Oom Herrie se kerrie: Die vyfde gaatjie

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Desember 2014, op my sestigste verjaardag, het ek by vriend Matie ’n bruin gordel gekry. ’n Hoogs tydige geskenk want my ou bruin gordel was nie meer geskik vir  openbare gebruik nie.

Teen daardie tyd het die meeste broeke al soos sakke aan my gehang – met geen manier waarop ’n mens hulle sonder gordel bo sou kon hou nie.

Met die aanpasslag wonder ek of die gordel ’n gaatjie so ver terug sal hê dat dit stewig om my middel vastrek, maar ek was verniet bekommerd – die vierde gaatjie doen die “triek”.

So mettertyd let ek hoe die gordel egter nog stywer trek – die derde laaste gaatjie, die tweede laaste gaatjie, die laaste gaatjie.  Daar haak dit darem vas.  Ek kry selfs ’n kilogram of wat bygesit – van die laagste, 70 kg op die veearts se skaal toe ons honde, Wolf en Nala geweeg is, tot 72,2 kg op die apteekklinieksuster se skaal tot 73 kg op die dokter se skaal. Op geen manier te lig vir iemand van my lengte nie.

Maar intussen raak daardie laaste gaatjie ook al losser.  Kort voor ek weer dokter toe is, maak ek die vyfde gaatjie met ’n dun skroewedraaier. Nie lus vir ’n openbare verleentheid nie.

Maar dit is om die een of ander rede daardie vyf gaatjies wat in pa se kop kom steek het, en veral die vyfde gaatjie.

Daar is ’n keuse om die vyf gaatjies positief of negatief te ervaar.  Gaan ’n mens ’n kankerlyer, of ’n kankervegter wees?

En moet my geensins verkeerd verstaan nie – ’n mens kan niemand verkwalik wat die lyer-opsie “kies” nie. Die prosedures om by die regte diagnose te kom is nie altyd aangenaam nie, en sommiges is gewoon bitterlik seer. Die pyn wat sekere soorte kanker veroorsaak is onbeskryflik. Gaan trap op een van daardie klein skerpioentjies sodat hy jou voet klits. Bysteek en perdebysteek, bloublasie … nie een kom eens amper naby nie. Nou, gaan versprei daardie pyn oor ’n groter area, en laat dit onverpoosd voortduur…

Nee, ek het nie kanker met sulke pyne nie. Ek het wel ’n gewas in die kop gehad wat periodiek so kloppend pynlik dae lank van hom laat hoor het. Dit wat ek nou het veroorsaak jig – pynlik maar nietig en daar is middele. Sommige soorte kanker se prognose is goed, ander s’n minder goed.

Die speelveld is nie gelyk om ’n keuse te maak om ’n kankervegter of ’n kankerlyer te wil wees nie.

Maar kom ons kyk na die keuses as dit met die Heer se genade moontlik sal wees:

  • Gaatjie een:  Slaggat of die gat waarin die anker haakplek kry. Die ander gat laat struikel en kan skade aanrig.  Die anker hou die skip veilig.
  • Gaatjie twee: Die donker gat waar vrese skuilhou, of die gat in ’n stewige rots teen ’n krans waarin die rotsklimmer se voet ’n veilige vastrapplek vind. Juis uit die era toe die gewas in my kop was, sit ek weer by geleentheid in ’n lang tou en wag vir X-straalplate. Dis ’n swaarmoedige tou. Nie een daar is daar omdat hy of sy daar wil wees nie. Maar een ou Engelse tannie is blymoedig op en af in die tou. Sy vra belangstellend uit, bemoedig. Toe is sy self weg vir haar plate, en vertel iemand haar verhaal. Sy lê in Port Elisabeth in ’n suurstoftent. Een keer elke paar weke word sy die meer as 700 km Bloemfontein toe per ambulans gebring. Sy is die vorige week ook gebring net om te verneem daar was ’n administratiewe blaps gemaak en moet onverrigter sake teruggestuur word.
  • Gaatjie drie: Die tronksel of die skuiling vir huis en haard. Nie alle tronkselle is selle waarin iemand anders jou teen jou sin in toesluit nie. Die grens tussen ’n veilige skuiling waar jy jou kosbaarstes, jou gesin, teen gevare skut, en die tronksel waar ’n mens se inwaartse keer oorboord gaan, is soms ragfyn. Moenie in die proses wat jy ’n kankervegter is, jou geliefdes kankerslagoffers maak nie. Gebruik die grasietyd om elkeen “af te rig” vir sou veggees alleen nie genoeg gewees het nie.
  • Gaatjie vier: Die laaste van die gaatjies waarmee die gordel gekoop is. Die rioolput, of die gat waarin ’n nuwe boom of struik geplant word. (By die uwe is daar ’n uitdaging – dis een ding om te plant, maar ’n ander ding om dit geplant te hou – Wolf en Nala wil ondersoek instel na die gewoel en graaf meer as dikwels die geplante plante uit. Boonop, as dit rabarber is, lol dit want Nala is ’n rabarber-junkie.)  Gaan verwyt ek die Here vir die situasie waarin ek beland het, of gebruik ek die grasietyd vir daardie ding? “Gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies.” Elkeen volgens sy eie talente en gawes.
  • Die vyfde gaatjie: Ons heelal is vol gravitasiekolke, sommige enorm, wat trosse hemelliggame insluk en tot nietige korrels saampers. Vir sommiges is dit soos die sogenaamde swart gat. Ander neem kennis van die enorme hoeveelheid energie wat ontsnap te midde van ruimtemusiek. Soms gee dit soveel lig af dat dit ’n groot deel van die heelal verlig. Gaan die grasietyd jou lig in ’n donker gat wegsluk of gaan jou grasietyd vir ander ’n bron van lig wees?

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Gesondheid, Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bruno Stef ·

Herman wat se n mens in sulke omstandighede aan n ander persoon Ek het persoonlik die pad saam met nabye familie lede vir jare lank gestap maar n mens kan in woorde dit nie uitdruk wat so n persoon self deurgaan nie.Ek weet net Clive Rice en Lucas Maree was tot op die ou end baie positief.n Bron van lig en leiding is defnitief iets wat in hierdie tye sterk benodig word dankie vir al die positiewe bydraes van jou kant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.