Oom Herrie se kerrie: Die verbode kleure

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Die ophef wat gemaak is oor twee Matie-studentemeisies wat hulself pers gekleur het vir ’n ruimtetemapartytjie, is nie die eerste politieke ophef oor ’n kleur nie.

’n Klompie jare gelede het ’n Vrystaatse LUR wat nou nie juis in haar werk uitgeblink het nie, die kleur oranje probeer verbied. Onder meer wou sy die Vrystaatse sportspanne verbied om in oranje te speel, en die Oranjerivier se naam verander.

Oom Herrie is juis teë daarop dat die Cheetahs in die ou Vrystaatse wit truie speel – dit herinner oom Herrie te veel aan daardie tyd toe OVS gestaan het vir “Ons verloor Saterdag”.

Maar ’n verbod op oranje het baie ander implikasies en komplikasies. Waarmee gaan die ghwarre die ander toeskouers by die rugby pot as oranje nartjies taboe is? Met geel suurlemoene? En hoe gaan die vuurwater nou proe wat in ’n suurlemoen ingespuit is om by die hekke ingesmokkel te kry?

En, ai, hoe nostalgies raak oom Herrie oor die tyd toe hy nog self gespeel en rustyd lemoentyd beteken het. Kyk, daai skyfies lemoene het darem vorentoe gesmaak. Nou is dit net so verbode soos om na die noodhulpmanne as die pynpolisie te verwys.

Maar hoe nou met ’n Vrystaatse verkeerslig se oranje gemaak? En die verkeersligte is juis op dun ys met sy groen, ongeag of dit nou lig- of donkergroen is.

Maar dié ding oor pers het ’n lelike potensiaal. Dink maar as iemand aan ’n stukkie biltong stik en hy naderhand pers word van asemnood. Om dan nog boonop van rassisme aangekla te word.

Iets waarmee oom Herrie saamstem, is dat die mans wat hul vroue so vol pers kolle slaan ook van rassisme aangekla moet word. Maggies, hierdie lamsakke skrik nie vir die aanrandingsvonnisse nie.

In die Herries se huishouding eet niemand behalwe oom Herrie die swart gekleurde, dropgegeurde lekkers nie. Dus kry oom Herrie al die swart lekkers, want oom Herrie is dol oor drop. Ook, as oom Herrie dit in die hande en tande kan kry, die zoute drop waarvoor die Nederlanders so lief is.

Maar eintlik huil oom Herrie. Wanneer gaan Suid-Afrika volwasse word?

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rupert Ashford ·

Laat jy my nou terugverlang na Bloemies en die tyd toe ons gesin daar aangekom het in die middel 80’s met Johan van Wyk se skrywes in “daai ander koerant” en die Vrystaat se slegste vertonings op die rugbyveld. Hy het voorgestel dat hulle naam verander na OVES – “Ons Verloor Elke Saterdag”…OHOPOHO!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.