamp.

Die volgende aand was die boer en sy vrou weer aan tafel toe daar ’n klop aan die voordeur is. Die gryskopvrou by die deur lyk aarselend.

“Ek dink nie u-hulle is meer dieselfde mense wat destyds hier gebly het nie,” sê die vrou. “My oupa het altyd gevra as ek eendag hier kom, moet ek die mense kom dankie sê dat hulle hom destyds gehelp het om die trein te stop om vir my, toe ek kleintyd so siek was, medisyne te bring. Daardie medisyne het werklik my lewe gered. En toe ek van Kanada, waar ek al jare woon, vir sy begrafnis kom, besluit ek om aan sy versoek te kom voldoen.”

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SuzieQ ·

Puik, soos altyd Mnr.Toerien. Wat van ‘n bundel met al u stories. Ek is seker dit sal opgeraap word by die boekwinlels.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.