Oom Herrie se kerrie: Dis beurtkrag se skuld!

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Mev. Herrie vertel van die man wat een aand deur ’n verkeersbeampte voorgekeer is. Vir diegene wat nie weet wat ’n verkeersbeampte is nie, dis ’n spietkop met ’n hart.

“Meneer, u een agterliggie werk nie,” sê die ridder van die hoofweë.
“O,” sê die motoris. “Dit moet beurtkrag wees.” Na die twee lekker gelag het, en die motoris beloof het dat hy dadelik werk daarvan sal maak, is hy laat gaan.

Nou wonder oom Herrie maar vir hoeveel dinge het beurtkrag al die skuld gekry? ’n Vriendin van die Herries het derduisende rande skade gely met beskuit wat sy om’t brode bak. En toe sy doodseker maak dat sy binne die beurtkrag-skedule die degie in die oonde sit, toe wyk die kragtelose mense van die skedule af.

Kyk, oom Herrie se dag het darem self liederlik verkeerd gestaan toe dit die dag van sesuur die oggend af die Herries se skedulebeurt was om beurtkrag te hê, en spesiaal vroeg opgestaan is om belangrike werk voor ses klaar te hê. Maar die krag bly aan, en twaalfuur – ses ure laat, woeps af is die krag en ʼn klomp werk verlore.

Maar dis niks, vind oom Herrie uit. ’n Tandartspraktyk maak geen afsprake binne die skeduletyd nie, al word vermoed dat die krag gaan aanbly. Maar dink nou net die gemors as dit buite die skedule is, en die krag gaan uit wanneer die tandetrekker besig is om daar in die wortels rond te boor? Of al daai goed wat mens so naar maak is in ’n mens se mond gedruk om plate te neem, en net as die tandarts die knoppie druk gaan die ligte dood?

Kyk, as oom Herrie ’n tandeman was, en dis die prez of ’n minister wat daar met ‘n mond vol naarmaakgoed sit wanneer die krag uitgaan, laat oom Herrie hom net daar sit tot die krag weer aangaan. Oorle apartheid het mos klaar die blaam gekry, so oom Herrie kan net sowel ’n voordeel daaruit trek. Maar dit laat oom Herrie dink aan die slag toe die prez met ’n onlekker tand by die tandarts beland het. Die prez se afspraak is ingedruk, en die tandarts is half onlekker daaroor. Die tand net een kyk gegee en gesê dit moet waai. Vir sulke gevalle hou hy ’n beesspuit aan, en spuit goed dood.

“Skop goed vas op die sitplek. Dis ʼn bielie van ’n tand en ek moet baie krag gebruik.”
Die prez skop vas net toe die tandarts begin trek. Met die vaskopslag skuif die prez met sy fondament in ’n haakspeld waarin van ’n vorige pasiënt op die stoel agtergebly het.
“Wag, wag!” gil die prez. “Los hom maar, sy wortel sit diep.”

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.