Oom Herrie se kerrie: ‘Dis mos die specials van die lewe’

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

“Ons kyk nog net die specials, oom.”

So sê die een verpleegkundige, skoonmaakster, kosbediener of wie ook al na die ander wat deur die koerant op die trollie by oom Herrie se hospitaalbed se voetenent kom blaai.

“Nee, dis te erg wat daar buite aangaan.” Van hulle is studenteverpleegsters wat deur die studente-onluste geraak word. Van hulle kom van baie ver en weet nou nie of hulle die jaar suksesvol sal kan voltooi, of wanneer hulle weer by die huis sal kan kom nie.

“Wat gaan met die land van ons aan, Mpho?” vra oom Herrie een van die vriendelike verpleegsters wat gewoonlik nie op haar mond geval is nie. Sy is eers stil en oom Herrie dag sy gaan die vraag ignoreer. Dis oom Herrie se werk om te weet. Maar Mpho het diep gedink.

“Ek dink dis van al die promises wat mense maak en nie by hou nie. Ek sê nou die dag vir my man, ek kyk, luister of lees nie meer nuus nie. Dis te depressing.”

Die verpleegkundiges is nie net depressed nie. Buurman was die Vrydagoggend al van vieruur die oggend doenig. Hy gaan ná ’n week in die onkologiesaal huis toe, na Aliwal-Noord toe. Die laaste twee dae praat hy tydig en ontydig oor die skaapribbetjie wat die Vrydagaand op sy bord tuis sal wees. Die Donderdagaand is hy met ʼn tjoppie op sy hospitaalbord verras, en van toe af kan hy nie genoeg komplimente oor die hospitaalkos uitspreek nie.

Oom Herrie is self mal oor hospitaalkos.

Teen vyfuur die oggend is buurman klaar gebad, en gepak. Hy kry nog bietjie behandeling tussenin, maar vroeg is die druppe uit en die onkoloog het hom ontslaan. Nou sit en wag hy vir sy seun en skoondogter om hom te kom haal … al die pad van Aliwal-Noord af.

Oom Herrie luister na sy stories, maar kort-kort is die skaapribbetjie weer genoem. In ʼn stadium laat weet die kinders hulle is nou net deur Reddersburg. Die komhaalslag in die Rosestad is naby. Maar later is hy bekommerd, want hulle moes al uitgekom het.

Oom Herrie was in die badkamer toe die een verpleegster by die wagtende oom in die kamer inkom, en vir hom sê die skoondogter het gebel. Iets het voorgeval en hulle kom hom eers die volgende dag haal. Buurman wil-wil nog ontsteld raak toe stap die skoondogter laggend kort op die verpleegster se hakke in. “Maar jy sal nou maak dat ek ’n kurk gryp en jou deur die hospitaalgange jaag!” En toe word gekraai van die lag.

Dis by geleenthede soos hierdie dat ’n mens weer besef hoe ’n voorreg dit is om ’n leraar en vriend soos dr. Johan Nel te hê. Hy kom kuier, en ons gesels land en sand oor dinge op die hart. Tussenin word druppe ingesit en met oom Herrie gewoel, maar dominee bly geduldig. Dan diep gebid en is hy vort. Hy het nog ’n lidmaat in die onkologiesaal wat hy wil gaan besoek.

Dan, wanneer dit donker word in die kamer besef ’n mens weer hoeveel daar is om voor dankbaar te wees … vir ’n wonderlike vrou wat gereeld kom inloer, ’n gesin wat omgee, aanstaande skoonmense wat omgee, Facebookvriende wat wonder wat van oom Herrie geword het (die uwe is baie skielik opgeneem), die gemeente se omgee, die personeel by die hospitaal, die begrip en geduld daar waar oom Herrie se geldjies vandaan kom …

Juis noudat dit so lekker in die land brand, was oom Herrie se kuberpen op Maroela Media stil … Maar daai kuberpen gaan nou baie praat, en die lesers gaan saamstem en verskil, soos dit mos hoort. Want oom Herrie leer nog baie. Soos die drie dae in die hospitaal van geloof, omgee, simpatie, opbeuring, positiwiteit … Dis mos die specials van die lewe.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet Snot ·

So trek ons nou voordeel uit jou moeilike tyd.
Dankie, Oom Herrie.

John ·

Oom Herrie stadig tog net met die kerrie want hier is hoeka te veel daarvan in al wat gereg is, selfs in die souskluitjies … dit loop al by ons ore uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.