Oom Herrie se kerrie: Die verlore tas

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Groot Herrie se meisie se hart is baie seer en daarom is al die Herries se harte seer, want ons is almal baie lief vir haar. Sy het die vakansie uit die Kaap by Groot Herrie op Bothaville gekuier en is met die bus van Klerksdorp na Bloemfontein, vanwaar sy en ’n neef saam verder Kaap toe gery het.

Maar in Bloemfontein was haar tas skoonveld, splinternuwe Kersgeskenke ingesluit.

Die saak is nou in die hande van die polisie, maar dit laat oom Herrie aan ’n ander tasvoorval dink van jare gelede.

Oupa Herrie en ouma Lita het op Nieuwoudtville gebly, maar Desembers is Mosselbaai se koers toe ingeslaan om die voetjies te laat hang. Kortpad deur die binneland.

Oupa se kar destyds het nie ’n kattebak gehad nie, maar agterop was ’n “carrier” waaraan die tasse en ander bagasie vasgestrêp is. En daai tyd was dit hoedetyd. Ouma het dus ’n hoed vir elke dag ingepak, plus nog so ’n klompie spaar-hoede. Sy het jare daarna nog die ronde tasse gehad.

Die drie kinders het op die agterste sitplekNuw gery, die twee seuns weerskante van sus Essie sodat die baie hekke om die beurt oopgemaak kon word. Soms was ʼn mens gelukkig en het ’n bruin kind op die spatbord opgelaai gekry wat dan vir ’n ietsie die hekke oopgemaak het, en dan weer so ’n geleentheid terug huis toe gesoek het. Dié keer het so ’n hekoopmaker saamgery.

Wie dit agtergekom het wis oom Herrie nou nie, en dié wat sou weet is algar nie meer met ons nie. Maar dit blyk een van die hoedetasse het oopgegaan en toe al vir baie myle hoede geverloor.

Ouma gelas daar moet teruggery word en haar verlore hoede herwin word. Geen rede oor meer as genoeg hoede wat oor is het enige indruk gemaak nie. Die hekoopmaker staak – hy wag maar vir ’n geleentheid maak nie saak waffer kant toe nie.

En so moes pa-Jan en oom Rons met hul kleuterbeentjies vir myle agter tollende hoede aanhol tot de laaste een gekry en behoorlik vasgestrêp geraak het. Pa Jan het altoos lekker gelag as hy die storie vertel; oom Rons was nukkerig, en tannie Essie het tot haar dood gesê sy weet van die hele moord niks.

Oom Herrie het gewoonlik nie veel Nuwejaarswense nie. Teen Oujaarsaand bly daar gewoonlik net twee oor. Die een is dat oom Herrie wens dat die mense wat sulke groot klappers afskiet wat baie diere tot die dood verskrik, ’n verskriklike kramp moet kry. Die ander is dat die knaap wat so met sy tjorrie deur die woongebied jaag en laat “backfire” se tjorrie ’n klomp enijinonderdele saam uit-“backfire”. Vanjaar het oom Herrie nog enige by – dat die een wat Leandri se tas gezooi het in sy hele lyf vreeslike krampe kry sodat hy nooit weer lus het om hom aan iemand anders se goed te help nie.

Eers later, wanneer oom Herrie se bui gesak het kom die gewone Nuwejaarswense terug. Soos goeie gesondheid, dat oom Herrie se geliefdes gespaar sal bly, en dat die mensdom homself nie uitroei nie. En dat Cophsees hulle “all English”-beheptheid sal herroep en weer Kovsies sal word

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae