Oom Herrie se kerrie: Die ringsitting

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Die Herries se gemeente was die naweek gasheer vir ’n ringsitting. Mev. Herrie het ook gaan handjie bysit, en soos oom Herrie verstaan, kon die besoekende predikante, ouderlinge en diakens, mans en vroue, niks anders as met lof van die susters se regstaan praat nie.

Wat oom Herrie laat dink aan die ou storie. ’n Gemeentelid het ’n probleem wat sy met die dominee wil bespreek, en bel pastorie toe waar Mev. Dominee antwoord.

“Kan ek asb. met die dominee praat?” vra die vrou. “Nee, ongelukkig nie, hy is op ’n ringsitting,” antwoord Mev. Dominee.

“Ag dis niks, ek sal maar ’n rukkie aanhou,” sê die beller.

Nou ja, dis ook al jare sedert die middagete by die sinode aangebreek het en die broeders kerkraadslede en dominees in ʼn manelpakke Bloemfontein se strate ingevaar het.

En ja, oom Herrie ken die storie van die ferskriklike, ekskuus, verskriklike lekker hamburgers en restourant wat na die restourantbaas met sy Friesiese van, Fokkert, vernoem is, wat die kerkraadslede een jaar ontdek het. Maar dié storie kan nie in goeie geselskap vertel word nie, en daarom sal oom Herrie ook nie vertel van die volgende jaar se sitting toe die dominee en ouderling met die aanbreek van die etenstyd so uitsien na die heerlike F^&%$rt hamburgers by die F&^%$rt restourant nie.

Die diaken wat vir die eerste keer saamgekom het, kan sy ore nie glo nie, en hy val in: “Ai, as ek geweet het julle twee is sulke f*&^%n sports, het ek vir ons almal f&^%$n terte gereël.” Maar oom Herrie sal die storie liefs nie vertel nie.

Die week hoor oom Herrie ’n ware verhaal wat oom Herrie se hart warm laat klop. Toe ’n man, kom ons noem hom sommer Koos, se broer sterf, los Koos sy vrou en gaan trek by die weduwee in (want daar is toe meer geld).  Koos is so vrygewig om die huis vir sy gewese vrou te gee, op voorwaarde dan betaal hy g’n niks onderhoud nie.

Maar hy meng al met sy eks, ons noem haar Marie, se hantering van die huis in. Sy mag nie loseerders inneem nie, mag nie die huis verhuur nie, en so aan. Eendag is hy weer daar, en soek net erg moeilikheid. Marie het genoeg van Koos, en daag hom om nader te kom dat sy hom kan regsien. En hy kom nader. Fout. Marie is reg vir hom, en skop hom daar waar g’n man geskop wil word nie. Toe hy vooroor vou, moker sy hom teen die kop dat die bloed loop.

Koos sit af polisiestasie toe en gaan lê ’n klag van aanranding teen Marie. Die polisie ken egter toe al vir Koos en sy streke goed, en toe die konstabel by die huis opdaag om die klag te ondersoek, skud hy eers Marie se hand en wens heer geluk met die medisyne wat sy vir Koos uitgedeel het.

Na Sondag se kerkdiens, met die teedrinkery, gesels oom Herrie met ʼn man, wie se driejarige seuntjie nader staan. Die knapie het ’n lelike sny op die voorkop, met ’n netjiese knop daaronder.

“Te rof op die banke gespeel,” beduie die pa. “Ongevalle toe waar die wond geplak is.” Oom Herrie, wat nou een oggend donker in ’n oop deur vasgeloop het, kan saamgesels. Daar sit nog bietjie rowe. Die knop is min of meer gesak, so die harsings het nou nie meer die luukse van daardie tydelike “spaarkapaiteit” nie.

Die pa vertel. Na die kopstamp kom die knapie kombuis toe waar sy ouers doenig was. En die bloed drup uit die wond. Die worshondjie kom al agterna en lek die bloed op. Toe die knapie gewaar hoe die hondjie sy bloed oplek skree hy: “Los, los! Dis myne!”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae