Oom Herrie se kerrie: Engels, Engels, Engels

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Afrikaans is ’n wonderlike, beskrywende taal. Oom Herrie lees nou die dag die 50-jarige jubeleemboekie van die NG Kerk Nieuwoudtville. Dié gemeente het sedert die boekie verskyn het, al vergeet nog ’n halfeeu bygesit.

Nieuwoudtville is in die Namakwaland geleë, en dit spreek vanself dat die vertelstories daaruit wil-wil drup.

Maar dis die beskrywende Afrikaans waarmee die verhaal vertel word – van goeie jare met groot dankbaarheid, tot bitter swaar jare wat biddend in die geloof deurgegaan is, wat so boeiend is.

Regte boereverneukery was daar toe ook al. Die bekende dr. Willem Steenkamp, eers predikant, toe mediese dokter en daarna politikus, se pa was ’n vermoënde man, en het groot naby Calvinia geboer. Maar die ou man kon nie lees en skryf nie. Sy Kaapse agent aan wie hy sy wol en velle verkoop het hom jare lank “kwitansies” laat teken, maar op ’n dag blyk dit die oubaas het al die tyd skuldbriewe geteken toe die agent dit opvra. Die ou man is uit alles uit, en dit het maar raap en skraap gekos om sy kinders hul geleerdheid te besorg.

Toe die gemeente Loeriesfontein afstig, is die grense beskryf, met die een grens heel sprekend: Moedverloor. Dis juis as domineesgoed in daai geweste gaan huisbesoek doen het dat mev. Dominee en die ouderling so die kar teen die duine moes uitstoot. (Duidelik kon mev. D nie kar bestuur nie).

Een van die eerste plaasmoorde word ook genoem, toe Jonker Afrikander by De Toren ʼn boeregesin oorval het. Jonker en sy volgelinge het tot anderkant die Oranjerivier uitgewyk waar hulle later ook die Duitsers baie probleme sou besorg het.

Maar die Engels. Toe dit nie meer anders kon nie en die skool wat al wat beskikbare ruimte op die dorp opgeneem het uit sy nate bars, was die Kaapse regering se hande toe. Die administrateur, Sir Frederic de Waal, se hand is ook toe, want die skoolhoof wou glo tydens die Tweede Wêreldoorlog nie dat die kinders Tipperary sing nie.

Dis toe dat die Sir ’n delegasie van Nieuwoudtville ontvang (die kerk het die dorp gestig), en toe hy nog dink hy is hooghartig, toe vat dr. Steenkamp hom vas en trap hom so uit dat die skool die bougeldjies kry, en die skoolhoof laat weet word die kinders hoef nie Tipperary te sing nie.

Maar op die platteland was Engels gewoonlik baie skaars. Oom Herrie het self eendag ʼn amptelike staatsgas van Duitsland na ’n boerdery by Jacobsdal geneem. Die Duitser se Afrikaans was nie wat dit moes wees nie, en die arme boer se Engels het geheel ontbreek. En die Duitser was vol vrae. Toe die boer nie weet wat ’n bul in Engels is nie, besef oom Herrie hy sal maar weerskante toe moet tolk.

Selfs op oom Herrie se grootworddorp, Stellenbosch, was Engels doerrietyd maar skaars. By geleentheid gaan hou ’n gevierde atletiekafrigter van die dorp saam met sy gesin vakansie. Hulle kamp net buite Durban, en gee die vier seuns elk ’n hand vol geld om die strand en stad te geniet. Nie lank nie is die oudste. François, terug, vreeslik die hoenders in, en slinger die geld die bosse in.

“Hier beteken geld ook niks. Niemand verstaan Afrikaans nie!” raas hy.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae